Louis Esterhuizen. Fotoverslag: Die toewyding van ‘n groenteboer
Onlangs moes ek ‘n Agterstoep-bydrae lewer vir rooi rose. Die inspirasie tot my stuk was ‘n foto wat Marlise se seun, Pierre, vir ons gestuur het. Ongelukkig het rooi rose se templaat nie die gebruik van foto’s by Agterstoep toegelaat nie en het die foto dus agterweë gebly.
Maar – Pierre het toe met verloop van tyd vir my die hele reeks foto’s gestuur en dié foto’s vertel eintlik ‘n besonderse verhaal. Met sy vergunning plaas ek dit hieronder.
Vir jou naweek se leesplesier plaas ek ‘n toepaslike vers onderaan.
Phaseolus vulgaris
Boontjie kom stil, wit skouertjies eerste, op.
Boggelding hou twee groen vlerkies ingevou;
sy hou haar dag lank in voor die tweeling ontvou
en sonskerm word. Groen sambreel se top
gooi ‘n skaduwee skraps oor dit wat jy geplant
het. Vier panele nou, wat lig en lug opvang
rondom die stewige stam: son- en windbestand;
‘n hemelbed, gereed om nasaat te ontvang.
Dit verg nog net vier etmale alvoor die blom
in kelke uit sal bot, ‘n werkerby of so ‘n ding
wat stuifmeel dra om by die kiemsel uit te kom.
Dan begin die aarde weer haar oeslied sing:
Op ‘n goeie dag hang daar van die tweelobsaad
‘n tros stywe trulletjies – van goed én van kwaad.
(c) Lucas Malan (Uit: Afstande, 2002: Protea Boekhuis)
Foto’s kostelik, maar ek soek ‘n rympie oor wortels van goed én van kwaad! Marlise, hoe lyk dit?