Eergister ontvang ek ʼn oproep van my peetmoeder. Sy sê dat 35 jaar gelede het my moeder verskriklik gesukkel om aan my geboorte te skenk. Ek is gebore vanuit ʼn see van groen vrugwater. Daar word beweer dat ek benoud geraak het en my maag binne die baarmoeder begin werk het, daarvandaan die ‘groen’ skakering.
“Ouderdom het klein spinnekoppies gemaak.” Dit is wat my seuntjie op vier jarige ouderdom kwyt raak terwyl ons gesels oor verjaarsdae en ouderdom. Dit was vir my so treffend. Ek het dit dadelik in my dagboek neergepen. Ons grawe baie in die tuin opsoek na goggas en ek weet hy het ʼn voorliefde vir spinnekoppe, maar tog het ek geen benul van die wisselwerking tussen woord en idee van ʼn vier jarige.
Ek self is gefassineerd deur spinnekoppe. Hoe hul alles wat belangrik is toespin.
Ter viering van my benoude begin 35 jaar gelede, ontvang ek as geskenk die volgende gedig deur Sjaka S. Septembir (van Porselynnkas faam):
“tyd het lankal verby die krakerige ou deur van middernag gekantel
ek streel oor die landkaart, oor growwe stowwerige Afrika
probeer voel waar jou lyf is, soos ‘n blinde profeet
dronk op my eie verbeelding
wikkel ek om die kaart, draai dan weg en lag
breek om my stukke nag oop en tap brousels
uit eeue wat al vergeet is in my beker
want ek het jou gevind
toegespin in rooi drome
jou lyf opgekrul onder sterre
ek saluheer jou van ver
my skadu groet jou wêreld vir ‘n wyle
klim in jou lyf asof dit ‘n boomhuis is
en lê my kop neer in die holte van jou naeltjie
sodat ek binne jou, die rouvleis genot, van veilige drome
kan proe”