Huldeblyk: Chris Lombard (1929 – 2012)

Die digter en kortverhaalskrywer Chris Lombard is op 8 Augustus op George oorlede na ‘n kort siekbed.

Chris was ‘n boorling van Heidelberg in die Suid-Kaap waar hy gematrikuleer het. Na sy studies op Stellenbosch was hy onderwyser en joernalis en daarna jarelank lektor, later senior lektor,  in Afrikaans in die Opvoedkunde-fakulteit van die Universiteit van Kaapstad. In die tyd het hy onder meer in Italië studietydperke deurgebring. Hy was ‘n tydgenoot en boesemvriend van die bekende toneelspeler Jannie Gildenhuys, eweneens ‘n Heidelberger. Jannie het die laaste maande voor sy dood by Chris gewoon wat hom versorg het. Chris wat self bekend as regisseur en toneelspeler in Kaapstad. Hy het sy doseerloopbaan afgesluit as dosent by die destydse Windhoekse Opleidingskollege. Daarna het hy op Heidelberg in sy ouerhuis gaan woon.

Na sy aftrede het hy hom op sy skryfwerk toegespits. Hy publiseer ‘n kortverhaalbundel, Vanuit ‘n ou dorpshuis (1996) waarin hy boeiend vertel oor sy eie familie, die streek, maar ook van reisavonture. In 1991 maak hy sy debuut as digter met die bundel Tussen die malgasse op die kaai. Die bundel was in 1992 op die kortlys vir die CNA-prys Daarna volg Millenium (1994) en Driemaster (2004).

Hy het ‘n groot liefde gehad vir Heidelberg en sy mense. ‘n Mens het hom dikwles soggens aangetref in die Wimpy by die ingang van die dorp waar hy sit en koerantlees en sy oog laat val op die plaaslike reisvaardiges. Ewe graag het hy uitgery na Witsand om die wisselende luime van rivier en see te ervaar. Sy huis was omgewe  deur ‘n woesteny van struike en bome waartussen ‘n mens hom op mooi dae in ‘n beskutte plek buite kon aantref, besig om sy Franse grammatika by te werk. Dit was ook ‘n aanloopplek vir skrywers en mense uit die dramawêreld.

Sprekend van die wyse waarop hy die kleindorpse atmosfeer hy met fyn hale van die die digterspen kon vaslê as gegewe in ‘n groot heelal is die slotstrofe van sy gedig “Kleindorpsannale” (Tussen die Malgasse op die kaai):

 

Die aarde hou geen seismografiese register

van selfs die felste trillinge van die pyn,

maar vee versigtig soos die reën in winternagte

oor elke afdruk van die hart, en senugrein.

 

‘n Mens vind Witsand terug in sy meesterlike “Groot bloublaas” (Driemaster), maar gewaar daarin ook ‘n gewiekste speler met die rapier van die satirikus:

 

Sy terreur het hier gestrand,

maar spook nog in spergebied:

Spore swenk en vurk in vroeër vrees

alkant om dié dwingeland.

Tot onlangs giftig pers voortvarend

– ‘n spoggerigheid met ‘n netellint –

 tril hy steeds bolseil, nou wrokkig

oor die skipbreuk van sy mag.

Langs hom, futloos ná die vloed,

lê die naelstringhopie van asuur

waarteen alreeds die slakkies pak.

Vanmiddag in ‘n brulsuidoos

sal hy dor bly kraak

en skuur.

‘n Windeierwrak.

 

Ons sal hierdie beskeie digter mis, maar in sy gebundelde woorde steeds soos uit ‘n gekoesterde alikreukelskulp kan hoor hoe roerend ruis ‘n heelal.

 

– Wium van Zyl.                                                                        

16 Augustus 2012 

  

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Huldeblyk: Chris Lombard (1929 – 2012)”

  1. Bernard Odendaal :

    Chris Lombard se bundels bly mens by. By elke herlees is daar weer dinge wat glans. Juwelekissies.

  2. Johann de Lange :

    Wêreldatlas
    Chris Lombard

    Na hul onvermoeide pogings
    om elke uithoek van die aarde
    volgens plantegroei en menslike bedrywe,
    selfs ooreenkomstig tale en gelowe,
    kartografies juis
    en kaleidoskopies fleurig te karteer,
    kyk geograwe op ’n dag verpletter toe
    hoe iets soos ’n meesterhand se pen
    regio op regio
    van die josefskleed-gebiede
    waar die mens al eeue lank floreer,
    magistraal en grif,
    in steeds donkerder arserings
    as terra incognita hersoneer.

  3. Joan Hambidge :

    Brief vir Chris Lombard

    Poste Restante

    “Die aarde hou geen seismografiese register
    van selfs die felste trillinge van pyn”

    – Chris Lombard

    Ek het jou eenmaal in lewende lyf ontmoet
    toe jy my buurman in Monte Alto besoek.

    Uiloog, vriendelik, afstandelik, onthou ek;
    ‘n man van min woorde, ‘n ware heer ontdek.

    Met jou spaars bydrae egte poësie geskryf,
    hier waar die hekbrekers, elke kywende wyf

    deesdae ‘n “gedig” op die internet post,
    selfs betaal vir ander om dit op te “poets”.

    Met die digkuns, so lyk dit my, is die verhoog
    verkieslik bó dit wat jy in die vuurherd stook.

    Daar is meer poëtasters, kansvatters en knoeiers
    in hierdie bedryf as oorgewig én dom rofstoeiers.

    Daar is méér pryse en medaljes as Augustyne;
    gemeensaamheid of domastrantheid vier hoogty.

    Vergeet van die awdl, daar word te veel gedoodle;
    die zeugma by koolkoppe dui op dié verloederle.

    Hierdie is geen ligne donnée, net iets vir ‘n Poète Maudit.
    Die dood van ‘n ware digter maak my so morbied.

    Joan Hambidge

  •