Foto deur die outeur
Die werklikheid verstel
Hy luister
na die subtiele geluide
van iemand wat rondbeweeg
in die huis.
Hy is op die nag se bodem
en staar boontoe,
maar daar is nie die minste
flikkering van lig nie.
Hy vroetel sy gedagtes nader
en probeer dit aantrek,
maar sy hand kan nie die mousopening kry nie.
Iemand beweeg rond
in die huis.
Nou kan hy ‘n vlek
donker lig sien,
hoog bokant hom.
Daar is ‘n gedempte geluid,
‘n hand het iets beweeg.
Doodse stilte stap nader,
kom tot rus met ‘n bemoeisieke houding,
laat net die amper onhoorbare gesug
toe van ‘n baie ver vragmotor.
Iets het verander in die huis,
dit is nie soos dit vantevore was nie,
môre sal hy ‘n nuwe lewe begin.