In sy bundel Soom (2012, Griffel) verwys Hennie van Coller so sylangs na Dealesville:
In die Vrystaat is water min, die fontein
lank reeds weg; ons lot word net deur die son
besleg en whisky word ook g’nnie verdunnie.
Van winde kry ons hier genoeg,
veral sirokko’s uit die verre weste
wat Dealesville bring en Petrusburg se reste…
Die dorpie Dealesville is omring deur soutpanne. G’n wonder dat dit stuk-stuk Bloem se kant toe waai nie. In die kerkgebou hang ʼn foto van die dorp soos dit in 1950 gelyk het. Die kerkgebou self is in die middel van die foto. ʼn Mens kan dele van die vliegtuig, waaruit die foto geneem is, se vlerk in die voorgrond sien. Ek verbeel my ek kan soutpanne in die agtergrond bespeur.
Die Nederduits Gereformeerde Kerkgebou se hoeksteen is in 1912 gelê. ʼn Plafon van staalpanele gee die gebou se binnekant ʼn besonderse atmosfeer.
Wat egter opval as ʼn mens om die gebou stap, is hoe ʼn daklose gedeelte van die kerkgebou nou deur ʼn funksionele sinkdak teen donderbuie (al is dit skaars) beskerm word.
Op een plek is die nok se punt gebreek om die sinkdak se strak raamwerk te akkommodeer.
Ek wonder oor hierdie sinkdakskuur wat die kerk se agterkant bedek. Is dit ʼn tydelike maatreël, tot die gemeente genoeg geld het om die oorspronklike dak te restoureer? Of is dit hoe die dak nou maar daar gaan uitsien?