
Ek het in 1989, toe ek in Standerd 7 was, begin om digbundels te lees — en koerante te fynkam vir inligting oor my nuwe helde. Ek onthou nog baie goed dat Die Burger in September daardie jaar ‘n artikel geplaas het ter viering van Breyten Breytenbach se 50ste verjaardag…
Destyds was ek erg onder die indruk van hoe oud die man was: ek was op die vooraand van my eie 15de verjaardag (ek verjaar op 30 September, presies twee weke na Breyten); hy was op daardie stadium dus meer as drie keer so oud soos ek! My kop het gesing: die man het drie keer my eie leeftyd geleef, en dan nog ‘n ekstra vyf jaar daarby…
Toe ek in September 2009 hier begin blog het was dinge al drasties aan die verander. Breyten se 70ste verjaardag is op hierdie webblad en in die koerante gevier; twee weke later het ek oudergewoonte verjaar en 35 jaar oud geword. Skielik, het ek besef, is Breyten Breytenbach net twee keer so oud soos ek… Ek was besig om vinniger ouer te word as hy!
Skaars drie jaar later (ek praat nou van gister, 30 September 2012) word ek 38 jaar oud, maar Breyten weier steeds om spoed op te tel. Hy is nou 73, wat beteken hy is nou bloot 1,92 keer so oud soos ek… waar gaan dit eindig?!
As dinge so aanhou gaan ek en Breyten Breytenbach wragtig nog eendag ewe dood wees.
(ek bedoel: ek kan NIE die presiese woorde onthou nie.)
Breyten, dit kom van Dylan se Blonde on Blonde, uit 1966. Die song se naam is “Sad Eyed Lady of the Lowlands”, en sommigeshet gereken hy het dit vir sy destydse vrou, Sara Lownds, geskryf — omdat die titel van die song nogal speel op die klank van ‘Sara Lownds’.
Dylan het oudergewoonte aanvanklik rond-en-bont gepraat en dit ontken; maar in 1976, toe die huwelik op die rotse was, het hy ‘n pragtige en nogal (vir hom) ongewoon direk selfverwysende song vir sy (briljante) album “Desire” opgeneem, met die titel “Sara”. Daarin sing hy: “I can still hear the sounds of those Methodist bells / I’d taken the cure and had just gotten through / Staying up for days in the Chelsea Hotel / Writing ‘Sad-Eyed Lady of the Lowlands’ for you.”
In jou bundel “Voetskrif” is ‘n gedig waarin die geliefde verbeel of herinner word waar sy ‘Dylan of Mozart’ luister. Ek het nie nou die bundel by my nie, so ek kan die presiese woorde onthou — maar in my kop, wanneer ek daardie gedig lees, is dit altyd Sad Eyed Lady of the Lowlands waarna sy luister.
Blonde on Blonde was (in die dae van viniel!) ‘n dubbelalbum: Sad Eyed Lady het die hele Kant 4 van die album beslaan.
Desmond: Dis baie mooi. Van watter Dylan album kom dit? Ek neem aan dis ‘n liriek vir ‘n song (waarvoor ons nie ‘n Afrikaanse vertaling het nie) en nie bloot ‘n poem nie?
Ek gee so deur vir Ka’afir. Hy meen egter jy beter ‘n ooreenkoms aangaan met die feministe voor hulle met jou deal. (‘n Slaanstaking?)
“My warehouse eyes,” – mmm, dis een van daardie beelde wat presies sê wat of hoe dit is sonder om duidelik te wees.
Groete
BB
Ek sou Ka’afir eerder wou herinner aan ‘n stukkie Bob Dylan (ons kan later met die feministe deal):
“With your sheet-metal memory of Cannery Row
And your magazine-husband who one day just had to go
And your gentleness now, which you just can’t help but show
Who among them do you think would employ you?
Now you stand with your thief, you’re on his parole
With your holy medallion which your fingertips fold
And your saintlike face and your ghostlike soul
Oh, who among them do you think could destroy you?
Sad-eyed lady of the lowlands
Where the sad-eyed prophet says that no man comes
My warehouse eyes, my Arabian drums
Should I leave them by your gate
Or, sad-eyed lady, should I wait?”
Plaas dat jy Ka’afir daarop attent maak, Desmond, dat hierdie macho seksisme darem regtig nie meer aanvaarbaar is nie! Dit klink asof jy die bliksem sterk in sy kwaad.
Op p.287 van die Taurus-uitgawe van Memory of Snow and of Dust lees ek:
“Ka’afir says: ‘When I was young I went for sad women, those with the down-turned mouths and the melancholic shadows under the eyes. I thought they were mysterious, that they had a secret ache which I could soothe or rub away and that they’d love me out of gratitude for taking them away from themselves. Now I’m attracted by gay young females with wide smiles and comfortable hips. By those who grab life to eat it until the juices run down their chins. There is nothing as pretty as the cheek of a woman.”
So is dit.
Same difference.
Francis, wanneer ek vlieg gebruik ek altyd die boarding pass as ‘n boekmerk — en los dit dan daarna in die boek. Dit is natuurlik ‘n bietjie pretensieus (of sommer net niksgewoond), maar nogtans is dit baie lekker om jare later, as jy na iets in ‘n ou boek soek, op so ‘n boarding pass af te kom. Miskien is my leuse ‘n bietjie anders as Jan Rabie s’n: ‘aanhou beweeg en ‘n pass maak.’
Breyten, dankie vir die gelukwense! Ek sit darem nog redelik stewig in die saal: soos my Griekse vriend gister s^e, ons hare word g’n grys nie, dit word silwer; en binnekort is dit goud.
Wat gedig maak betref het ek besluit om veral nie die gesteelde perde in die bek te kyk nie.
Ek het die Taurus-uitgawe (amper ‘n perd, maar ‘n Kretaanse bul is seker net so goed) van Memories of Snow and of Dust — ek sal vanmiddag gaan soek na dit waarna jy verwys.
So gepraat van perde. Ek onthou skielik dat Tom Gouws Memories of Snow and of Dust destyds op een of ander TV-program geresenseer het; en terselftertyd hoeka ook jou All One Horse.
Die goed wat mens onthou…
Desmond, ek hou daarvan om oor sulke reise-met-boeke te lees. En ek stem saam met jou oor die afskeep van Memory of Snow and of Dust (“memory is a faculty of the imagination”). Dit is die teks aan die hand waarvan ek in Des 1993/Jan 1994 deur Breyten se eerste Suid-Afrikaanse kunsuitstalling geloop het. Het selfs iets daaroor verwoord in die tydskrif De Arte. Ook hierdie herinnering is seker sentimenteel.
Desmond: Net om my perde(koop)storie van laat gisteraand te kontekstualiseer – want ek wil nie hê jy moet die indruk kry ek het enigiets téén Pegasus of Swartbiesies nie. Wat ek vergeet het om duidelik te maak is dat die ou man verwys het na ‘n ‘malperd’ wat nie opgesaal kan word nie.
En so van die os op die baadjie (waarop mens die os nie moet takseer nie): die boek waarna jy verwys (die Stofgeheue, ook maar stowwerig) bevat, so sien ek nou, ‘n amperse geloofsbelydenis tussen pp.283 en 288 van die Faber sagteband.
Met verskoning vir die byna esoteriese intiemheid van hierdie gesprek en verwysings.
Groete
Ka Miljoen
Francis, die eerste BB-boeke wat ek in 1989 gekoop het (terloops, goeie teken dat ek ouer word: vir my is BB Breyten Breytenbach; vir my studente verwys dit na Blackberry) was Katastrofes en Lotus. In ‘n boekwinkel in ‘n systraat tussen St Georges Mall en Adderley; ek vergeet die naam van die plek. Dit bestaan nie meer nie. Die eerste NUWE BB wat op daardie stadium aangeskaf het, was Memories of Snow and Of Dust. Mense skeep daai boek erg af. Ek het dit op ‘n gesinsvakansie na Zimbabwe gelees (in 1990); presies die regte soort boek vir ‘n droe winter in Zimbabwe. Ek het twee ander boeke ook by my gehad daardie vakansie: BB se End Papers en Elsa Joubert se Missionaris. Jitte, ek raak sentimenteel.
Gelukkige verjaardag, Desmond! (Dis nou wel ‘n dag of wat laat – maar wie is ons nou om dae te tel teen die enige ewigheid? Salud – y forza al canut!)
Die ergernis van te lank lewe is dat mens naderhand vergeet om dood te gaan. Maar wat, of ons nou langs die pad aaidel of nié, dit is so dat ons almal ewe oud is wanneer dit by lepel-in-die-dak tyd kom.
Ek onthou ‘n mooi ware verhaal uit die Kaukasiese bergstreke – ‘n joernalis kuier by ‘n man van 116 jaar. Lg. se seun kom binne, 93 jaar oud, kruppel van die pyn, glo van die perd afgeval. Die pa skud sy kop en sê vir die joernalis: “Vandag se kinders is ook nie meer wat hulle was nie.” Ek veronderstel hy het verwys na murg in die pype, of so-iets.
Jy sal sien mens tel spoed op by die afdraende. Aanhouer wen. Aanhou beweeg en gedig maak!
Groete,
Outop
Desmond, dis nou ‘n mondvol. Inderdaad, as jy so aanhou, haal jy hom wraggies op ‘n slim soort manier in! Hoop jy het ook al sy woordreise sedert 1989 ingehaal/bygehou. Francis