Hannalie Taute. In gesprek met Sjaka S. Septembir
(in gesprek met Hannalie en haar rooi/blou diagonalestreep masker)
vasbeslote gedagtes sit diep in die kristal van jou oë
waar lewe
beweeg
wynrooi en ligblou braaksel-lyne
oor die voordeur van jou gesig
waar kinders geheues los torring
in die saamheg van wang, na neus,
na oogbank
tot die gelaat saam in een familie geheg is
binne haar het die nuwe vlamwater gesig
‘n wilde ding losgeruk
‘n nuwe volkslied
wat uit haar begin vuur spu
die plekke in haar lyf
van glas, het versplinter en gesmelt
na beweeglike krete
die man met die bok-oë
het in haar geslag begin koffie drink
gemasker, met moed se kitaar styf gebloudraad
het sy haar nuwe krygerswysie
na die winkelsentrum begelei
daar gestop met haar gedagtes vry geruk van alle kruise
toe skep sy weer asem
lê haar terugblik in die spieël, op haar tong
besef weer wie sy is en
lek haarself skoon
oor haar skouer bly die lyne wink
bly nuwe wêrelde haar wese weg van hieraf bind
na waarhede
wat sy eendag volkome sal vind
(deels ontlont deur Breytenbach se ‘reispapier’ #5, bl 74, Die Windvanger)
*foto: self
*teks: Sjaka S. Septembir