In my vorige blog het ek Goethe se gedig Erlkönig ontleed op die vlak van die storie – die logiese, chronologiese en kousale elemente soos dit deur die leser gerekonstrueer word. Vandag fokus ek op die vlak van die verhaal – die artistieke verwerking van dié elemente soos dit deur die ordenende instansie (outeur) verwerk is om ‘n kunswerk te skep. Ek konsentreer hoofsaaklik op die verhalende aspek van die gedig.
2. Die vlak van die verhaal
Op die vlak van die verhaal word die artistieke ordening of rangskikking van die narratiewe elemente, nl. gebeurtenisse, akteurs, tyd en plek, ondersoek. Dit het reeds op die vlak van die geskiedenis geblyk dat alle elemente van die verhaal binne die spanningsveld (topos) lewe-dood geplaas word. Deur hierdie plasing in ‘n spesifieke, afgebakende literêre ruimte word akteurs omskep tot handelende karakters (aktante), dit wat in die storie blote plek was, word ‘n artistiek-betekenisvolle ruimte, die storielyn word ‘n verhaallyn en in die plek van chronologie tree ‘n verskeidenheid van temporele verhoudinge (Du Plooy, 1986:298).
2.1 Struktureringsprinsipe
Volgens Brink (1987:124) begin die verhaal met die titel as heel eerste narratiewe element. Die titel van die verhalende gedig, “Erlkönig”, raak ‘n belangrike kode in die gedig aan. Elwekoning, as belangrikste antagonis, kry reeds heel aan die begin sy beslag. Die titel suggereer die belangrike rol wat dié karakter in elke faset van die verhaal speel, sowel as sy uiteindelike oorwinning.
Soos reeds op die vlak van die storie aangetoon, is daar streng seleksie toegepas ten opsigte van karakters en gebeure: alle karakters en gebeure staan direk in verband met die tema lewe-dood. Ook die donker, nagtelike ruimte is só gekies dat dit die doodsworsteling en die duister magte wat daarby betrokke is, ten beste aanvul en die wêreld uitbeeld soos dit deur die belangrikste karakters ervaar word. Die verloop van die verhaal is streng chronologies, terwyl die temporele raam waarbinne die gebeure plaasvind, hoogstens ‘n uur kan omspan. Die gedig voldoen aan die klassieke voorskrif ten opsigte van eenheid van tyd, plek en handeling – ‘n voorskrif wat Goethe as Klassikus in sy hele oeuvre eerbiedig.
2.2 Vervlegting van verhaallyne
Erlkönig is ‘n tipiese volksballade. Streng skeiding van epiese en dramaties-liriese gedeeltes word gehandhaaf. Die eerste en laaste strofes bevat die konkrete, naspeurbare verhaal in nugter verteltrant. Ingebed in hierdie epiese gedeelte is die sprokiesagtige koorsdroom van die seun, die dimensie waarin die mens teen duister, bonatuurlike magte te staan kom. Deur die fokus deur middel van die epiese én dramatiese vertelwyse op dieselfde feite-materiaal te laat val, word die verhaalgegewe verdig en meervoudige dimensies geskep.
In die dramatiese middeldeel van die gedig staan die suiwer rasionele belewing van die vader as kontrapunt tot die irrasionele belewenis van die seun. Sy onvermoë om die vlak van die bonatuurlike te betree en die kontras wat sy nugter antwoorde telkens afets teen die elwekoning se liries-verlokkende en die seun se emosiebelaaide uitinge, verleen ‘n fugale tekstuur aan die gedig en lewer insiggewende kommentaar op die komplekse aard van lewe en dood wat die gedig ten grondslag lê.
Die rou doodskreet van die kind in die voorlaaste strofe wat dadelik getemper word deur die objektiewe laaste strofe, wek amper die gevoel dat die digter dié uitroep as ‘n té krasse slot vir sy verhaal beskou en deur die laaste strofe, wat korrelatief verbind met reëls 3 en 4 van strofe 1, ‘n versagtende perspektief wil bring – die oplossing van ‘n growwe dissonans, wat natuurlik slegs in mineur kan staan!
2.3 Vertelwyse
Die digter gebruik verskeie vervreemdingstegnieke (‘n term wat deur Šklovskij en die Russiese Formaliste gebruik word) om ‘n unieke artistieke stempel op sy stof af te druk.
Kenmerkend van die begin- en slotstrofes is die byna gestroopte vorm van eenvoud, ‘n stylmiddel wat sterk herinner aan die moderne understatement. Die gegewe word, tipies van die ballade, in vraag- en antwoordstyl aangebied – een van die oudste tegnieke om spanning te skep en word geïntensiveer deur die behoefte van die vader om die kind te koester en te beskerm. Die dramatiese intermezzo met sy stryd tussen vader, elwekoning en kind laat die spanning verder oplaai; eers die laaste woord van die gedig bied die finale beslissing van die stryd: “In seinen Armen das Kind war tot”.
In skrille kontras tot die eenvoudige raamgedeelte, staan die middeldeel in dramatiese dialoog, versterk deur herhaling en ‘n nagenoeg barokke oordaad van kontraste, soos die bisare liefdesverklaring en dreigement ineen: “Ich liebe dich, mich reizt deine schöne Gestalt; / Und bist du nicht willig, so brauch ich Gewalt” (strofe 7). Alle dramatiese handeling vind in hierdie gedeelte plaas.
Ontleed ‘n mens die optrede en spreekbeurte van die vader, toon dit die vader se afnemende mag ten opsigte van die antagonis. Aanvanklik is hy in beheer van die situasie: “Er hat den Knaben wohl in dem Arm, / Er faßt ihn sicher, er hält ihn warm” (strofe 1). Wanneer hy die eerste keer gerusstellend antwoord, is dit in ferm, selfversekerde styl: “Mein Sohn, es ist ein Nebelstreif” (strofe 2). Die seun se volgende desperate uitroep, “Mein Vater, mein Vater …”, word geïmmiteer deur die vader se herhaling in die reël “Sei ruhig, bleibe ruhig, mein Kind” (strofe 4). Hy laat vaar ook die aanspreekvorm “mein Sohn” ten gunste van die meer emosionele “mein Kind”. Die laaste keer wanneer die vader praat, vind ons sy vertwyfeling reeds in die metrum van die gedig: “Mein Sohn, mein Sohn, ich seh es genau” (strofe 6), maar ook in die angstige herhalings wat hy nou by die sterwende seun oorgeneem het. Ten slotte verneem ons nog net: “Dem Vater grausets”. In plaas van die veilige greep, “er faßt ihn sicher”, (strofe 1) kom die byna magtelose “Er hält in Armen das ächzende Kind” (slotstrofe). Teenoor die magteloosheid van die vader kan die toenemende mag van die antagonis bespeur word, wat uiteindelik in die voorlaaste strofe ‘n dreigende toon aanneem wanneer hy as natuurdemoon die finale mag oor die seun bekom.
Interessant is die uiterlike vorm van die dialoog. In strofe 2 is die spreekbeurt vader-seun-vader: ikonies dus van die reël “Er hat den Knaben wohl in dem Arm” uit strofe 1. Strofes 4 en 6 is op hulle beurt ikonies van die seun se wegraping uit die vader se beskermende greep: hulle vertoon die bou seun-vader, simbolies van die skeiding wat reeds besig is om tussen vader en seun in te tree. Die dramatiese wending in die sewende strofe is ‘n meesterlik voorbereide fantasmagorie waarin die elwekoning en die seun saam groepeer en die mens deur die natuurmag oorwin word. Die seun, wat die verbindingselement was tussen die natuurmagiese demoon en die nugter rasionele persoon van sy vader, swig voor die betowering van die bonatuurlike.
Op die vlak van die verhaal word dit duidelik dat dit hier gaan om veel meer as ‘n spannende volksverhaal. Erlkönig word die verhaal van ‘n stryd tussen goed en kwaad, ‘n stryd van die magtelose mens teen die donker magte wat in die natuur aanwesig is en hom voortdurend bedreig.
2.4 Tyd
Die temporele verhoudinge in Erlkönig is nie baie gekompliseerd nie. Die verhaal verloop, soos ‘n tipiese volksverhaal, streng chronologies. Die dramatiese middeldeel van die verhaal is nóg ‘n prolepsis nóg ‘n analepsis, aangesien dit chronologies binne die raam van die buite-verhaal pas. Daar is wel ‘n intensiteitsverskil in Raffung (konsentrasie/kondensasie – Du Plooy, 1986:72; sien ook Lämmert, 1968:83) tussen die raamverhaal en die middelstuk. Die saaklike beriggewing in die buitenste raam word sterker saamgetrek, terwyl die dialoog in die middeldeel minder gekonsentreerd aangebied word. Omdat die teks self geen tydspronge aandui nie, sal elke leser die leë ruimtes op individuele wyse vul. Dit is selfs moontlik dat sekere lesers die verteltyd sal gelykstel aan die vertelde tyd. Die temporele raam van die verhaal kan waarskynlik nie veel minder as twintig minute of veel meer as ‘n uur beslaan nie.
‘n Mens kan in hierdie gedig nie die beduidende rol wat die metrum ten opsigte van tydsverloop speel, uit die oog verloor word nie. Wisselwerking tussen jambes en anapeste skep ‘n spanningsvolle onrustigheid dwarsdeur die gedig wat veral die vinnige tempo van die perderuiter uitbeeld, maar ook die dansritme van die elwe in die middeldeel vasvang.
2.5 Vertelritme
Die vertelritme dui ‘n belangrike verhouding tussen die storie en die verhaal aan. Die hoeveelheid aandag wat verskillende gebeurtenisse in die teks kry, bepaal hoe belangrik dié gebeurtenis vir die verhaal is (Du Plooy, 1986:282; sien ook Bal, 1980:77). Die saaklike beriggewing van die seun se dood tydens ‘n nagtelike rit te perd, beslaan slegs twee strofes. Die emosionele verhaal met sy bonatuurlike elemente darenteen, beslaan ses strofes. Die konkrete word dus verdwerg deur die abstrakte bonatuurlike element. Die enigste gebeurtenis wat meer as eenmaal vertel word, is die dood van die seun: eers deur die doodskreet in direkte rede (strofe 7) en dan as nugtere konstatering in die volgende strofe. Hieruit blyk dat dié gebeurtenis sentraal staan in die vertelling. Deur streng seleksie van gebeure en ‘n verskeidenheid van vertelwyses, verkry die teks ‘n addisionele emosionele geladenheid en ruimer perspektief.
Ontleed ‘n mens die ruimte wat aan verskillende karakters afgestaan word, blyk dat die elwekoning se spreekbeurte in die middeldeel slegs twee strofes beslaan, teenoor die drie van die vader en seun. Die voorlaaste strofe word deur die elwekoning en die kind gedeel. Hieruit volg dat die lotgevalle van natuurlike persone in hierdie gedig sentraal staan, ten spyte van die die feit dat die bonatuurlike uiteindelik triomfeer.
2.6 Karakters
Jolles (1956) koppel karakter in sy ondersoek van eenvoudige vorme aan die geestesaktiwiteite en die geestesbehoeftes in die dieptestruktuur van die gemeenskap (Du Plooy, 1986:51). Sy definisie van die mite is tot ‘n groot mate op Erlkönig van toepassing: dit gaan om die mens se vrae in verband met die wese van dié dinge wat die wêreld en die lewe beheers (Du Plooy, 1986:56). Alhoewel Erlkönig eintlik ‘n volksverhaal is, blyk hieruit dat die stof meervoudig gekodeer is om ook mitiese betekenis daaraan te verleen. Die karakters in die verhaal staan dus in diens van die beantwoording van die vraag na lewe en dood, soos dit in Erlkönig vergestalt word; daarom sal daar uiteraard weinig karakterisering of karakterontwikkeling voorkom.
Volgens Propp is die verskillende funksies van die verhaal aan die verskillende dramatis personae verbonde en stem die handelinge of funksies wat die karakters vervul, in alle sprokies ooreen. Hierdie siening sluit aan by die aktansiële model van Greimas wat met aktansiële groeperinge werk en waar sekere karakters in vaste verhoudinge tot ander karakters in die verhaal staan. So verteenwoordig die vader in Erlkönig die goeie en die elwekoning die bose. Die seun is, volgens Propp se klasifikasie, die persoon wat in aanvraag is. Dit lyk dus asof karakters in eenvoudige verhale dikwels eerder ‘n simboliese rol speel, want unieke karakterisering sou die karakter as individu sy algemeen-geldige status ontneem.
Tomaševskij (1965:88) se model sal die seun sien as die held of hooffiguur van die verhaal, die karakter wat die koers bepaal en die leser deur die verskillende motiewe lei (Du Plooy, 1986:112). Tog openbaar die seun in die loop van die verhaal weinig van sy karakter. Sy doodsvrees, wat verteenwoordigend is van die mens as sodanig, is al wat hy laat blyk. Die vader laat blyk slegs sy beskermingsdrang: “Er faßt ihn sicher, er hält ihn warm” (strofe 1) en sy besorgdheid: “Erreicht den Hof mit Mühe und Not” (slotstrofe). Die elwekoning se sluwe verskuilde agenda blyk uit die dreigement in strofe 7: “Ich liebe dich, mich reizt deine schöne Gestalt; / Und bist du nicht willig, so brauch ich Gewalt.” Tipies van die statiese karakter by wie nie die vermoë tot verandering aanwesig is nie, kan elke karakter as’t ware met ‘n enkele woord gekarakteriseer word.
2.7 Ruimte
Die ruimte waar die karakters optree, is op die vlak van die verhaal veel meer as ‘n blote plek. In Erlkönig word die donker, nagtelike ruimte waarin die vader en sy seun beweeg, gekontrasteer met die plesierige ruimte van die elwekoning.
Reeds die eerste reël bevat ‘n beskrywing van die ruimte: “Wer reitet so spät durch Nacht und Wind?” Hierdeur word die gemoedstemming van die vader en sy kind wat die ruimte aan die deurkruis is, gesuggereer. Veelseggend is die laat nagtelike uur en die wind, wat tradisioneel onheil suggereer. Laatnag word ook dikwels in verband gebring met die sterwensuur van mense. Die woorde van die vader in die middeldeel van die gedig bevat verdere verwysings na die ruimte wat ‘n onheilspellende, selfs spookagtige effek verleen: “Mein Sohn, es ist ein Nebelstreif” (strofe 2), “In dürren Blättern säuselt der Wind” (strofe 4) en “Es scheinen die alten Weiden so grau” (strofe 6). Net soos die eerste verwysing na die ruimte veelseggend was, is ook hierdie woorde belangrik: mistigheid word dikwels as spesiale effek gebruik wanneer die bonatuurlike ‘n rol speel; die suising van die wind in droë blare doen ‘n oproep op die gehoorsintuig en word ook gebruik by die skep van ‘n onheilspellende atmosfeer. Die woord “scheinen” (skyn) is ongewoon in die nagtelike milieu en impliseer ‘n bonatuurlike skynsel. Ten slotte is ook die verwysing na die treurwilger belangrik om die leser voor te berei op die slot van die gedig. Ironies is die bereiking van ‘n veilige hawe aan die einde van die gedig – wanneer dit reeds te laat is!
Dit blyk dus dat die ruimte waarin die vader en die kind beweeg, reeds aansluit by hulle vrees vir en geloof in die bonatuurlike en terselfdertyd vooruitwys na die einde van die verhaal en die kind se dood.
Die aangename ruimte waarin die elwekoning volgens sy beloftes verkeer, is deel van die religieuse mens se geloof dat die bose met plesier geassosieer word. Verskeie frases impliseer die koninklike staat van die elwekoning: “Kron und Schweif” (strofe 2) en “Meine Mutter hat manch gülden Gewand” (strofe 3). Die plek waar die elwekoning hou, word beskryf deur die frase “Manch bunte Blumen sind an dem Strand” (strofe 3), maar nader aan die slottoneel sê die seun: “Mein Vater, mein Vater, und siehst du nicht dort / Erlkönigs Töchter am düsteren Ort?” Veelseggend is dat die woord “düster” hier bo “dunkel” verkies word – ‘n vervreemdingseffek om die stof meervoudig te kodeer, want “düster” (“duister”) het ook ‘n figuurlike betekenis. Ook die verwysing na ‘n strand of ‘n oewer, met die implikasie van water, is nie onskuldig nie. In Goethe se werk is water dikwels die element van die dood (vgl. “Der Fischer”). Daarbenewens is die oewer ‘n belangrike drempelsone wat oorgang impliseer. Die aktiwiteite wat in die elwekoning se ruimte beoefen word, is eweneens plesierig: “Gar schöne Spiele spiel ich mit dir” (strofe 3) en “Meine Töchter sollen dich warten schön; / Meine Töchter führen den nächtlichen Reihn, / Und wiegen und tanzen und singen dich ein” (strofe 5). Die uiteindelike oorwinning van die elwekoning word gesuggereer in die verwysings na dié feestelikhede wat in ooreenstemming is met die meeste religieë wat in ‘n hiernamaals glo waarin die siel in ewigdurende geluksaligheid leef.
Sodoende word die kontrasterende elemente in die gedig reeds deur hulle plasing in ‘n bepaalde ruimte op veelseggende wyse teenoor mekaar gestel en word vooruitgewys na die lot van karakters wat in die verskillende ruimtes beweeg en optree.
2.8 Motiewe
Du Plooy (in aansluiting by Lämmert) beskou ‘n motief as “‘n verhaalelement wat ‘n bepaalde betekenis (meaning) het en wat telkens met betekenis en al gebruik word omdat die betekenis altyd dieselfde bly” (Du Plooy, 1986:357). Die belangrikste motief in hierdie verhaal word reeds in die titel genoem: Erlkönig. Volgens Wolfgang Kayser (Du Plooy, 1986:62) het ons hier met ‘n Leitmotiv te doen, dus “‘n motief wat ‘n sentrale posisie in die werk inneem en ‘n bepalende organiserende invloed in die werk is”. Die naam Erlkönig kom nie minder nie as 5 keer voor in die loop van die agtstrofige gedig. Reeds in die donker klank van die naam is iets van die boosheid van die karakter geleë. Die noem van sy naam roep telkens die kode van irrasionele vrees op wat die dood omhul. Net soos die elwekoning, is die donker ‘n motief wat ‘n samebindende faktor in die gedig vorm. Hierdie motief word in sy tradisionele vorm gebruik, naamlik as simbool van onheil, vrees en dood. Die eerste reël van die gedig bring die nag-kode die gedig binne. “Nacht” is hier nie ‘n blote tydsaanduiding nie, maar ‘n simbool wat die verhaal meervoudig kodeer deur die elemente van vrees, onsekerheid en naderende onheil deel van die gebeure te maak. Die woord “grau” (“grys”) (strofe 6) sluit hierby aan. Wanneer in die vyfde strofe verwys word na “den nächtlichen Reihn” en in strofe 7 gewag gemaak word van “düsteren Ort”, direk gevolg deur die duister dreigement, word die bykomende kode van erotiese magie wat dikwels in die volksballade teenwoordig is, aangeraak (Bräutigamm, 1912:31). Die wind (strofes 1 en 4) is nog ‘n tradisionele motief wat dikwels donker, onstuimige gemoedstemminge simboliseer. Dié simbool versterk die nag-simbool.
Waar bogenoeemde motiewe die een uiterste van die topos lewe-dood uitmaak, vorm die motief van die beskermende, troostende vader die ander pool van dié spanningsveld. Die motiewe speel dus ‘n organiserende rol in die teks deurdat hulle enersyds draers is van die tema lewe-dood wat in die teks belig word en sodoende die teks meervoudig kodeer, maar ook deurdat hulle ‘n belangrike rol speel in die totstandkoming van die artistieke topos van die teks.
2.9 Fokalisasie en vertelinstansie
In die epiese gedeelte word vanuit ouktoriële perspektief as’t ware uit die hoogte afgekyk op die gebeure. Sodoende ontstaan ‘n groot mate van objektiwiteit wat balans verskaf t.o.v. die hoogs emosionele middeltoneel. Die verteller besit intieme kennis van ten minste die vader se gevoelslewe, want hy kan berig: “Dem Vater grausets …” (slotstrofe).
Die middeldeel in direkte rede wat hoogs ongewoon is in die ouktoriële vertelstyl, bied die verteller die geleentheid om elke rolspeler self karakteriserend aan die woord te stel. Spreekbeurte word so gemanipuleer dat die vader en die seun telkens die verskyning van die elwekoning vanuit hulle perspektief beskryf. Meer hieroor in die volgende hoofpunt wat in ‘n volgende blog aangebied word.
(Die volgende skakel is na Dietrich Fischer-Dieskau se vertolking van Schubert se “Erlkönig:
http://www.youtube.com/watch?v=5XP5RP6OEJI )
Bronne
Bal, M. 1980. De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho
Bräutigamm, Kurt. 1912. Die Deutsche Ballade. Frankfurt am Main: Verlag Moritz Diesterweg
Brink, André P. 1987. Vertelkunde: ‘n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria: Academica
Du Plooy, Heilna. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth
Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Friedr. Veiweg & Sohn
Jolles, A. 1956. Einfache Formen. Halle: Veb. Max Miemeyer Verlag
Lämmert, E. 1968. Bauformen des Erzählens. Stuttgart: J.B. Metzlersche Verlagsbuchhandlung
Propp, V. 1971. Morphology of the folktale. Austin: University of Texas Press
Tomaševskij, B. 1965. Thematics. In: Lemon, L.T. & Reis, M.J. (Eds). Russian formalist criticism. Lincoln: University Nebraska Press
Hoe eenvoudig is dit nie om iemand as onintelligent af te maak wanneer kritiek jou in die gesig staar nie, al dui die bewyse ( ek verwys hier na die gedig wat die sogenaamde ongeleerde geskryf het) op die teenoorgestelde.
Marlies, Mooi stuk, alhoewel ek ook nie alles 100% verstaan nie. Gelukkig is ek nie die titelkoning wat my wyshede toedig waarvan ek niks weet nie. Die urinedruppeltjie in die oseaan is metafories gepas.
Dankie Johann!! Jy’s reg soos altyd. Ek het ook nou ‘n slag genoeg gelag en maak hierdie boek toe. 🙂
Marlies, die beste ding om te doen met karakters soos dié wat hulle knoeiwerk agter skuilname bedryf, is om hulle suurstof af te sny deur hulle géén reaksie te gee nie. Hulle sal helaas, soos die vlieë, altyd met ons wees.
Hoe bisar dat ‘n leser van so ‘n blog die gebruik van vakterminologie kan afmaak as verouderd! Mens wonder of dit net die gebruik van woorde met meer as een lettergreep is wat die jeugdige pootjie, of voel die betitelde dat wetenskappe as sulks geen plek meer in die een-en-twintigste eeu het nie? Vakterme is immers die bondigste en duidelikste manier om tegniese inligting oor te dra aan kundiges in ‘n sekere vakgebied (en dit is wat hierdie blog duidelik bedoel is om te wees). Vanselfsprekend sal ‘n kundige die aanbiedingstyl van enige geskrif aanpas by die tipe gehoor waarop dit gemik is.
Nou toe nou! Nog ‘n handvol karakteropenbarende teks-verse van die Skuilnaamkoning. (En met “Forensiese Taalkunde” ‘n buzzwoord, bied skuilname ook nie meer die beskutting van vanmelewe nie!)My ou, ek is jammer dat jy nou juis in die labirint van ‘n literêre teorieblog moes verdwaal – moet vir jou traumaties wees! Probeer maar (soos Hansie en Grietjie)die skakels terugvolg waarmee jy hier uitgekom het – straks is jy netnou weer tuis waar jy lekker Spiderman op TV kan kyk. Daarvoor het jy ten minste nie woorde nodig nie en daar sal nie allerhande goeters uitspring wat jy nie verstaan en waarvoor jy jou brein moet inspan nie. Ek hoop die wraak was soet en dat jy jou nie verder daaraan sal vergryp nie – brassery is immers sonde. Groetnis. Tannie M (hoop jy’s gou weer beter!)
Komiese Kwatryne
deur Die allerhoogste Koning van titels
Daar is ‘n digter, Tannie Joan
sy lewer kommentaar en hou van “moan”,
ek sit nou hier by my lessenaar
terwyl ek na my skerm staar.
Let op na alliterasie en enjambement
hierdie berig het duidelik sentiment
die letterkundewêreld is in rep en roer
hierdie is die eerste keer wat aksie op hierdie blog boer
En ai Oom Leon, Leon Retief
gbruik vl wrde asb
ons is dalk onkundig, ja ons is “dom”
die erns waarmee dit opgeneem word slaan my stom
En dan kom ons by Koningin Marlies
dateer jou taal op, “I beg you please”
verskoon nou maar my simpel gedig
maar hierdie is alles ‘n enorme klug
Moenie laat ons kommentaar julle uit die slaap hou nie
hou op so ernstig wees en lag bietjie
Ek dnk kng v ttls wl he mrlies moet so skrf – nes hy/sy dnk
Versindaba bedien alle liefhebbers van die digkuns. As hierdie akademiese en uitmuntende artikels oor die letterkunde die kommentator “Koning van titels” nie aanstaan nie, waarom dit dan lees? Waarom jou bemoei? Versindaba weier om mee te doen aan die vervlakking van intellektualiteit en die kultus van middelmatigheid wat dit dan tot gevolg het. Daar is vele ander webtuistes waar jy jou in aromatiese tale en tussen veelkleurige andersoortige dinosaurusse kan baai, en waar jou kommentare die snare op jou vlak sal aanroer. Hier is jy kennelik uit jou diepte en sal niemand jou ernstig kan of wil opneem nie.
@Koning van titels: Jou aanmerking sê alles oor jouself!! Jy het ‘n keuse wat jy wil lees en ek skryf vir ‘n bepaalde gehoor wat jou duidelik nie insluit nie.
Asseblief! Hierdie is ‘n belangrike akademiese bydrae en hierdie soort invektief is ongevraagd. As jy dit nie verstaan nie, ander waardeer dit wel.
Hallo Tannie!!! Ek wil net sê dat ek geniet geweldig min jou werk…aangesien ek nie een enkele woord daarvan kan verstaan nie, maar dit maak seker sin, aangesien jy 500 jaar oud is en duidelik ‘n ander dialek van Afrikaans praat. So kom ek stel dit in ‘n manier wat Tannie dit sal verstaan…die kwaliteit van u werk kan nie akkuraat vasgestel word nie as gevolg van die taalgebruik wat byna pre-histories is…so ek neem aan u kan dinosourus ook praat. Geniet u aand verder en mag die 21ste eeu u ook eendag bereik.