Onthou se dinge. ‘n Liedsiklus
•1. eerste soen
daardie somer die dink
nog hy’s ou stryk seisoen
toe’s hy aap uit die mou
en baljarend net -soen
-soen
-soen
– en oor jóú
al die oggend daarná
het kom staan op die stoep
het geflikflooi en -wink
en gehiertjy en -roep
-roep
-roep
– en oor jóú
daar was tuine vol voëls
wat hul toonlere kerf
‘n granaatbos se oes
was soos krismis geverf
-verf
-verf
– en oor jóú
die verkeer van die stad
het geséllig verkeer
die gebeure om my
het opwíndend gebeur
-beur
-beur
– en oor jóú
ek het dinge gesien
ag, presies soos nog nooit
hoe ‘n oumansgesig
tot ‘n lag-landskap plooi
plooi
plooi
– en oor jóú
toe die son daardie aand
soos ‘n snoekerbal sink
het ‘n boerpot geluk
aan die hemel geblink
-blink
-blink
– en oor jóú
•2. Aangetas
Die bolrond- en konkawe dinge
sou voortaan baie voel na jou
en melk en balsems, bome, hobo’s
het iets geadem, mmm, van jou
Formasies trekvoëls, fjords in woude
die vertes had iets weg van jou
en vase afgeslank soos dye
het sommer veel begryp van jou
Fasettigheid van woordjuwele
het ek hier in my kies voel speel
geslepe vir die lieflikhede
maar jou versprekend in geheel
•3. Borrel
Jy sou nog soggens gou my dasknoop skik
en ruik na brooddeeg en laventelseep;
en deur die nuusleesman se grou relaas
het vetkrytgeel van kinderlag gestreep.
Gekom in my kantoor, kon ek jul sien:
die borrelsnoer gesels op pad na skool.
So halfpad deur my stapel pos
het ek onthou jy voer die tuin se voëls.
In ‘n vergadering verstrooi om elf
was soms jou liggaam op my sakelys.
Dan, eenuur, fletter duiwe oor die plein
soos ek my haas vir ete by die huis.
Die middag het ek klokslag aangepak,
met tikmasjien gekoers oor wit papier,
probeer om nie te bel of wonder nie
en tog die tyd voel voete sleep na vier,
want aanstons sou daar aanbreek: aardryk ons:
ons ligkorf in die ruim: ons soetverblyf:
ons minnegons van eet, van lag, omhels –
tot elkeen in sy slaapbel weg sou dryf.
•4. hospitaalkamer
‘n kamerjas se vel-en-been oor hangerdraad
asof van vlees en bloed verlaat
koud gelaat
‘n binne-aarse-drupsak half-leeg aan sy haak
wat in die afgemete taak
sy piep moes staak
‘n ruiker blomme in ‘n vaas wat nog vertoef
wat kleur-en-geur vir die beproef
maar onbehoef
‘n bed weer kraakskoon oorgetrek, aldus praktyk
‘n lewe se ongelyk
uitgestryk
•5. Uit die bloute
Vanoggend is ek uit die bloute
deur die draadloos met ‘n melodie
tot ou herinneringe weer verras.
Vereers onthou ek net jou hande
wat soos dinkswaels swiep deur jou gesels,
en hoe die somer in jou oë was;
en toe jou bene, bruin van tennis;
plekke aan jou appelgladde lyf;
konkawe woorde wat jou halslyn pas.
Onthou was skielik met verlang oorhoops
en ek moes buite my gemoed gaan lug,
maar dáár het blomme en die tuin vol voëls
die ganse dag met kleur en geur vergif.
Wat weet ‘n son, ‘n lied, ‘n vink of roos
van lieflikheid se skaduwee – gemis!
Vanmiddag was jy net abstraksie,
greinpatrone in ‘n fotoboek,
al het ek jou ook hóé probeer verbeel.
Die blaaie van ou versebundels,
flessies ou parfuum het ek beproef
en toentertyd se plate weer gespeel.
Maar niks wou jou vir my herskep nie:
alle poësie en melodie
was net maar skoonheid op verniet verspeel.
Verlang was skielik met vergeet oorhoops
en ek moes buite my gemoed gaan lug,
maar dáár het blomme en die tuin vol voëls
die ganse dag met kleur en geur vergif.
Wat weet ‘n son, ‘n lied, ‘n vink of roos
van lieflikheid wat brandend word – tot níks?