Ek het die afgelope maande verskeie kere op hierdie blog gedigte met ‘n verhalende aard bespreek. Verhalende poësie is waarskynlik die oudste vorm van poësie. Soos die naam aandui, bevat verhalende gedigte elemente van sowel die verhaal as van die poësie. In die bespreking wat volg en wat ek in drie afleweringe wil aanbied, sal ek fokus op een wyse waarop veral die verhalende aspek van verhalende gedigte ontleed kan word. Ek maak in dié bespreking van een van die bekendste narratiewe gedigte wat ooit geskryf is, naamlik Goethe se Erlkönig, gebruik van ‘n stel narratologiese beginsels. ‘n Boek wat baie nuttig gebruik kan word om sulke ontledings te doen en wat veral vir resensente ‘n aanduiding behoort te gee van wat (onder andere) in ‘n resensie bespreek kan word, is Heilna du Plooy se Verhaalteorie in die twintigste eeu (1986). Ek baseer my bespreking op haar model.
Goethe se bekende gedig Erlkönig wat in 1782 geskryf is, is waarskynlik aan ouer lesers welbekend. Vir lesers wat nie Duits kan lees nie, plaas ek onder die Duitse gedig ook ’n baie goeie Afrikanse vertaling wat ek op die Internet gevind is en wat blykbaar deur S.J. du Toit vertaal is.
Der Erlkönig – J.W. von Goethe
Wer reitet so spät durch Nacht und Wind?
Es ist der Vater mit seinem Kind;
Er hat den Knaben wohl in dem Arm,
Er faßt ihn sicher, er hält ihn warm.
.
Mein Sohn, was birgst du so bang dein Gesicht? –
Siehst, Vater, du den Erlkönig nicht?
Den Erlenkönig mit Kron und Schweif? –
Mein Sohn, es ist ein Nebelstreif.
.
“Du liebes Kind, komm, geh mit mir!
Gar schöne Spiele spiel’ ich mit dir;
Manch’ bunte Blumen sind an dem Strand,
Meine Mutter hat manch gülden Gewand.” –
.
Mein Vater, mein Vater, und hörest du nicht,
Was Erlenkönig mir leise verspricht? –
Sei ruhig, bleibe ruhig, mein Kind;
In dürren Blättern säuselt der Wind. –
.
“Willst, feiner Knabe, du mit mir gehen?
Meine Töchter sollen dich warten schön;
Meine Töchter führen den nächtlichen Reihn,
Und wiegen und tanzen und singen dich ein.” –
.
Mein Vater, mein Vater, und siehst du nicht dort
Erlkönigs Töchter am düstern Ort? –
Mein Sohn, mein Sohn, ich seh es genau:
Es scheinen die alten Weiden so grau. –
.
“Ich liebe dich, mich reizt deine schöne Gestalt;
Und bist du nicht willig, so brauch ich Gewalt.” –
Mein Vater, mein Vater, jetzt faßt er mich an!
Erlkönig hat mir ein Leids getan! –
.
Dem Vater grauset’s, er reitet geschwind,
Er hält in Armen das ächzende Kind,
Erreicht den Hof mit Müh’ und Not;
In seinen Armen das Kind war tot.
.
.
Die Elwekoning (Vertaal deur S.J. du Toit)
Wie ry daar so laat deur nag en wind?
Dit is ‘n vader met sy kind;
Hy druk die knapie so styf in die arm,
Hy hou hom veilig, hy koester hom warm.
.
“My seuntjie berg bang sy gesiggie, vir wie?”
“Sien Vader die Elwekoning dan nie?
Die Elwekoning met mantel en sleep?”
“My kind, dit is ‘n newelstreep.”
.
“Kom, kindjielief, kom saam met my!
So heerlik speel hul waar ek bly;
Veelkleurige blomme groei op die strand,
Van goud gaan jou kleed wees uit moeder se hand.”-
.
“My Pappie, is Pappie dan heeltemal doof
Vir wat Elwekoning my saggies beloof?”
“Bly stil, wees rustig maar, my kind!
In dorre blare duisel die wind.”-
.
“Gaan jy, lief seuntjie, met my saam?
My dogters ken almal reeds jou naam;
My dogters dans voor die nagt’like rei
En wieg jou en dans en sing so bly.” –
.
“My Vader, kan Vader dan glad nie gewaar
Elwekonig se dogters in die donker kol daar?”
“My seuntjie, my seuntjie, ek sien dit heel goed:
Die ou-gras skyn geel aan die randjie se voet?”
.
“Jou skoonheid bemin ek, my siel is ontsteld;
En as jy nie wil nie, gebruik ek geweld!”
“My Pappie, my Pappie, nou vat hy my raak!
Elwekoning het my seer gemaak!”
.
Die vader skrik; hy ry soos die wind,
En hou in sy arms die kreunende kind,
Bereik sy plaas in bange nood;
Die kind lê in sy arms dood.
.
Iets gebeur met iemand op ‘n sekere tyd en op ‘n sekere plek. In hierdie primitiewe definisie is die kern van die verhaal vervat. In verhalende tekste kan ten minste drie vlakke onderskei word waarop hierdie basiese elemente figureer, nl. die elementêre storie, die verwerkte produk en die wyse waarop dit tot stand gekom het (Du Plooy, 1986:293-379). Ek onderskei in my bespreking tussen storie en verhaal. Die storie is volgens du Plooy die logiese, chronologiese en kousale elemente soos dit deur die leser gekonstrueer word, terwyl die verhaal die artistieke verwerking van dié elemente is soos dit deur die ordenende instansie (outeur) verwerk is in ‘n poging om ‘n kunswerk te skep.
1. Die vlak van die geskiedenis
1.1 Narratiewe elemente
Erlkönig bevat ten minste twee stories wat op mekaar inspeel en gelyktydig verloop. Die storie op die konkrete vlak is dié van die vader wat met sy sterwende seun onderweg is en die ander is die koorsdroom van die kind wat hom verbeel hy sien die elwekoning en sy dogters in die donker.
‘n Rekonstruksie van die storie van die vader en sy seun sou min of meer die volgende inligting bevat: ‘n vader is laataand met sy koorsige kind te perd onderweg. Ten spyte van sy beskermende greep, raak die seun vreesbevange. Die vader probeer sy seun gerusstel. Hy ry al vinniger, maar wanneer hy die opstal bereik, is die kind in sy arms dood.
In die storie van die elwekoning sien die ylende seun die elwekoning wat hom uitnooi om met hom te kom speel en belowe dat sy ma en dogters hom sal vermaak. As die gewenste reaksie uitbly, wys die elwekoning sy ware kleure: indien die seun nie uit vrye wil kom nie, sal hy geweld gebruik.
Die titel van die gedig, “Erlkönig”, impliseer die elwekoning as die belangrikste akteur (sien Lotman, 1972) in die storie. Dit blyk egter dat alle dramatiese handeling met die seun verband hou: dit is die storie van sy doodsworsteling en eindig met sy dood. Die vader en die elwekoning staan elk in ‘n spesifieke verhouding tot die seun en hulle handelinge sentreer rondom die behoud of verkryging van die seun se lewe.Die elwekoning se moeder en sy dogters is akteurs wat in diens van die elwekoning staan en nooit aktief in die storie optree of die verloop van die handeling beïnvloed nie.
Die teks self bied geen presiese historiese plasing nie.Uit gegewens soos die rit te perd en die elwe-motief,wat tipies is van ‘n tydperk toe die dood met groot misterie omhul was, kan slegs ‘n rowwe afleiding gemaak word. Selfs maar ‘n raaiskoot in watter eeu die gebeure plaasvind, is egter nie moontlik nie en ook nie tersaaaklik vir begrip van die teks, wat oor ‘n algemeen-menslike tema handel nie.
Snelle tydsverloop word gesuggereer deur onder andere die metrum van die gedig en ‘n frase soos: “Dem Vater grauset’s, er reitet geschwind” (strofe 1). Die raam waarbinne die gebeure afspeel, beslaan heel waarskynlik nie meer as ‘n uur nie – moontlik selfs enkele minute.
Ook wat die plek betref, word geen geografiese verwysings deur die teks verskaf nie. Verwysings na bome soos “Es scheinen die alten Weiden so grau” (strofe 6) asook “Nebelstreif” (strofe 2) tesame met kennis van die Europese volksverhaal, skep die indruk van ‘n heidelandskap, miskien ‘n vlei, aangesien vleie en moerasse by uitstek die houplek van bo-aardse wesens is.
‘n Feit wat reeds op die vlak van die geskiedenis (sien Bal, 1980:13-14) belangrik is, maar op die vlak van die verhaal ook simboliese waarde sal verkry, is die donker, nagtelike ruimte waarin die storie afspeel.
1.2 Die uitgebreide storie
Op die tweede vlak van abstraksie pas die leser sy logiese kennis van die werklikheid en suggesties wat voorkom, op die storie toe, en veral ook dit wat nie in die storie staan nie.
In die uitgebreide storie is seleksie van gebeurtenisse belangrik. In die geval van Erlkönig is dit reeds op die eerste vlak van abstraksie duidelik dat slegs ‘n baie kort snit uit die lewe van die seun belig word. Alle tekselemente is so geselekteer dat die seun se worsteling om lewe en dood maksimaal belig word. Die woord, “ächzende” (kreunende) in die laaste strofe, bied die eerste sleutel dat die seun siek is. Die leser moet dan in retrospektief van sy/haar lewenservaring gebruik maak om die verskyning van die elwekoning as koorsdroom te identifiseer. Inligting oor die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die nagtelike rit word ook verswyg. Dit word aan die leser self oorgelaat of die vader en sy seun terugkeer huis toe en of die opstal wat hulle bereik dalk dié van ‘n dokter is waarheen die vader hom met sy kind gehaas het. Vir begrip van die storie is dit in ieder geval nie noodsaaklik nie. Die afloop van die storie, wat waarskynlik die verslaentheid van die vader, die droefheid van die moeder, selfs die begrafnis van die kind mag insluit, word eweneens verswyg en sal deur elke leser op individuele wyse gerekonstrueer word.
Ook wat akteurs betref, is streng seleksie toegepas. Die leser vermoed warskynlik ‘n beangste, biddende moeder iewers op die agtergrond, maar vir die loop van die storie is sy nie belangrik nie. Die karakters wat wel optree, staan almal in ‘n sekere verhouding (Greimas, 1971:6) tot die seun, wat die belangrikste akteur in die verhaal is en om wie se lewe/siel geveg word. Die vader se rol as beskermer van sy kind plaas hom in die kategorie van “lewensbewakers”, terwyl die elwekoning wat die kind uit die hande van sy vader probeer ontruk, hom kategoriseer as “lewensbedreiger”. Ook die seun se vrees is funksioneel en illustreer sy lewensdrang en doodsvrees. Die moeder en die dogters van die elwekoning, wat slegs genoem word en nie self optree nie, word in die elwekoning se stryd om die kind betrek as lokmiddele.
‘n Sekere mate van buite-tekstuele kennis word van die leser verwag om die seun se ontsteltenis (“was birgst du so bang dein Gesicht?”) te verklaar wanneer hy die elwekoning sien. Die gedig Erlkönig is geskryf na aanleiding van Herder se gedig Erlkönigs Tochter, wat weer ‘n nadigting is van ‘n ou Deense volksverhaal wat vertel van Herr Oluf wat op die vooraand van sy huweliksdag deur elwe in die woud verlei word om te dans. Volgens oorlewering mag die uitgenooide nie die uitnodiging aanvaar nie, anders sterf hy terstond. Wanneer Herr Oluf dan weier, word die elwe kwaad, slaan hom op die hart en tel hom op sy perd. Tuis aangekom, kan hy nog net sy ondervinding vertel en sterf voor die dag breek. Maar selfs sonder hierdie kennis slaag die teks daarin om die inherente boosheid van die elwekoning te vergestalt, onder andere deur sy assosiasie met die donker, maar ook weens die vrees wat hy by die kind inboesem.
Die omgewing waarin die storie afspeel, is op die vlak van die uitgebreide storie ook belangrik. Ofskoon ‘n presiese beskrywing van die milieu ontbreek, is dit veelseggend dat die storie in ‘n donker ruimte afspeel. Die donker word tradisioneel met onheil verbind. Ook die geloof aan die teenwoordigheid van bose magte in die donker is inherent aan die mens. Die deurkruising van ‘n onbekende ruimte versterk die suggestie dat die vyand nie op gelyke voet aangedurf word nie, dat die stryd so te sê in die domein van die bose beslis word. Die afloop van die verhaal word hierdeur reeds voorberei. Die omstandighede waarin die karakters hulle bevind, sluit pragtig aan by die omgewing. ‘n Stryd om lewe en dood kan per slot van sake moeilik in helder daglig, in die teenwoordigheid van simpatieke familielede die skrikwekkende afmetings aanneem wat in die tersaaklike gedig beskrywe word.
1.3 Aktansiële verhoudinge
Op ‘n derde vlak van abstraksie kan ‘n mens die onderlinge verhoudinge tussen akteurs in ‘n geskiedenis ondersoek. In die geval van ‘n eenvoudige volksverhaal soos Erlkönig, kan Greimas (1971) se aktansiële model baie suksesvol toegepas word deur gebeurtenisse vanuit die perspektief van akteurs te ondersoek.
In die storie van die vader en sy seun is die seun dus die subjek. Sy strewe om die lewe te behou is die spil waarom die storie wentel en dus die objek. Die mens se ingebore drang om te oorlewe is die begunstiger, met die kind weer eens as die (tydelike) begunstigde. Sy vader, wat hom probeer beskerm teen die bonatuurlike en hom so vinnig as moontlik na veiligheid haas, is ‘n helper in die seun se oorlewingstryd. Die negatiewe begunstigers in die storie is die siekte en die sterflikheid van die mens wat uitgebuit word deur die teenstander, die groep aktante wat die elwekoning, sy moeder en dogters insluit.
Neem ‘n mens die elwekoning se storie as uitgangspunt, is die elwekoning die subjek wat daarna streef om mag te verkry oor die kind . Hierdie strewe is die objek in die storie, met die begunstiger die siekte en die mens se sterflikheid. In hierdie geval bly die elwekoning as triomfeerder die finale begunstigde. Sy moeder en dogters is helpers wat hom bystaan in sy strewe, terwyl die seun se oorlewingsdrang ‘n negatiewe begunstiger is. Die teenstanders is die groep aktante wat die elwekoning probeer teenstaan, nl. die vader, die seun en selfs die perd wat beide dra.
1.4 Die narratiewe siklus
Claude Bremond (1977:186) sien die verhaal as ‘n ononderbroke siklus van verbeterings- en verslegtingsprosesse. Selfs in die eenvoudige storie onder bespreking bestaan daar ten minste nege handelingsreekse wat logies opeenvolg. Omdat hierdie storie streng gesproke slegs die finale krisissituasie in die kind se lewe belig, is daar in die kind se storie weinig sprake van werklike verbeteringsprosesse. Ons kan hier eerder praat van ‘n uitstel van die finale verskrikking. Bremond (1977:187) voer in dié verband aan dat die oomblik van stilstand of uitstel funksioneel gesien ‘n verbeteringsproses is waarop ‘n verslegtingsproses kan volg. Ontleed ons dus die kind se storie, kan op die inleiding, waar die vader die kind veilig in sy arms koester, teoreties ‘n verbetering volg. Daar volg egter ‘n verslegting: die kind word deur die elwekoning geïntimideer. Die verbetering realiseer in die gerusstellende woorde van die vader. Drie maal word dieselfde proses van verbetering en verslegting herhaal. Die laaste dreigement van die elwekoning (verslegting) word opgevolg met die dood van die seun, die uiterste vorm van verslegting. ‘n Fynere studie van die intensiteit en konsentrasie van verbeterings- en verslegtigsprosesse in die storie toon aan dat die verbeterings al huiweriger deurkom en die verslegtings al intenser word. Hierdie feit, tesame met die dubbele verslegtingsproses aan die einde, bevestig dat die gedig in sy geheel ‘n verslegtingsproses vir die kind uitbeeld.
Word die storie egter uit die oogpunt van die elwekoning beskou, is die teenoorgestelde waar: die verslegtingsprosesse in die kind se storie stel vir hom verbeteringsprosesse voor en die storie in sy geheel loop vir hom uit op ‘n triomfantelike verbeteringsproses.
Deur die narratiewe siklus op hierdie wyse te bestudeer, word dit reeds op die vlak van die storie duidelik hoe die een situasie logies uit die vorige voortvloei, maar deur die fokus verskillend te plaas, kan reeds hier gesien word hoe twee botsende magte in die gedig aan die werk is, elk met ‘n vernietigende agenda t.o.v. die teenparty.
In die volgende aflewering van hierdie bespreking, sal ek die vlak van die verhaal aanroer en aantoon hoe die elementêre storie tot ‘n kunstige verhaal omskep word.
Bronne:
Bal, Mieke. 1980. De theorie van vertellen en verhalen. Coutinho: Muiderberg
Bräutigamm, Kurt. 1912. Die Deutsche Ballade. Frankfurt am Main: Verlag Moritz Diesterweg
Bremond, C. 1977. De logika van de narratieve mogelijkheden. In: Bronzwaer, W.J.M. et. al Tekstboek algemene literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken
Brink, André P. 1987. Vertelkunde: ‘n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria: Academica
Du Plooy, Heilna. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban:Butterworth
Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Friedr. Veiweg & Sohn
Lotman, J.M. 1072. Die Struktur literarischer Texte. München: Wilhelm Fink Verlag
Dankie, Louis! Ja, die narratologie bied ‘n interessante perspektief op verhalende tekste – soos jy ook sal sien op die blog wat ek vandag gepos het.
Die narratologiese beginsels intrique my. Pragtige stuk.
Josh Ritter se weergawe:
http://www.youtube.com/watch?v=pepx5bzEO5A