Amanda Lourens. Toe die digseltjie oeps

Ek en my jongste het onlangs ’n interessante gesprek gehad, na aanleiding van ’n graad 4-gediggie. (Niks watwonders nie, eintlik maar rymelary, maar ten minste darem ’n soort kreatiewe poging om die leereenheid oor onder meer “die misterie van die buitenste ruimte” in te lei.  Ek plaas dit vir die aardigheid aan die einde van die artikel.)

Die digseltjie het naamlik ’n deurlopende paarrymskema, wat in die slotreël verbreek word.  Juis hierdie verbreking van die patroon het my amper-tienjarige laat vra hóé dit dan nou ’n gedig kan wees, want die rym word dan nie tot aan die einde toe volgehou nie.  Daarop het ek natuurlik my kans gebruik om haar summier letterkundig te bearbei.  Moederlik-beterweterig het ek geantwoord dat hierdie eenreëlige oeps sommer ’n vulletjie is – daar is gedigte wat glád nie rym nie. ’n Gedig hoef g’n niks altyd rym te hê om ’n gedig te wees nie.

Voorspelbaar genoeg het my skeptiese dogter daarop gevra wát op aarde ’n gedig dan is, as dit dan nie uit rymende versreëls (my herskrywing van haar vraag) bestaan nie.  Die onderwyseres in my kom toe te voorskyn met die kuns-metafoor:  ’n gedig is soos ’n skildery (in hierdie konteks seker eerder ’n tekening of sand art-skepping), of soos ’n stukkie pottebakkerswerk wat uit woorde bestaan.  Alles hoort bymekaar en bou ’n prentjie in woorde op, vertel ’n storie of dra ’n gevoel oor.  Maar sekerlik bevind ek my hiermee midde-in ’n gevaarlike teoretiese mynveld, en ek borduur voort: In ’n gedig kan ons dinge met woorde doen soos ons sê maar met verf en verftegnieke ’n appel of ’n blom of ’n perd beter (of anders) as die ware Jakob kan laat lyk.  

Op hierdie punt het my spruit naastenby genoeg gehad van my lessie, maar my gedagtes bly huiwer by die hele gedagte van wat ’n gedig dan nou eintlik is.  Ek kan nie onthou dat ek al ooit op skool of universiteit ’n “regte” definisie daarvan geleer is nie.  Ek wend my dus tot die WAT, wat die volgende omskrywing aanbied: “Letterkundige skepping in versmaat, met of sonder rym, die werk van ‘n digter wat sy verbeeldingservaringe met behulp van taalsimbole wil oordra; die vernaamste elemente daarvan is klank, beweging, ritme, gevoel en suggestie; dit gee uitdrukking aan diepe gevoelens en diepe gedagtes en probeer dikwels om ‘n vertolking te gee van die geheim van die lewe in ‘n taal van hoë musikale gehalte; vers, digstuk.” Omdat ek snuf in die neus kry by die lees van “(l)etterkundige skepping in versmaat” (so gepraat van mynvelde) steek ek ook maar kers op by die Rooitaal. OED se definisie klink egter verdag soortgelyk, maar ten minste sonder die pretensie van die “letterkundige skepping” en die voorskrif van versmaat: “A piece of writing or an oral composition, often characterized by a metrical structure, in which the expression of feelings, ideas, etc., is typically given intensity or flavour by distinctive diction, rhythm, imagery, etc.; a composition in poetry or verse.”  

My nagaan van die oorsprong van die woord “poem” lewer wel die insiggewende brokkie op dat dit verband hou met die Grieks ποίημα – “a thing made or created”. Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans gee “gedig” egter nie aan nie, en Van Dale se Nederlandse eweknie ook nie “gedicht” nie. “Poëzie” volstaan met die Griekse herkoms uit “maak”, maar “poësie” ontbreek in die Afrikaanse bron. Terwyl ek so in die woordeboeke krap, besef ek skielik dat daar nie soos in Afrikaans ’n enkele Engelse werkwoord vir “dig” is nie – dis “writing poetry”, “poem-making” (laasgenoemde weer OED se boekstawing).  So miskien kan ek die dig/gedig-idee verder bepeins.   

Die uitkoms van my bepeinsinge is dat ek vir die eerste keer bewustelik wonder oor die verskillende betekenisse van “dig”, en opnuut WAT toe surf.  Die resultate maak vir my deure en vensters oop, al is ek beskaam dat ek na al die jare van gemoeid wees met gedigte nou eers daaraan gedink het om die woord “dig” onder die loep te neem.  Hierby my vondste (ek lig net die belangrike dele uit die WAT uit):

Byvoeglike naamwoord: dig, digter, digste:

·         Waarvan die samestellende dele hulle baie naby mekaar bevind sodat daar min tussenruimtes is; nou aaneengesluit, moeilik deurdringbaar

·         Gekenmerk deur groot massa per eenheid van volume

·         Vir lug, lig, vog of gas ondeurdringbaar, sonder enige deurlatende opening

·         (fotografie) Byna ondeursigtig, met ‘n sterk kontras wat lig en skaduwee betref

·         Gesluit, afgeslote, toe   

·         (figuurlik) Wat nie iets sal verklap nie, wat stil [kan] bly, ‘n geheim [kan] hou; geheimsinnig
 
Van hout, met ‘n baie fyn draad of tekstuur: Digte houtsoort.

 Bywoord: dig

·         Met geen of geringe tussenruimte, sodat noue aaneensluiting ontstaan

 Werkwoord: dig 

·         (weinig gebruiklik) Dig maak, toestop, aanhaal of -draai; afdig

·         Verse maak, in digvorm behandel, poësie skryf

·         (verouderd) Uitdink, versin, verdig

 Ek vermoed julle weet reeds in watter rigting my gedagtes gaan.  Die moontlikhede is verbysterend: die woorde dig op mekaar plaas, sonder onnodige wollerigheid en slordighede tussendeur; die woorde nou aaneengesluit in betekenisverband, maar nietemin dig, nie altyd toeganklik of deursigtig vir die leser sonder durf nie; ’n woordwerk met ’n fyn tekstuur, tog stewig genoeg soos hout om steeds verder aan te skaaf; ’n uitgedinkte skryfsel en ook nie aldag die (of ’n) waarheid nie. En daarby ook maaksel, om die Grieke darem in die prentjie te hou. 

Dit is met al hierdie idees in die agterkop dat ek veral talm by die gedagte van opbou, van struktuur en/of tekstuur, van vakmanskap – alhoewel laasgenoemde sekerlik nie ’n sinoniem vir “opbou” is nie.  Assosiasies spring van hier af maklik na ’n hele paar frases uit resensies wat vroeër vanjaar oor Wanpraktyk van Andries Samuel verskyn het.  Oor hierdie argitek-digter se poëtika het Louise Viljoen geskryf dat hy “wegbeweeg van die toeganklike praatverse wat in die laaste aantal jare algemeen was onder debuutdigters en ­eer­der in sy gedigte die taal wil verdig tot ’n kriptiese soort segging” (my kursivering). Zandra Bezuidenhout het verwys na Samuel se vermoë om o.m. met klank en beeld om te gaan; dit is ook dan betekenisvol dat sy hom ’n “woordkunstenaar in eie reg” noem.  Joan Hambidge het verwys na Samuel se “intellektuele beheer” en “knap taalontginning”, terwyl die digter se “geweegde woorde” ’n vermelding deur Marthinus Beukes verdien het.

Alhoewel ek die onlangse tendens van “praatpoësie” geensins nie geringskat nie – sekerlik het die houthuis van die digkuns vele wonings – is dit tóg goed om ’n vers te lees wat getuig van ’n bewuste weeg van elke element – hetsy woord, klank of beeld.  Die resultaat hiervan is stellig ’n heg gekomponeerde vers waarna die leser telkens kan terugkeer en opnuut plesier vind in die oorwoë saamspel van woord, beeld en klank. Daarby verg dit ’n herlees en uitmekaar- en probeer aanmekaarryg van die sinsdele, sodat jy genot put uit die raaisel wat homself voor jou oë skryf.

Ek bêre dus voorlopig hierdie stukkie bepeinsinge totdat my dogter hopelik eendag terugkeer na die vraag oor die digkuns.  Dan sal ek haar vertel dat “dig” beteken om woorde op ’n manier ánders as die “gewone” te gebruik en om soms ál die betekenisse van ’n woord uit te dop, te ondersoek en opnuut in woordstringe in te ryg sodat die kleure en teksture daarvan ons daagliks kan uitdaag.

Ek deel graag ’n op die oog af eenvoudige en pretensielose gedig deur Andries Samuel, maar waarvan juis die ekonomie van die woorde, tesame met die beeldvondste, semantiese kettings en sintaktiese spel getuig van ’n bewuste vakmanskap . Veral die tweede gedeelte, waar ’n emosie as’t ware plasties voorgestel word en die woord “ektoplasma” op veelduidige wyse ontgin word, bly jou lank na die lees van die gedig by:

 

winterstingels

 

1

salmvlam gladiolusse

net twintig rand ’n bos

hulle weerligesse

bloei seepienk arms op –

oerpienk tentakels

veertig rand die lot

hulle definitiewe punte

opwaarts vlam

my uit hierdie winter se kleingeld uit

 

2

ek draai my ken

na die venster

en ’n ektoplasma geluk

groei deur my borsbeen

soos hande

wat ’n glimlag

instreel om my mond

 

Sover ek kan oordeel, is daar hier geen groot politieke boodskappe of epiese opset nie.  Maar ek dink ek merk hom vir die dag as ek moet verduidelik waar gedigte vandaan kom. 

Intussen plak ek “winterstingels” langs my spruit se illustrasie van die titellose gediggie op die yskas.

En hier dan die oeps:

 

Wat is in die ruimte daarbo?

Die grootmense sê: Sien is glo!

Toe, neem my dan daarheen!

Moet ek ry, of moet ek vlieg … alleen?

 

Ek klim in my ruimteskip en dink

Is ek nou simpel of wil ek net rinkink!

Nee, ek is nuuskierig en wil self sien

Wat is daarbo? Marsmannetjies? Miskien!

 

Ek kom toe daar en was ek verras

Dis baie donker, ek hou my bewende broek vas …

’n Sterretjie knipoog vir my

Sjoe, dis “cool” hierbo, dink ek bly!

 

Verlange na my huis neem my terug

Na die pragtige blou aarde en die skoon suiwer lug.

Ek word wakker uit my droom …

Oeps: Oos wes tuis bes!

 

 

 

Bronne

 

Beukes, Marthinus. 2011. Swaarder as sak vol bedrieglikhede. http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Swaarder-as-sak-vol-bedrieglikhede-20110304. [2011, 26 Augustus].

Bezuidenhout, Z. 2011. Wanpraktyk: Andries Samuel. https://versindaba.co.za/2011/04/03/wanpraktyk/. [2011, 26 Augustus].

Hambidge, Joan. 2011. Samuel slaag die toets. http://www.volksblad.com/Boeke/Nuus/Samuel-slaag-die-toets-20110225. [2011, 26 Augustus].

Viljoen, L.  2011. Wanpraktyk deur Andries Samuel. http://blogs.dieburger.com/boekredaksie25/wanpraktyk-deur-andries-samuel. [2011, 26 Augustus].

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Amanda Lourens. Toe die digseltjie oeps”

  1. adriaan coetzee :

    om woorde te oorlaai soos ‘n bus agteruit die rivier in, nog ‘n betekenis moet agterna hardloop en tot in ‘n gedig spring

  •