Martha – My Ouma, deur Marlene Dumas
die eksodus van ouma martha
sy word uitgeloot
ses maande op ’n slag
tussen haar oorblywende kinders
haar enigste reisgenoot, ’n bruin koffer
wat na kamfer ruik wanneer sy die deksel oopknip:
haar slapband Bybel in kantlap toegevou
driemaal voos gelees, van Genesis
tot Openbaring, elke bladsy bros
noteer in oumens-skriffie.
ook reisende huisapteek: blou botteltjie kasterolie
onontbeerlik vir ’n skoon derm,
samboksalf, kurkproppe teen die rumatiek
kussingsloop bultend met traktaatjies
vir die lang pad en al sy reisigers.
oor haar swartkappie-jare in die kakies se kamp
rep sy geen woord. soms droom sy die doodsengel
kom salf haar deurkosyn. gee haar eersgeborene terug.
haar hande trek laer om haar lanferdae
twee likkewaanpootjies van dekades se inlê uitrol potskuur
stoepe opvryf werfhoenders nek omdraai en kaal pluk
van elke stinkende veer. later jare skroei sy winkelkarkasse
met ’n kers. versigtig bad sy hulle in skotteltjies water,
vryf hulle in met olie.
om haar kinders teen haar vas te druk is ’n luukse
wat sy nooit kon bekostig nie. sy weet steeds nie hoe nie.
omgehekelde sakdoekie pal in mou versteek,
borstol-hoesie voor sy na die volgende huis gekarwei word
skuins voor slapenstyd borsel sy haar bolla
uit tot ’n silwer vag –
honderd hale: Moeder se instruksie.
haar dae het begin opdroog
die tonneltjies van haar miershoopbrein, verkalk
die termietnes finaal uitgehol
die kapkar wag op haar
die mierkoningin se eksodus
deur die veld het pas begin