Philip de Vos: Phil du Plessis en die oue Nefertiti

 Deur my eie tegniese lompheid het ek hierdie bloginskrywing wat alreeds op die Versindaba-blad verskyn het uitgevee, en voordat dit vir ewig en altyd in die kuberruim verdwyn, gee ek dit ’n nuwe titel. 

 Vroeg-oggend op die 28ste kry ek ’n e-pos van Deon Knobel.

Die digter, Phil du Plessis vanoggend in Constantiaberg Hospitaal, Kaapstad, oorlede na maande se swak gesondheid. Begrafnisreëlings by Constantiaberg Funeral Home, 0216712400. of 0836536536.

Niks verder nie, net dié paar woorde.

En nou is dit maar net my eie herinneringe waarop ek moet staatmaak. Phil du Plessis se dubbelverdiepinghuis langs die treinspoor naby die Kalkbaaihawe. Die geluid van treine sommer naby en die see daar ver onderkant. See en donker rotse. Skilderye en kunswerke oral in die skemer huis; ’n viool êrens in ’n donker hoekie en een van my versies wat ek op die graffitimuur in sy toilet gekrabbel het.

En verder – klein stukkies onthou van ’n persoon wat ek glad nie geken het nie, maar wel een of twee keer by Deon teëgekom het.

En toe ek vanoggend deur my ou negatiewe krap, kom ek agter dat ek wel vir Phil tweekeer gefotografeer het en tog kan ek niks verder onthou nie.

 

 Waaroor het ons gesels? Defintiief nie oor die poësie nie, want ek het nog al die jare van dié onderwerp weggeskram. Dit is sekerlik die rede dat ek nie werklik kunstenaars of skrywers of sangers onder my intieme vriendekring tel nie, want dis makliker (en lekkerder) om met my vriend Rob Kirsner na die Hollywood-musicals van die veertigs op die groot platskerm TV te kyk as om die jongste Breytenbach-bundel met ’n slim iemand te bespreek of dalkies oor Natalie Dessay se jongste opera DVD. Ek is ’n pleb en ek weet dit.

Dit was een aand in Milnerweg, Tamboerskloof by Roy Allen se huis.

Tussen die ander partytjiegangers het ek vir Phil du Plessis langs ’n ou dame sien sit: ’n Nefertiti soos sy straks in haar laat-sewentigs sou gelyk het. En soos soveel kere daarvoor en daarna vergeet ek alle ordentlikheid en gaan praat ek met Phil (vir wie ek glad nie geken het nie) en sê dat ek graag foto’s van sy metgesel wou neem. Later verneem ek sy is Fania Pocock en ’n skilder

Op hierdie manier het ek ook later vir die kunstenaar Beezy Bailey in die Virgin Active gym sommerso in die stoomkamer gesê: “Ek neem foto’s.” Die direct approach werk nogal partykeer alhoewel ek nie werklik voor op die wa is nie. En Beezy Bailey het toe wel ja gesê vir ’n foto wat toe later in my fotoboek Milieu verskyn het.

’n Ruk daarna is ek toe op pad Kalkbaai toe om Phil se vriendin af te neem. En later dié dag het ek toe wel vir hom ook afgeneem, want op my ou negatiewe is haar nommers op een strokie nommers 21 en 22 en syne nommers 25 en 26 en dit is alleen uit hierdie negatiewe wat ek die volgorde van dié middag kan uitpluis.

 Phil het my na haar woonplek geneem en in plaas van ’n ateljee vol esels en olieverf en die reuk van terpentyn neem hy my na ’n klein beknopte kamertjie in ’n ouetehuis; ’n onopgemaakte bed en eenkant op ’n leunstoel sit sy alreeds vir my en wag met ’n eksotiese tulband op haar kop; goue kettings en oorbelle en ringe en ’n sterborsspeld.

 

 In haar kamertjie in die ouetehuis het sy vir oulaas geglinster en moes ek my foto’s neem teen ’n grys-spikkelmuur. En voor ek wou huis toe gaan, het sy ’n kaslaai oopgetrek en ’n foto uitgehaal: “That was me when I was young and beautiful and still an artist.”

 

 Sy het nooit my foto’s gesien nie, en ’n maand daarna verneem ek dat sy oorlede is.

Fania Pocock se foto’s het tussen ander negatiewe in plastiese lêers beland en in 1978 vra Johan Bernard van SUKOVS-toneel of ek nie van my foto’s in die Sterrewag-teater bo-op Naval Hill in Bloemfotein wil kom uitstal nie.

Binne ’n week het ek ’n uitstalling uitgedink. Tussen my menige negatiewe het ek foto’s ontdek van vrouens wat ek oor die jare geneem het en so het die idee vir my foto-reeks Die Reis ontstaan. ’n Reisiger is in ’n woud op pad êrens heen. Waarheen weet hy self nie: En dit is deur drie Wyse Vroue dat hy hy uiteindelik die antwoord ontvang, en uitkom waar hy begin het.

 

 En in my donkerkamer het Fania ontsnap uit haar laaste vier mure en in ’n woud antwoorde probeer gee op vrae waarvoor daar geen antwoorde was nie.

Die hele reeks kan bekyk word deur op die volgende skakel te tik.

 http://www.facebook.com/media/set/?set=a.39275863173.51893.636813173&type=1&l=4eda4bc94a

 En voor ek vergeet – later dié middag het ek toe ’n klompie foto’s van Phil du Plessis ook geneem, maar dié foto-nemery is al lank vergete, maar Fania Pocock aan wie hy my voorgestel het, sal ek deur my foto-reis nog baie lank onthou.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.