Karen Kuhn gesels met Amanda Lourens oor haar debuutbundel Ingeboek
Karen, baie geluk met jou debuutbundel. Jy het ook ‘n MA in Kreatiewe Skryfwerk verwerf. Wanneer het jy begin dig? En kom die gedigte in die bundel almal uit een tydperk, of het hulle oor ‘n lang tyd ontstaan?
Dankie Amanda. Digkuns was maar nog altyd deel van ons huis. Meeste van die verse is gedurende my Honneurs en MA geskryf, wat ongeveer oor sewe jaar verloop het. Dit was die skryf van die verse, maar die ontstaan het lankal al gebeur. Ek glo elke vers het ‘n inkubasietydperk en groei tot dit gereed en buite die skrywer, onafhanklik op eie bene staan. Die proses is heilig en tydsaam. Woorde verskyn in drome of sinchronisties in jou alledaagse roetine en sodra vasgepen, kan die ontwikkelingsproses begin. ‘n Mens skryf ook as jy nie skryf nie, en so word digkuns seker eerder ‘n leefstyl as ‘n afspraak in jou dagboek.
Die kreatiewe omslag van Ingeboek val die leser dadelik op en vestig onmiddellik die tema van “ingeboek” wees – met ander woorde opname in ‘n inrigting. Daarmee saam lees ons die handgeskrewe reëls “Ek skryf / want dit is waar / ek gewoon / stil kan bly wees”, wat as’t ware die spasie vul waar die spreker se “beroep” verklaar moes word. Probeer jy reeds met die omslag sê dat daar ‘n tuiste in die taal gevind kan word, wat dalk nie elders te vinde is nie?
Willem Jacobs, die ontwerper, het saam met my besin oor die omslag. Die idée was om van die staanspoor af die idee te skep van die spreker wat haarself in woorde “inboek”. Die handgeskrewe woorde is daar om ‘n meer persoonlike inslag te gee, met ‘n klomp inligting wat die spreker irrelevant vind. Die Rorschach-skets agterop die bundel sluit aan by die tematiek van die pasiënt in die inrigting. Onder geen omstandighede ondermyn ek die potensiaal van die sielkunde en wat medikasie in vandag se tye kan verrig nie. Ek glo net daar word ook wegbeweeg van die primordiale aard van die menslike psige, die dinamiek van die kollektiewe onbewuste en oerwysheid en insig wat binne elkeen opgesluit is, wat antwoorde bied vir die neuroses en komplekse waarmee ons elke dag worstel. Nie alles is ‘n “quick fix” of kitsoplossing of wegneemete nie. Woorde is een van die maniere om weer met die Self te konnekteer. “Inboek” binne ‘n reis word ook opgeroep, met vrae oor bagasie en items om te verklaar. So is reis ook ‘n manier van terugkeer na die self, die innerlike reis na familiariteit, terwyl mens jouself buite in die vreemde vind.
Dit is ook interessant om te let op die Jung-aanhaling wat as motto gebruik word: “Words are animals, alive with a will of their own.” Die leser let hier reeds ‘n kontras op: tussen die toestand van “ingeboek” wees en die vryheid en kragdadigheid wat daar in taal skuil. Is hierdie kontras berekend daargestel?
My akademiese besinning vir my MA het gehandel oor enkele verse van Sheila Cussons wat gekoppel is aan die werke van die psigoanalis Carl Jung. Ek het ‘n ongelooflike bewondering vir Jung. Hy noem dan tereg: “Only the paradox comes anywhere near to comprehending the fullness of life”. Sodra die toestand van “ingeboek” in woorde betree word, moet die spreker hom/haar oorgee aan die vryheid en eie wil van die
Woord. Die digkuns is ‘n medium en draer van die paradoks. Om maar ‘n enkele voorbeeld te noem: Die vers: ‘Jy’s Gauloises’ eindig met die woorde: “[…] / lewe en dood is één in dieselfde asem”.
‘n Laaste aanhaling van Jung: “The unsatisfied yearning of the artist reaches back to the primordial image in the unconscious which is best fitted to compensate the inadequacy and one-sidedness of the present.”
Op p. 4 word die leser uitgenooi om hom/haar in die bundel te kom tuismaak: “Met jou, wat onrustig jaag / om net tydelik te ontsnap, is ek. / Kom boek hier in / hier is geen kettings nie.” Waarna sou die “geen kettings” verwys? Lewer dit kommentaar op die aard van spesifiek jou digkuns, of die aard van taal of die digkuns in die algemeen?
Ek dink “kettings” kan metafories vir die leser beteken waar ook al hy/sy hom/haar binne ‘n alchemistiese reis bevind. In die geval van die spreker is “kettings” alles waarvan die spreker wil ontvlug: kettings binne oordeel, verslawing, medikasie, prognose, verwagting, teleurstelling. En met verslawing verwys ek nie noodwendig na dwelmmiddels nie, maar na alles wat die stilte begin verdoesel het.
Die woorde “met jou” loop soos ‘n tema deur die hele bundel. Onwillekeurig kom daar eggo’s van Ingrid Jonker se bekende gedig “met hulle is ek” – waarin die digter haar solidariteit met die verdruktes, die randfigure toon – by my as leser op. Was daar enige poging tot ‘n intertekstuele oproep van Jonker se gedig? Of is die ooreenkoms toevallig?
Die woorde “met jou” wat eintlik elke afdeling inlei, is juis daar om in gesprek met Ingrid Jonker te tree. Die tematiek van “ontvlugting” uit “hierdie Valkenburg” kom direk in verband met die nosie van “ingeboek”. So dan ook die uitnooi van die buitestander om hier in verse tuis te voel, probeer oorgedra word. In die laaste vers van die bundel, “Silent”, word daar met groot respek intertekstueel na ‘n paar digters in Afrikaans verwys met die openingsreël: My ontvlugting is die argief / […]. Ek het waardering vir digters wat vreesloos en genadeloos kan dig: Sylvia Plath en Anne Sexton wat Jonker voorafgegaan het; ek sidder eintlik oor die potensiaal van die profetiese waarde van die woord.
Reis, veral met Parys as bestemming of plek waar vertoef word, is ‘n sterk tema. Het jy self tyd in Parys en elders deurgebring?
Ek het baie spesiale vriende in Parys en het die voorreg gehad om etlike kere die stad te kon besoek. Die band tussen sowel die mense as Parys self is vir my ‘n ontdekkingsreis; die sagtheid, die taal, die leefstyl is alles buite my verwysingsraamwerk en gemaksone en die ongemaklikheid is ryk in leerprosesse en so hoop ek om weer periodiek terug te keer na die stad.
Dit wil ook voorkom asof daar ‘n verband getrek word tussen die idee van reis en taal, soos blyk uit die gedig op p.50, naamlik “Ode aan ‘n tableau” met Londen as agtergrond waar die eie taal kennelik herken word. Die slotstrofe lui: “Mense stamp my rond / hierdie aksent is meer werd / as ‘n verlore pond.” Hoe hierdie gedig tot stand gekom – is dit gegrond op ‘n werklike ervaring? En wat behels die kommentaar in die slot alles?
Na my Honneurs het ek tasse gepak en in Liverpool in ‘n kombuis gaan werk. Gedurende hierdie tyd het ek gereeld Londen toe gegaan en ook so nostalgies geraak oor SA, so ja, die vers is gebaseer op ‘n werklike ervaring. Daardie jare was dit nog relatief maklik om in die VK te gaan werk, en alhoewel ek lief is vir reis, is die kommentaar een van patriotisme teenoor ons eie land en taal.
Jy maak heelwat gebruik van tipografiese eksperimente, wat besonder treffend is – byvoorbeeld in “Uurglas” (p.42) waar inhoud en vorm saampraat. Vertel ons ‘n bietjie hoe jy te werk gaan om so ‘n sterk vormbewuste gedig te skep.
Hendrik Venter het die konsep van “konkrete verse” aanvanklik aan my bekendgestel. Ek het die afgekom op Guillaume Apollinaire se gedig “Il Pleut” (“It Rains”) wat reën voorstel en besef dit is ‘n ou konsep; dit was die motivering. Vorm is net so belangrik as inhoud en ek glo die belangrikheid hier is dat die twee in “simbiose” is. Die diversiteit van poësie is opwindend: praatvers, konkrete vers, vrye vers en vormvaste verse, iets vir elke geleentheid. In Pomp 2011 het foto’s verskyn waar ek saam met my kollegas by die filmskool ‘n projek aangepak het waar woorde op menslike lywe uitgebeeld is, met die idee om meer interaktief die lyf, die woord en die wyse waarop dit geskryf is, uit te beeld. Ek is nou nie seker of ek werklik vertel het hoe ek te werk gaan nie; die titel of konsep kom sekerlik eerste vorendag en dan soos die woorde geskryf word, word daar terselfdertyd aan die vorm getimmer.
Godsdiens is nog ‘n tema wat in die bundel ondersoek word. In ‘n gedig soos “Patrone” lees ons: “Jesuskind timmer / aan sy eie kruis / – Hy vorm self.” ‘n Mens vermoed ‘n diep kompleksiteit in hierdie gedig. Wil jy ons dalk help met die interpretasie?
Die nosie van patrone wat hulleself herhaal, en die breek van ‘n patroon word ondersoek. ‘n Patroon om iets te skep, ‘n patroon om iets te vernietig en eindelik ‘n patroon as ‘n beskermheer word aangespreek.
Met die lees van “Lees” kom die leser diep onder die indruk van die mistieke, wat versterk word deur die opdrag (“vir Sheila Cussons”). Ook kom Cussons en Van Wyk Louw eksplisiet aan bod in “Père Lachaise”, en lees ‘n mens “plektrum” raak in “Silent”. Het Cussons se digkuns – ook haar aangetrokkenheid tot die mistieke – ‘n betekenisvolle invloed op jou eie poësie?
Indien nie dié grootste nie, is Cussons beslis een van die grootste mistieke digters in die Afrikaanse digkuns. Deur haar gedigte te bestudeer, tesame met Carl Jung se teorie, is ‘n lewenslange leerproses en invloed. As jong debutantdigter is daar so baie om te leer van ‘n digter soos Cussons: haar beheerstheid wat vorm en inhoud betref, hoe elke woord oorweeg en heroorweeg is en dan die oorgawe en dinamiek van haar woorde wat tot nuwe en ander insigte lei.
Vertel ons ook meer van die kommentaar op die aard van Afrikaans in “Taalles”? Daar is baie sensuele ondertone – is ek reg?
Dit is maar een blik op die taal, as ‘n sensuele vrou, wat heelwat geliefdes het in terme van ander tale se invloede op en vorming van Afrikaans. In plaas van die angs oor die voortbestaan van die taal en eksklusiwiteit word diversiteit eerder aangemoedig en word ‘n bewustheid van die taal in die buiteland ook voorgestel. Ek dink dieselfde geld vir digkuns – poësie vorm deel van die chora van ‘n taal en is noodsaaklik om toeganklik te wees vir sy/haar sprekers. So is dit dan nou ook ‘n voorreg om myself in Poznań, Pole te bevind, as deel van professor Jerzy Koch se departement saam met kollega Tertius Kapp, waar o.a. Afrikaans en Afrikastudies aan die Adam Mickiewicz Universiteit as vakke aangebied word.
Daar is ook enkele – volgens my van die sterkste verse in die bundel – wat handel oor die interaksie met die Ander, maar waar ‘n mens ook ‘n metafisiese aspek vermoed. Hier dink ek veral aan “Kennismaking” en “Handdruk”. Is dit wel die geval? Ek wil graag vir die lesers “Kennismaking” aanhaal – so ‘n ryk gedig in die bedrieglike eenvoud daarvan:
Soos ek my tot jou rig
staan ek meer verleë.
Nader aan jou lig,
al groter my skaduwee.
Interaksie met die Ander en die metafisiese is alles komplekse, abstrakte onderwerpe. Die digkuns is een medium waardeur gepoog word om dit te konkretiseer. Dit is ‘n lewenslange proses en ontdekkingsreis en dit is inderdaad fassinerend om so ‘n proses via skryf te kan ervaar.
Tot onlangs was Karen Kuhn betrokke by ‘n filmskool in Kaapstad waar sy o.a. klasse in die skryf van ‘n draaiboek aangebied het. Sy het haar MA in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Die akademiese besinning het gehandel oor die alchemistiese transformasie wat in enkele gedigte van Sheila Cussons plaasvind, hierdie proses is gekoppel aan die hand van C. G. Jung se teorie. Meeste van die verse in die bundel is dan ook tydens die periode geskryf. Sy vertrek in Maart 2012 na Poznań in Pole toe waar sy Afrikaans en Afrika Studies by die Adam Mickiewicz Universiteit gaan doseer en ook terselfdertyd inskryf vir haar Ph.D. |
Karen al wat ek kan sê is dat jy uit en uit jou oorlede oupa se kind is.Ons is, en hy sou verskriklik trots op jou gewees het. Dit is merkwaardig hoe jou lewenservaring met sy siening oor die lewe ooreenstem. Wat’n wonderlike prestasie!!!!
Liewe Karen, hoe goed onthou ek die oggend in 2004 toe ons vir die eerste keer saam by die Hertzogkamer van UCT ingestap het – en kyk nou net! Groot geluk, Karen, ook met die pos in Pole.
Die hoendervleis oortrek my hele lyf, en ek sit hier in Londen, met massas bewondering.
Karen, jy het onbeskryflik baie talent en ‘n fyn aanvoeling vir ons Taal en unieke woorde. BAIE GELUK MET JOU BUNDEL!!
Ek is trots op jou!
Pragtige onderhoud! Wel gedaan Karen!