Pieter Odendaal. Jean-Joseph Rabearivelo: Die poësie van tussenin-wees

No, it can’t go on like this.
And now, face to face with the Solitude that I go to create for myself, I cry out like Vigny’s Moses, having been for more than 15 days (deliberately, it is true) without that drug which widens what hath no bounds.

I set my hand J.-J. Rabearivelo
At the age of Guérin, at the age of Deubel
a little older than you, Rimbaud ante-néant.

22 June 1937,
at 10.07

Hierdie dagboekinskrywing is een van die laastes wat Jean-Joseph Rabearivelo gemaak het voor hy sy 36 jaar lange lewe in Tananarive (nou Antananarivo, Madagaskar) met sianied beëindig het en die sterfproses tot die bitter einde neergepen het. Verskeie bepalende gebeure het sy selfmoord voorafgegaan. Sy oudste dogter en oogappel, Voahangy, is 4 jaar vantevore oorlede. Rabearivelo se desperate droom om in die Franse literêre sisteem opgeneem en as gelyke aanvaar te word, is weereens gekortwiek toe sy aansoek om aan die 1937 Exposition Universelle in Parys deel te neem, afgekeur is en ’n klompie mandjiewewers in sy plek gestuur is om die “essensie” van Madagaskar vir honger Europese oë te gaan perform. (Hierdie belese, talentvolle man sou hul vooropgestelde idees van Afrika heeltemal omvêrgegooi het en hy is deur die Franse koloniale administrasie gevra om eerder tuis te bly.)

Verder was Rabearivelo ook versot op fin de siècle Franse digters: hy het wroegend en dronk deur die vroegoggendstrate van Antananarivo gestrompel (deels omdat hy die dandy’s en die opium-koppe, die digters en loslywe in Frankryk as sy poëtiese voorlopers beskou het, deels omdat hy bloot daarvan gehou het om hoog te raak en te dobbel). Hy het sy selfmoord ook heel bewustelik in hierdie tradisie gewortel, soos duidelik uit die aangehaalde dagboekinskrywing blyk.

Hierdie en ander faktore het daartoe bygedra dat Rabearivelo die groot Eensaamheid vir homself geskep het, soos hy dit stel. Alhoewel enige selfmoord tragies is, wil ek nie te veel oor Rabearivelo s’n uitwei nie. Ek wil nie hê dat Rabearivelo se selfmoord die prisma moet word waardeur mens sy hele oeuvre benader nie. Sy werk strek wyer as sy dood, oor kontinente en kultuurgrense heen, in ’n tyd toe interkontinentale verbeeldings nog bra skaars was – dis presies omdat ons mekaar nie as medemense kon verbeel nie dat ons die koloniale paadjie gestap het en soveel verwoesting gesaai het.

Lank voor die onafhanklikheidsgolf oor Afrika gespoel het en digters soos Senghor, Césaire en kie geleenthede kon kry om daarop te surf, om die golf met hul fantastiese en bemagtigende verse aan te hits, het Rabearivelo, opgeskopte koloniale skoolopleiding en al, gedigte geskryf wat amper skisofrenies tussen die Franse en Malgassiese verbeeldingswêrelde geswaai het. Hy het sonnette in die tradisie van die Franse Simboliste sowel as hain teny (’n tradisionele Malgassiese digvorm) geskryf; hy het in Frans en Malgassies geskryf en het soms Franse verse gepen wat hy as vertalings uit Malgassies aangebied het en vice versa.

Dit is veral Rabearivelo se interkontinentale verbeelding wat my so sterk tot sy poësie aantrek. Die ondraaglike tussensone waarin hy homself bevind het (nóg Frans, nóg tradisioneel Malgassies) is simptomaties van ’n koloniale tydperk waarin identiteitsverwoesting en -verwarring deel van die collateral damage van die gewelddadige transformasies van soewereine moondhede na Westerse kolonies was. Alhoewel sommige kommentators op Rabearivelo se werk ’n soort “progressie” van die vaste vorms van sy eerste bundels na die vryer, meer “inheemse” styl van sy latere werk bespeur (en gevolglik hierdie progressie koppel aan die koloniale en antikoloniale geskiedenis van Madagaskar), blyk die verhouding tussen sy Franse en Malgassiese identiteite meer gekompliseerd te wees, selfs (en miskien veral) in sy latere werk. Rabearivelo se hibriede self steek byvoorbeeld sy kop uit in die latere sogenaamde “Franse vertalings” van Malgassiese verse wat heel waarskynlik oorspronklik in Frans geskryf is.

Op ’n tematiese vlak kan hierdie tussenin-wees ook raakgelees word in Rabearivelo se fassinasie met die oorgange tussen dag en nag, tussen wakker en slaap – veral ook in sy veelbeprese bundel Traduit de la Nuit [Uit die nag vertaal] (1935). Hy keer herhaaldelik terug na dagbreke, skemers en die interaksies tussen lig en donker. Hierdie beheptheid met tussentye dui op ’n behoefte aan ’n berusting in die natuurlike voorkoms van tussentye. Dis asof sy verse telkens dieselfde dringende vraag vra: As die hemele elke dag met tussenin-wees kan deal, moet hy wat Rabearivelo is tog sekerlik ook kan?

Die rede hoekom ek nie te veel op Rabearivelo se dood wil konsentreer nie, is omdat dit te maklik sal wees om hom bloot as ’n slagoffer van kolonialisme uit te beeld. Hy was wél uitgelewer aan die Empaaiermasjien, maar hy het ook onophoudelik daaroor en daarteen geskryf.  Sy worsteling met sy koloniale identiteit het baie stof tot nadenke gelaat vir mense wat ná hom sou kom. Ten spyte van sy onmiddellike omgewing, het hy steeds daarin geslaag om nuwe vorme van hibriditeit te ondersoek en te skep, hibriditeite wat gepoog het om met die ongelyke ontmoeting van verskillende kulture en geskiedenisse te deal. Hy het deur sy gedigte gewys dat daar poësie te make is uit interkulturele onstabiliteit.

Aangesien ons hier in ons eie land ook op ’n daaglikse basis met hoë grade van interkulturele onstabiliteit moet deal, dink ek dat Rabearivelo se poësie as ’n rigtingwyser kan dien in die verbeelding van mekaar se werklikhede. Ons kan by hom afkyk om te sien hoe hy probeer sin maak van sy hibriditeit, en daardeur ook iets leer oor hoe om onsself beter te verbeel.

Hieronder volg twee tentatiewe vertalings van sy verse in Afrikaans. John Reed en Clive Wake se Engelse vertalings (Translations from the night: Selected poems of Jean-Joseph Rabéarivelo, 1975) het my van nuttige voorstelle voorsien toe ek raadop met die Frans was.

Autre naissance du jour

On ne sait si c’est de l’Est ou de l’Ouest
qu’est venu le premier appel ;
mais maintenant,dans leur huttes transpercées par les étoiles
et les autres sagaies des ténèbres,
les coqs se dénombrent,

soufflent dans les conques marines

et se répondent de partout
jusqu’au retour de celui qui est allé dormir dans l’océan
et jusqu’à l’ascension de l’alouette

qui va à sa rencontre avec des chants
imbus de rosée.

© J.-J. Rabearivelo. Presque-songes, 1934.

Nog ’n dagbreek

Niemand weet of die eerste roep
uit die Ooste of Weste kom nie;
maar nou,
in hul hutte deursteek met sterre
en ander assegaaie van die donker,
tel die hane mekaar –
hulle blaas op seeskulpe
en antwoord van oraloor
tot die slaper in die see terugkeer
en die lewerik opstyg
om hom met liedere tegemoet te gaan
deurweek van die dou.

Traduit de la nuit

Pour avoir mis le pied
Sur le coeur de la nuit
Je suis un homme pris
Dans les rets étoilés.
– Jules Supervielle

I
Une étoile pourpre
évolue dans la profondeur du ciel –
quelle fleur de sang éclose en la prairie de la nuit –

Evolue, évolue,
puis devient comme un cerf-volant lâché par un enfant
endormi.

Paraît s’approcher et s’éloigner à la fois,
perd sa couleur comme une fleur près de tomber,
n’est plus qu’une pointe de diamant
striant le miroir bleu du zénith
où l’on voit déjà le leurre
glorieux du matin nubile.

© J.-J. Rabearivelo. Traduit de la nuit, 1935.

Uit die nag vertaal

Omdat ek oor die nag
se hart geloop het
is ek vasgevang
in die nette van sterre.

– Jules Supervielle

I
’n Purper ster
ontplooi in die onpeilbaarheid van die hemel –
’n bloedblom wat oopvou in die prêrie van die nag –

ontplooi, ontplooi,
en word ’n papiervlieër wat uit die vingers van ’n slapende kind
glip.

Die ster skyn nader en verder te dryf,
verloor sy kleur soos ’n blom wat na aan sterwe staan,
word wolk, word wit en kwyn:
tot hy bloot diamandpunt word
wat die blou spieël van die senit bestip
waar mens reeds die glorieryke gelok
van die môre kan sien.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Pieter Odendaal. Jean-Joseph Rabearivelo: Die poësie van tussenin-wees”

  1. Mooi vertalings en goeie blog, Pieter. Hier’s een van my pogings van ‘n ruk gelede:
    https://versindaba.co.za/2011/01/31/kaktus-na-n-gedig-van-jean-joseph-rabearivelo/

  2. Pieter Odendaal :

    Hello Andries, dankie vir die kopknip. Ek kopknip terug vir die great kaktus-gedig! In watter mate het jy by die oorspronklike Frans gehou, en hoeveel het jy nuut bygeverf?

  3. Pieter, ek het baie liberties gevat. Bernard Odendaal sê mos om ‘n gedig wat reeds vertaal is te vertaal (m.a.w. ‘n vertaling van ‘n vertaling), is soos om iemand deur ‘n sluier te soen. Dis iets wat ek mildelik doen, helaas – veral as dit bv. by Spaans, Frans en Pools kom. Ek kan myself beter met Duits help, maar sit steeds met Engelse of Nederlandse weergawes neffens die oorspronklike.

  4. Marlise :

    Andries, ek het ‘n klompie Amichai gedigte vertaal uit die Engels, nie Hebreeus nie. Sulke gedigte verloor sekerlik iets van die inhoudelike, daarom noem ek dit liefs ‘omdigtings’. Omdat jy as vertaler dan ook so bietjie vryheid neem om af te wyk, juis ter wille van ritme, beelding, ens.

  •