Desmond Painter. Oor die Pavel Haas Quartet

‘n Jaar of wat gelede het die musiektydskrif Gramophone die Pavel Haas Quartet aangewys as die mees opwindende jong strykkwartet in die wêreld. Met goeie rede: hierdie Tsjeggiese viertal kry dit deurgaans reg om hoë vlakke van tegniese vernuf met passie, intuïsie en interpretatiewe kreatiwiteit te versoen.

Die Pavel Haas Kwartet

Die Pavel Haas Quartet

Daar is baie klassieke musikante wat tegnies vernuftig, selfs briljant is. Wat ‘n kunstenaar (of in hierdie geval dan, ʼn groep) een maak wie se werk ‘n mens wil volg, is egter méér as bloot tegniese vernuf. Dit het te doen met daardie seldsame vermoë om musiek vars te laat klink; met die bereidwilligheid om interpretatiewe risiko’s te neem; met die resonansie van ʼn ‘eie stem’. In sulke gevalle word tegniese vernuf soos Wittgenstein se leer: dit laat jou toe om bepaalde hoogtes te bereik, waarna dit weggeskop of ten minste uit die oog verloor kan word. Wanneer jy bo kom bewonder jy immers die uitsig, nie die leer nie!

Op die ou end verkies ek altyd die kunstenaar wat tot my spreek bo die een wat my bloot beïndruk… Anders gestel, die logika van die kompetisie (die wêreld van seisoenale rangordes, van wenners en verloorders) mag dalk deurslaggewend geword het vir die verwerwing van selfs artistieke onderskeiding, maar kuns is nie sport nie. Op die ou end gaan dit nie oor wie die meeste punte aanteken nie, maar oor wie jou intellektueel en emosioneel oorrompel. Die liefdesverhouding is dalk ‘n beter manier om oor ons lojaliteit aan (en, dikwels, ons obsessies met) bepaalde kunstenaars te dink.

Dieselfde geld natuurlik die digkuns: steriele virtuositeit is op die lang duur vervelig, en om tegniese tekortkominge in mense soos Walt Whitman of W.B. Yeats se werk uit te wys, is op die ou end van bloot akademiese belang. Ons voorliefde vir hierdie eerder as dáárdie digter word nie by wyse van die opstel van ʼn soort literêre balansstaat bepaal nie. Tog is resensies van Afrikaanse digbundels myns insiens nogal geneig om die klem op die tegniese sy van sake te laat val – op die leer (as ek weer by Wittgenstein kan leen) eerder as op die ‘uitsigte’ wat ʼn digter se werk bewerkstellig. Soveel klem word op die ‘verstegniese’ geplaas, so min op die ‘ideologiese’… op die betekeniswêrelde wat deur ʼn digter afgegrens, ontsluit of gesuggereer word. En wat dít betref bedoel ek nie bloot die aandui van ‘intertekste’ nie, ʼn praktyk wat ook steriel kan word en lees kan reduseer tot ʼn soort virtuose, maar bloot vindingryke spel.

Ek voel oor die Pavel Haas Quartet soos oor ʼn gunsteling rockgroep: ek hou van hulle klank, hulle aanslag, hulle besondere stem, en ek is bereid om hulle CD’s te koop ongeag die musiek wat hulle kies om op te neem. Daarteenoor moet die beroemde, hoogaangeskrewe Emerson Quartet baie, baie goeie resensies kry voordat ek iets van hulle sal koop. Hulle opnames van Sjostakowietsj se strykkwartette is tekenend: tegniese vernuf, amper verbluffend so, maar (vir my oor) te min hart en siel; niks wat jou per ongeluk te vinnig laat ry nie; niks wat jou hare laat rys nie.  

Luister daarteenoor na die Borodin Quartet se opnames van dieselfde werke: hulle transporteer jou na Sjostakowietsj se emosionele wêreld; sy angs en sarkasme, melancholie en woede is voelbaar juis in die hitte en die rouheid van die groep se aanslag. Daarteenoor steek die Emerson Quartet se gepoleerde, afgeronde klank baie sleg af – of ten minste, dit is beslis nie die soort klank wat tot my spreek nie.

Die Pavel Haas Kwartet se mees onlangse CD

Die Pavel Haas Quartet se mees onlangse CD

Die Pavel Haas Quartet se eerste twee CD’s was opnames van Tseggiese musiek: Leoš Janáček en die komponis van wie die groep hulle naam ontleen het, Pavel Haas. Vir hulle derde CD het hulle Prokofiev se strykkwartette opgeneem: fantastiese spel, maar Prokofiev se kwartette is vir my minder indrukwekkend as sy ander werk. Hulle mees onlangse CD, werklik ʼn meesterlike opname, is weer Tsjeggies: Dvořák se Opus 96 en Opus 106, die sg. Amerikaanse strykkwartette. Die CD het laasjaar weggeloop met Gramophone se toekennings vir beste kamermusiekopname asook vir opname van die jaar. Dit is werklik die moeite werd om na te luister.

Nou moet hulle net Sjostakowietsj aanpak!

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Desmond Painter. Oor die Pavel Haas Quartet”

  1. Leon Retief :

    Desmond na die beste van my wete staan slegs die op. 96 kwartet bekend as die “Amerikaanse” kwartet. Die op. 106 is gekomponeer na sy terugkeer uit Amerika. Ek het net een CD van die Emerson, toevallig juis van die op. 96 en dis ‘n na my mening begeesterde uitvoering. Weliswaar al jare terug opgeneem, moontlik toe die lede van die Emerson nog jonger en vol drif en passie was.

  2. Desmond Painter :

    Leon, jy is heeltemal reg, net op. 96 staan bekend as die “Amerikaanse” kwartet. Die Emerson is legendaries, so my louheid jeens hulle word sekerlik nie deur baie gedeel nie! Hulle Sjostakowietsj is ook begeesterd, maar dis net so POLISHED; ek hou van ‘n klein bietjie grintigheid… seker maar die jare se Bob Dylan luister. Maar gee die Pavel Haas ‘n kans: veral daardie eerste 2 CD’s van hulle, met Haas en Janacek se kwartette, is wonderlik.

  3. Leon Retief :

    Desmond, ek dink die woord “polished” is baie in die kol mbt die Emerson, maar ek sal hul weergawe van Dvorak se Amerikaanse kwartet vir niks verruil nie. Ek vermoed jy voel oor hulle soos ek voel oor Maurizio Pollini en Pierre Boulez. Beide van hulle laat my dink aan ‘n diamant wat pas uit ‘n vrieskas gehaal is – skitterend, maar kliphard en yskoud.

  4. Desmond Painter :

    Leon, ek sal beslis na hulle Dvorak luister. By beide Pollini en Boulez (as dirigent) is daar ‘n berekende kilheid wat soms vir my wel effektief is: ek het (onder meer) Chopin-opnames van Pollini en Ravel-opnames van Boulez waarop hulle groter afstandelikheid ‘n mens opnuut laat luister na musiek wat soms weer met TE veel “emotional abandon” gespeel word…

  5. Desmond Painter :

    Leon, vooroordeel kom altyd tot ‘n val: ek sit nou en luister na Webern se werke vir strykkwartet… uitgevoer deur die Emerson Quartet. En ek geniet dit absoluut! Miskien is dit maar net met die Sjostakowietsj waar ek en hulle mekaar verloor.

  6. Leon Retief :

    Desmond, ek is bevrees dat jy en ek mekaar hier verloor soos jy en die Emerson mekaar met Dmitri verloor het – as daar nou twee komponiste is wie se werke my vrou Lesli en ek met ‘n passie haat dan is dit Webern en Hindemith, veral en by uitstek lg se Ludus Tonalis – dit behoort liewer Ludicrous Tonalis genoem te word. Ek onthou steeds met ‘n groot smaail ‘n byeenkoms van die musiekklub waaraan ons destyds behoort het en wat by ons aan huis gehou is. ‘n Gas is uitgenooi en hy speel toe – ja, Ludicrous Tonalis! Ek het in my hele lewe nog nooit my liewe vrou so ongeskik gesien soos daai aand nie, na sowat 10 minute van die werk het sy nou nie juis te sagkens nie opgemerk: “This is PAINFUL!” Waarna die gas toe maar opgehou het. Gewoonlik sou ek bloos as sy so iets doen, want op haar bek geval is Lesli beslis nie, maar daai aand was ek lus ek klap hande!
    Nietemin, beauty is natuurlik in die ear sowel as die eye of the beholder/listener, ek is bly dat jy die Emerson se Webern geniet. Moet my egter nie verkeerd verstaan nie, dis nie dat ek ‘n lansie vir hulle wil breek nie, dis net dat ek daai vroee opname van Dvorak se Amerikaanse kwartet baie genotvol vind. En wie weet, dalk sal en meer van die Pvel Haas weergawe hou as ek dit eendag hoor.

  7. Desmond Painter :

    Ek luister my Weberns darem nie meer as so 2 keer per jaar nie… 😉

    Nog ‘n jonger kwartet wat vuurwarm is, is die Belcea Quartet. Ek het van hulle lieflike opnames van Schubert, Britten en VERAL Bartok.

  •