Vroegoggend werk toe gestap om ‘n 08h00-klas te kom aanbied. Dit was een van daardie halsoorkop-herfsdae, jy weet sommer by voorbaat dit gaan nie hou nie. Die lug was ‘n amper onbeleefde blou, vol fyn wolkekrabbeltjies: veertjies wat dryf, sê ek vir myself. En inderdaad, terwyl ek hier sit en skryf, sien ek reeds hoe die middag haar grys vlerke begin klap. Sal nie verbaas wees as dit vanaand al reën nie.
Ek het die regte musiek vir hierdie soort dag gegryp toe ek by die woonstel uit is: die uitstekende Tseggiese groep, die Pavel Haas Kwartet, se eerste CD, in 2006 deur Supraphon Music uitgereik, waarop hulle Leos Janacek se Strykkwartet Nr. 2 (‘Intimate Letters’) en Pavel Haas se Strykkwartet Nr. 2 (‘From the Monkey Mountains’) speel.
Leos Janacek (1854-1928) het natuurlik geen bekendstelling nodig nie, maar Pavel Haas (1899-1944) se naam is minder algemeen bekend. Hy was, soos Janacek, Tseggies, en is kort voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog in een van die konsentrasiekampe in Auschwitz dood. Benewens hierdie strykkwartet ken ek geen van sy werk nie, maar ek sal beslis op die uitkyk wees daarvoor.
Intimate Letters (1928) en From the Monkey Mountains (1925) is beide liriese, ongedurige werke. Vol hartstog en verlange tuimel hulle deur ‘n klankruim wat heeltyd huiwer tussen onweer en skaterende son. En die Pavel Haas Kwartet is in elke opsig opgewasse vir hulle taak. Hulle spel is trefseker en gepoleerd, maar sonder om (soos die Emerson Kwartet soms) ooit klinies te klink. Ek wag in spanning vir hulle om Sjostakowitsj aan te pak…
En skielik is daar nie ‘n teken van ‘n wolk nie… Onvoorspelbare ding, die weer.