Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
17 August 2012

Huldeblyk: Chris Lombard (1929 – 2012)

Die digter en kortverhaalskrywer Chris Lombard is op 8 Augustus op George oorlede na ‘n kort siekbed.

Chris was ‘n boorling van Heidelberg in die Suid-Kaap waar hy gematrikuleer het. Na sy studies op Stellenbosch was hy onderwyser en joernalis en daarna jarelank lektor, later senior lektor,  in Afrikaans in die Opvoedkunde-fakulteit van die Universiteit van Kaapstad. In die tyd het hy onder meer in Italië studietydperke deurgebring. Hy was ‘n tydgenoot en boesemvriend van die bekende toneelspeler Jannie Gildenhuys, eweneens ‘n Heidelberger. Jannie het die laaste maande voor sy dood by Chris gewoon wat hom versorg het. Chris wat self bekend as regisseur en toneelspeler in Kaapstad. Hy het sy doseerloopbaan afgesluit as dosent by die destydse Windhoekse Opleidingskollege. Daarna het hy op Heidelberg in sy ouerhuis gaan woon.

Na sy aftrede het hy hom op sy skryfwerk toegespits. Hy publiseer ‘n kortverhaalbundel, Vanuit ‘n ou dorpshuis (1996) waarin hy boeiend vertel oor sy eie familie, die streek, maar ook van reisavonture. In 1991 maak hy sy debuut as digter met die bundel Tussen die malgasse op die kaai. Die bundel was in 1992 op die kortlys vir die CNA-prys Daarna volg Millenium (1994) en Driemaster (2004).

Hy het ‘n groot liefde gehad vir Heidelberg en sy mense. ‘n Mens het hom dikwles soggens aangetref in die Wimpy by die ingang van die dorp waar hy sit en koerantlees en sy oog laat val op die plaaslike reisvaardiges. Ewe graag het hy uitgery na Witsand om die wisselende luime van rivier en see te ervaar. Sy huis was omgewe  deur ‘n woesteny van struike en bome waartussen ‘n mens hom op mooi dae in ‘n beskutte plek buite kon aantref, besig om sy Franse grammatika by te werk. Dit was ook ‘n aanloopplek vir skrywers en mense uit die dramawêreld.

Sprekend van die wyse waarop hy die kleindorpse atmosfeer hy met fyn hale van die die digterspen kon vaslê as gegewe in ‘n groot heelal is die slotstrofe van sy gedig “Kleindorpsannale” (Tussen die Malgasse op die kaai):

 

Die aarde hou geen seismografiese register

van selfs die felste trillinge van die pyn,

maar vee versigtig soos die reën in winternagte

oor elke afdruk van die hart, en senugrein.

 

‘n Mens vind Witsand terug in sy meesterlike “Groot bloublaas” (Driemaster), maar gewaar daarin ook ‘n gewiekste speler met die rapier van die satirikus:

 

Sy terreur het hier gestrand,

maar spook nog in spergebied:

Spore swenk en vurk in vroeër vrees

alkant om dié dwingeland.

Tot onlangs giftig pers voortvarend

– ‘n spoggerigheid met ‘n netellint –

 tril hy steeds bolseil, nou wrokkig

oor die skipbreuk van sy mag.

Langs hom, futloos ná die vloed,

lê die naelstringhopie van asuur

waarteen alreeds die slakkies pak.

Vanmiddag in ‘n brulsuidoos

sal hy dor bly kraak

en skuur.

‘n Windeierwrak.

 

Ons sal hierdie beskeie digter mis, maar in sy gebundelde woorde steeds soos uit ‘n gekoesterde alikreukelskulp kan hoor hoe roerend ruis ‘n heelal.

 

– Wium van Zyl.                                                                        

16 Augustus 2012 

  

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Chris Lombard sterf na kort siekbed

3e gedagtes oor “Huldeblyk: Chris Lombard (1929 – 2012)”

  1. Joan Hambidge says:
    17 August 2012 at 15:01

    Brief vir Chris Lombard

    Poste Restante

    “Die aarde hou geen seismografiese register
    van selfs die felste trillinge van pyn”

    – Chris Lombard

    Ek het jou eenmaal in lewende lyf ontmoet
    toe jy my buurman in Monte Alto besoek.

    Uiloog, vriendelik, afstandelik, onthou ek;
    ‘n man van min woorde, ‘n ware heer ontdek.

    Met jou spaars bydrae egte poësie geskryf,
    hier waar die hekbrekers, elke kywende wyf

    deesdae ‘n “gedig” op die internet post,
    selfs betaal vir ander om dit op te “poets”.

    Met die digkuns, so lyk dit my, is die verhoog
    verkieslik bó dit wat jy in die vuurherd stook.

    Daar is meer poëtasters, kansvatters en knoeiers
    in hierdie bedryf as oorgewig én dom rofstoeiers.

    Daar is méér pryse en medaljes as Augustyne;
    gemeensaamheid of domastrantheid vier hoogty.

    Vergeet van die awdl, daar word te veel gedoodle;
    die zeugma by koolkoppe dui op dié verloederle.

    Hierdie is geen ligne donnée, net iets vir ‘n Poète Maudit.
    Die dood van ‘n ware digter maak my so morbied.

    Joan Hambidge

    Reply
  2. Johann de Lange says:
    17 August 2012 at 14:44

    Wêreldatlas
    Chris Lombard

    Na hul onvermoeide pogings
    om elke uithoek van die aarde
    volgens plantegroei en menslike bedrywe,
    selfs ooreenkomstig tale en gelowe,
    kartografies juis
    en kaleidoskopies fleurig te karteer,
    kyk geograwe op ’n dag verpletter toe
    hoe iets soos ’n meesterhand se pen
    regio op regio
    van die josefskleed-gebiede
    waar die mens al eeue lank floreer,
    magistraal en grif,
    in steeds donkerder arserings
    as terra incognita hersoneer.

    Reply
  3. Bernard Odendaal says:
    17 August 2012 at 07:04

    Chris Lombard se bundels bly mens by. By elke herlees is daar weer dinge wat glans. Juwelekissies.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • AVBOB Persverklaring
  • Joan Hambidge. Cussons twee verse oor rose
  • Ferdi Wheeler. Mars
  • Willem M. Roggeman. Het wit van Roger Raveel
  • bevan boggenpoel. winter

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d