MET LEEDWESE
Ek het nie reg gemaak met jou nie Pa
wou nie dat jy by my in-kyk nie
het weggeskram van alle praat
en aan-raak met `n stywe rug vermy
die wig wat tussen ons sou bly
tot met jou sterwe vroeg in Mei
toe jou gesig so naby was
wou ek verduidelik
in die halflig van `n dodekamer
dat ek bang was
dat jy my drif sou ken.
Ek het gesien hoe jy al-wetend kyk
jou oë tergerig as jy my toevallig teëkom
hoe ek in die gang jou blik ontduik
wanneer `n kêrel aanklop voor die dans
jy het geweet hoe ek al vroegaand liggies sweet
en dat die polsing van die trom en basviool
die glytoon van saksofoon
my oor die rand sou stoot
tot in die nag `n warm hand
die bandjies van my flambojante rok
laat glip oor die sonbruin skulp
van skouers en hals
tot alles kartelend oop was
hoe ek en hy uitasem
die ritme van die nag sou ry –
want jy was self `n sater van `n Pa
die tekens het jy immers
op jou vingerpunte saamgedra
voortaal en spel was vir jou mooi
ja jy het geweet
alles was uitgeknip om te verlei
ek het jou skrams gegroet
die geur van Worth-parfuum
het in die gang bly hang
toe jy so skuinskop
in die voordeur agterbly.
Ek het nie reg gemaak nie Pa
omdat jy naby was
en uit dieselfde seebamboes gesny.
© Zandra Bezuidenhout. Mei 2011
Dankie vir kommentaar op ‘n gedig wat lank gelede geplaas is, Zelda. Dis ‘n gedig oor ‘n situasie wat my na aan die hart lê, soos jy dit klaarblyklik aangevoel het.
Zandra
Hartvol Zandra!