[vii], deur Gilbert Gibson; (Tafelberg, Isbn 978 0 624 058847, R135, 91 bladsye)
Resensent: Joan Hambidge
in stilte afgemat they shuffle
they cut
I
Hoe benader ‘n mens Gilbert Gibson se jongste digbundel met die titel [vii] met verse wat “onvoltooid” klink en wat die leser moet voltooi – semantiese eilande is immers sy handtekening, nes by e.e. cummings waar die volgehoue spel met die sintaksis en semantiek die leser dikwels onverhoeds betrap.
Ek lees hierdie bundel as een lang uitgesponne vers. 85 Gedigte speel vorentoe en agtertoe. Die raaisel word opgelos in die gemoed van die leser wat bewus word van ‘n pynlike jeug en ‘n gesprek met ander digters. In my resensies van aldrie sy vorige bundels het ek op die tipiese Gibson-tegnieke gewys. Die belangrikste eienskap van sy digkuns is waarskynlik die “onvoltooide” gedig. Hy vra van die leser om in Roland Barthes se terme ‘n scriptible eerder as lisible lesing te maak soos uitgewys in S/Z (1970/1974). Die leser is mede-skrywer, mede-skepper aan die vers met sy vele intertekste en intratekste. Daar is dus gesprekke met ander gedigte, maar ook met die eie oeuvre. (Hierom verskaf ek my vorige lesings as ‘n addendum of supplement).
II
Jacques Derrida se nosies rondom die lees van tekste maak ons attent op ‘n paar relevante punte. In sy studie Of Grammatology wat ek onlangs weer gelees het, is daar drie aspekte wat van toepassing is op Gibson se werkswyse as digter, naamlik: om woorde of begrippe sous rature (under erasure te plaas: X ); daar is geen buite-teks nie (il n’ya pas de hors-texte) en die aporias in tekste word geaktiveer. Die leser moet die tekens of grammé noukeurig naspeur.
Hierdie is nie ‘n teoretiese artikel nie, maar ‘n resensie en ek verwys lesers na Spivak se puik vertaling van De la Grammatologie. Vir ons doeleindes is dit gebiedend noodsaaklik om te kyk hoé Gibson sy tekste vir ons aanbied. Hoe dit die leser noop om te dekonstrueer en te weet: er staat niet wat er staat!
Elke digter skep ‘n leesverwagting en hierom eis hy/sy ‘n leesstrategie.
Gibson se tekste bied nie closure aan nie; die leser word gedwing om self die vers te voltooi soos wat ‘n mens ‘n blokkiesraaisel invul.
Hy debuteer met Boomplaats (2005), hierna volg Kaplyn (2007) en die derde bundel heet Oogensiklopedie (2009). Die titels is reeds aanwysers van sy unieke aanslag: Boomplaats aktiveer die historiese slag van Boomplaats, maar ook plek van die boom; die kruisigingstoneel. Kaplyn is ‘n oorlogsbeeld.
In ‘n woordelys verduidelik die digter die kaplyn soos volg: “‘n (boomgesleepte) skoon stuk grond tussen twee vegtende lande, spesifiek met die intensie om spore wat die kaplyn kruis op patrollie raak te sien”.
Oogensiklopedie die aktiveer weer die mediese wêreld kompleet met mediese verduidelikings vir die leser. Oog (om te kyk/voyeur) neem die leser na verskillende vlakke van lees. By Gibson is ‘n mens altyd bewus van wat tussen gedigte gebeur – die inspeel op ander tekste en veral Die Bybel is ‘n belangrike bron vir die digter.
Die titelgedig [vii] ontbreek in die jongste bundel.
So ons moet dit oplos of invul. Die gedigte stel besondere eise aan die leser se kennis van ander gedigte en vorme van die digkuns.
Soos byvoorbeeld gedig nommer 14 met sy spel met sowel die sonnet as die ou FAK-liedjie “Blinkvosperd”. Op ‘n vernuftige wyse word die liefdesgedig gedekonstrueer: die verhouding is dood en word ná die volta tot lewe gewek. Die liefdesgedig word eweneens op sy kop gekeer in hierdie vernuftige vers.
In Jans Rautenbach se “Jannie Totsiens” is dit ‘n temalied. http://af.wikipedia.org/wiki/Jannie_totsiens
http://www.dinamiet.co.za/default.aspx?pid=453&stepid=1&oid=453
In Lacan se terme het ons hier ook te make met die tuché, oftewel die toevallige verdediging teen die traumatiese ervaring of indruk. Ons kan dus nie help om Reeva Steenkamp se dood ook hier in te lees nie.
Ongelukkig het die digter die gedig verander na nommer 15 en myns insiens die gedig verswak, omdat hierdie spel nou verdwyn! So lui die oorspronklike:
[14]
jou oë lê soos dooie vullens bokant
jou wange na ‘n uitbraak van perdesiekte
die wenkbroue daaroor die kleur van brommers
in die son. soos klippe in die veld
lê jou oë, en ‘n wind wat die aanheg
van gras tot skaduwee roer, waai deur jou mane.
jou oë dryf in die bloed onder jou voorkop
die wimpers geril tot inkennigheid
ek wil jou ribbe inval soos runderpes, die lyf
infekteer en stilletjies wegsluip voor die vlerkklap
van aasvoëls. ek neem jou besit soos ‘n slaak
van verligting, jou oë ‘n gestorwe graal:
jou keel is blinkvos
jou mond ‘n splinternuwe saal
© gilbert gibson. [ongepubliseerde verse] Oktober 2010.
(15)
jou oë lê soos dooie vullens
bokant jou wange na ’n uit-
breking van perdesiekte
die wenkbroue daaroor
die kleur van brommers in die son
soos klippe in die veld lê jou oë
en ’n roering wat die wind oor die gras
aan skaduwees heg
waai deur jou mane
jou oë dryf in bloed onder jou voorkop
die wimpers gevul met inkennigheid
ek wil jou ribbe inval soos runderpes
die lyf infekteer en stilletjies wegsluip
voor die vlerkklap van aasvoëls
wil van jou besit neem soos
’n slaak van verligting
jou keel is blinkvos jou mond
’n lang dun spleet om
’n geroesde stang
My belangstelling in die Amerikaanse geskiedenis het my verbeelding op loop laat gaan met die volgende vers:
[60]
in daardie film zapruder
kruip jackie in rukkerige bleek
kleure oor die kar
om dele van haar man
se brein bymekaar te maak
elkeen van haar hande
daar is net twee
van sosiale media bevry
dante is haar digter
hy verstaan haar wêreld in die motor
in daardie wêreld van liefde en chaos
soek haar hande bloed
soos hansie smal se hande soek na staal
Abraham Zapruder se “home-movie”-kamera het hierdie oomblik toevallig vasgevang op 22 November 1963. Op ‘n persoonlik assosiatiewe vlak: as jong kind verbied my ouers my om na die foto’s in National Geographic te kyk – op ‘n agtermiddag (ek is op laerskool) begin ek hierna kyk en word lewenslank gefassineer deur hierdie dramatiese oomblik.
Camille Paglia het in Vamps & Tramps verwys na Jackie se vinnige opspring in die motor, omdat sy ‘n perderuiter was.
“And the sport gave her superb reflexes” (193).
Soos Francesca Stanfill eweneens uitwys: Jackie O het ná haar dood ‘n media-ikoon geword; iets waarteen sy waarskynlik sou beswaar maak. Die sosiale media het deur die jare aan haar ikoniese status gegee.
“You know how it is,” Mrs. Onassis once told me when I was a reporter for the New York Times. “When you look back on your life, you hardly recognize the person you once were. Like a snake shedding skins.”
Sy had ook verskillende name wat hierdie identiteitsverandering aanstip: Bouvier, Kennedy, Onassis…En ‘n briljante vrou wat aan die Sorbonne gestudeer en later jare by ‘n uitgewsershuis gewerk het.
http://www.francescastanfill.com/a-story-on-jacqueline-kennedy/
Paglia se artikel heet “Mona Lisa in motion: Jacqueline Kennedy Onassis” – wat onder meer ‘n toespeling is op die feit dat die Mona Lisa kortstondig op bruikleen was in die Withuis.
“It was her baptisms by gunfire that deified her” (Vamps & Tramps, 191) besluit sy klinkend. Sy is soos ‘n argetipiese pietà in hierdie skokkende oomblik vasgevang.
Terwyl ek hierdie essay skryf, vertolk Maria Callas op ‘n voortreflike wyse Medea.
Dan beweeg die gedig na die sirkels van die hel en Hansie aktiveer vir my Hansie Cronjé se dood.
[18]
ek is bevrees dat ek jou
in versvoete verdeel en opslurp my lief
dat oë oor jou aanmeld die roering
van grashalms om
’n sluipende miervreter dat ek
jou bemin met voorkennis
want die meeste verklarings van liefde
bestaan uit herhaling van onweer
van oorloë teenwoordig of toekomstig
met verwysings na die liggaam
na dele van die liggaam
of agteruitgang van die liggaam
dus probeer ek die liefde
deesdae volhou
sonder woorde
om die tanende aard van metafore
van jou oë af weg te weer
die liefde maak blind
laat in die aand wag vaak
tussen dstv-kanale een vir een verander
ek bemin jou deur sport
by animasie verby
bo godsdiens en ’n voortdurende soeke na
die liefde maak blind
en vra om die tv af te skakel
die liefde word ’n berig voor
stormwindwaarskuwings
Die liefdesgedig word hier in die domein van televisie-kanale ingedra. Die geliefde word opgedeel; letterlik in versvoete verdeel. Dit lewer kommentaar op die moderne mens se besige lewe – dat ‘n gedig geskryf word nie meer in stilte of afsondering nie, maar letterlik terwyl die digter verskillende kanale besoek.
Hierom dalk word die liefde ‘n berig voor stormwindwaarskuwings? Die gedig is nie meer ‘n ruimte van geborgenheid nie, juis omdat dit letterlik in kompetisie is met moderne media soos televisiebeelde.
Boonop weet die digter(en nou die leser) dat liefdesgedigte dikwels oor die einde van ‘n verhouding handel:
want die meeste verklarings van liefde
bestaan uit herhaling van onweer
van oorloë teenwoordig of toekomstig
[24]
alice oswald op my af
die geluid van ’n fiets
van ’n bui reën wat jy
voor die tyd reeds ruik
jy kan haar spore na my toe volg
soos ink na ’n inkvis verskrik
bo ’n strandmeer se oopgevoude bodem
hier sluip iets soos koue
teen my ruggraat af
haar voetval wentel
’n aasdier
om ’n dooie skaap
in die naderkom van die hoogste wuppertal
wat mits dese vir haar van nuuts af
soos ’n bliksemstraal stuur
spoorloos en indrukwekkend
daardie grens van naamloosheid
wat om my baan en daar buite
op ’n ander reis begin gaan
Hier vind ons ‘n kopknik na Boerneef: die verwysing na Wuppertal en mitsdese is ons by die berggans wat sy veer laat val het. Die “spore” sit ons terug by Derrida – die leser as spoorsnyer wat die tekens moet naspeur en volg.
Vervolgens gedig nommer 42 wat eintlik die hele werkswyse perfek opsom:
[42]
vinnig maak venyn die woorde tot vers
reg voor jou oë
nog voor die yster in die vuur
hierdie woorde kom so naby jy
kan hulle ruik
en hulle verwerp insig
hulle verwerp oordeel
hulle is ’n lokus van woede
hulle kan oor jou buig
soos die mure van ’n nuttelose skool of kerk
die oorbeskerming van die gedig net ’n illusie
venyn is donker in jou oë
en jou oë is oop
en is bokant hierdie woorde stik-
siende en in temporale suspensie
want woorde is meer geheim as treinstasies
minder openbaar as logika
woorde se verdediging is beheers
en dra die liefde net as parodie
die vers noodwendig biografie
III
Die digterlike procédé herinner aan hierdie digter se manier van doen:
My Love Sent Me a List | |
by Olena Kalytiak Davis | |
O my Love sent me a lusty list, Did not compare me to a summer’s day Wrote not the beauty of mine eyes But catalogued in a pretty detailed And comprehensive way the way(s) In which he was better than me. “More capable of extra- and inter- Polation. More well-traveled -rounded multi- Lingual! More practiced in so many matters More: physical, artistic, musical, Politic(al) academic (I dare say!) social (In many ways!) and (ditto!) sexual!” And yet these mores undid but his own plea(s)(e) And left, none-the-less, the Greater Moor of me. |
http://www.poets.org/viewmedia.php/prmMID/23370
Intertekste ja en ‘n intree teen die figuur Marilyn Monroe wat so besing is in Afrikaans [77].
Dit is ‘n bundel wat getuig van belesenheid en intelligensie.
Elke gedig stel ‘n probleem en die leser moet die oplossing vind. In die proses word die gedigte terselfdertyd ‘n dekonstruksie van die gedig as outonome of afgeslote eenheid. Die skip-in-die-botteltjie is ‘n blokkiesraaisel of dalk ‘n kaartspel.
Die digter hou sy kaarte dig teen sy bors. Hy shuffle…
Joan Hambidge, Kaapstad
Maart 2013
Bibliografie:
Barthes, Roland. 1970/1974. S/Z. Hill and Wang, New York.
Derrida, Jacques. 1967/ 1997. Of Grammatology. Baltimore: Johns Hopkins University Press.
-. 1972/1981.”Plato’s Pharmacy” in Dissemination. Londen: Athlone Press.
-. 1978. Writing and difference. Vertaal deur Alan Bass. Londen: Routledge & Kegan Paul.
Paglia, Camille. 1994. Vamps & Tramps. New York: Vintage Books.
Resensie geborg deur:
Addendum:
http://joanhambidge.blogspot.com/search/label/Gilbert%20Gibson
Gilbert Gibson – Boomplaats (2006)
Gilbert Gibson. Boomplaats. Tafelberg Uitgewers, 2006. ISBN 0 624 04262 6.
Resensent: Joan Hambidge
So nou en dan word ek oorval met ‘n onvermoë om te kan slaap. En in een van hierdie tydperke, staan ek eenuur in die oggend op, loop kombuis toe, skakel die komputer en koffiemasjien aan en begin Boomplaats van Gilbert Gibson te lees. Wat ‘n verruklike, wonderbaarlike, oorrompelende leeservaring is dit nie. Dis later drieuur. Ek is nog steeds wakker en ek probeer bepaal: presies wat maak van ‘n gedig ‘n gedig?
In die vroeë oggendure formuleer ek dit dan so: die digter se vermoë om die onsê-bare te verwoord. Om die stilte wat agter alles lê, neer te skryf. Daardie primordiale iets wat onaantasbaar is, dit wat agter die vervlietende lê… Die mens se soeke na betekenis in ‘n lewe wat oorval word deur chaos, waansin, pyn, verwerping en verlies.
In die donker is alle katte grou en die volgende oggend, met die breek van die daglumier, herlees ek die verse en besef die digter het my nie in die donker nag mislei nie. Die verse is steeds helder en sterk.
Gibson het destyds in Nuwe Stemme 2 opgeval. Hy gebruik die Boere-oorlog, ou gesegdes, Totius om sy eie verse te laat lewe kry. Omdat hy medikus is, speel die mediese wetenskap dikwels ‘n rol in sy gedigte.
Daar is min digters wat so oortuigend die interteks op ‘n verhulde en terselfdertyd openlike manier aanwend as hierdie digter. Daar is soveel verse in hierdie bundel waarvan ek doodgewoon hou. Die slim spel met sy tradisie lei ons reeds af uit die titel wat natuurlik die Slag van Boomplaats op 29 Augustus 1848 aktiveer. Die mooi bandontwerp betrek ook gedigte: die omslag wys op die laaste oomblikke van iemand wat tereg gestel is en die voetspore is in die grond; net soos ‘n vers – in navolging van Van Wyk Louw, Cussons, De Lange – gewoon net ‘n natrek in die stof is.
Die Slag van Boomplaats kry eweneens ‘n ander ironiese wending wanneer ‘n mens weet dat die monument wat opgerig is, nou onlangs deur vandale beskadig is. By hierdie slag is die eerste Kaapse rebel tereg gestel na die geveg in die Trans-Gariep. Hierdie man is geskiet voor die Bloemfonteinse stadshuis. Terselfdertyd is daar bittermin oor die Slag geskryf. (Die digter gee ‘n plattegrond van die plek voor in die bundel.)
Waaroor het hierdie stryd gehandel? Natuurlik oor ‘n Britse goewerneur, ene Harry Wackelyn Smith wat die TransGariep geannekseer het en die Voortrekkers in opstand gebring het. Die Vrystaters het hulle teen hom verset. In hierdie stryd, onder leiding van Andries Pretorius, het ‘n senuweeagtige Boer ‘n voortydige skoot afgevuur en is die Boere dus bittergou afgeransel. Ene Thomas Hermanus Dreyer het weggehardloop en deur die Britte as krygsgevange geneem en in die krygshof tot rebel veroordeel. Hy is gefusilleer op 4 September 1848.Op ‘n uiters subtiele wyse speel hierdie geskiedenis in op die gedigte sodat die leser as’t ware twee tekste voor hande het: die ouer, historiese teks en die nuwe, moderne lewe van ‘n internis wat gedigte maak. Die leser kan dus self die drade saamtrek van hierdie subtiele eenheidsbundel. Dit word nie oordadig en soos die Engelse sê “in your face” uitgespeel nie. Dit is juis die subtiele aanbod wat so puik werk. Vir die non-mediese kenner is daar ‘n handige glossarium wat van nut is.
Daar is uitstaande verse in hierdie bundel soos “schurveberg”, “stil huis; sutherland”, “’n mens kan ‘n plaas klein bêre”, “oom was ‘n sinjaleman”, “wildeals”, om enkeles uit te sonder. Vir my was dit lekker – om in die staat van insomnia – ouer digters raak te lees en te sien hoe hy veral met Totius werk en ‘n kniebuiging maak (o.a.) na gert vlok nel in “oom was ‘n sinjaleman” of die digter se verlange na kindwees en sy herinneringe vaslê in ‘n “n mens kan ‘n plaas klein bêre”.
Die bundel maak ‘n sterk stelling oor die stand van die digkuns en die digter se lot.
Die jongeliede wat so kla en kerm dat hulle nie uitgegee word nie en moet wag na hulle pogings in Nuwe stemme, kan gerus hierdie bundel gaan lees. Dit is iemand wat werklik die beloftes van ‘n groepsdebuut manjifiek bevestig.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]
Gilbert Gibson – Kaplyn (2007)
Gilbert Gibson. Kaplyn. Tafelberg Uitgewers, 2007. ISBN 13 978 0 624 345 489.
Resensent: Joan Hambidge
Gilbert Gibson se Kaplyn is die tweede bundel van die digter wat bekroon is met die Protea-prys vir sy debuut: Boomplaats. In sekere kringe word daar gevoel dat hy die Ingrid Jonker-prys moes gewen het. Dis ‘n besondere digkuns wat op ‘n sobere wyse die wêreld van die mediese wetenskap betrek in verse wat intellektueel en intertekstueel werk. Maar ágter die sobere verse, is daar hewige emosie, verlies en pyn sigbaar.
In ‘n woordelys verduidelik die digter die kaplyn soos volg: “‘n (boomgesleepte) skoon stuk grond tussen twee vegtende lande, spesifiek met die intensie om spore wat die kaplyn kruis op patrollie raak te sien”.En dit is dan die digterlike aanslag: die opstand wat in slaap woel; gevegte tussen mense wat onopgelos voortstu; ‘n ouer persoon wat onthou hoe hy as kind getraumatiseer is deur sy pa se ongeluk, terwyl hy deelneem aan ‘n skoolkonsert; ‘n man wat by die vader se kis staan, ‘n knipmes in sy yskoue hand plaas sodat hy – indien hy nie werklik dood sou wees nie – sy pols kan oopsny ten einde werklik te kan sterf…
Dit is ‘n komplekse bundel met ingewikkelde verwysings en verswygings. Tussen afdelings is daar eksperimentele verse waarin die digter as’t ware assosiatief sy onbewuste aan ons voorstel: hoe hy met woorde speel, assosiasies skep (p. 75).
Ons vind hier ‘n geweldige sterk bemoeienis met die digterskap – ‘n soort skrynwerker van die woord. In ‘n minimalistiese vers dig hy soos volg:
mynramp
ek stuur ‘n kanarie
in jou hart af
om te kyk
of hy bly
leef
Die kanarie moet waarsku dat daar gifgasse mag wees en die gedig word ironies (en ikonies) genoeg iets wat die digter aan die geliefde stuur om uit te vind of húl liefde nog bestaan….
Met elke lees, word nuwe verbintenisse tussen verse getrek. Die digter onthou ‘n halfgerookte sigaret wat uitgeskiet word langs ‘n vuur en ‘n mens dink aan Wallace Stevens se stelling dat die digkuns ‘n geweld van binne is wat jou beskerm teen ‘n geweld van buite. Die digkuns van Theodore Roethke kom eweneens aan bod met die ervaring van hoe die verhouding met die vader deur gedigte loop. Daar is dan verwysings ook na die Vader, die Bybel (in verdraaiings tussen afdelings wat die onbewuste van die digter voorstel as vlakkig en opstandig) en die gesprek met vaderdigters: Van Wyk Louw en vele ouer digters. Daar is ‘n gesprek met Ginsberg, ‘n prosavers en ongehoorde reëlbreuke (op die / ‘n / in / met ) wat ‘n intense bemoeienis met die digkuns verraai soos in die ars poetica (“die son gaan onder”, p. 10) waar die duine dui op die betekenisse wat voortdurend skuif. Of die ontginning van “hin” in ”ooie teen die rante”.
Die teks is “my skip” en die katakombes van die dooies (‘n broer wie se geweer hy erf) of die dooie digters via intertekste meld hul hier aan. Oorlog is eweneens ‘n metafoor – reeds aangedui in die titel – met verwysings na die grensoorlog en die geweld tussen mense, hul stiltes, hul verraad. “bataljon twee” (p. 37) is ‘n ars poetica, maar eweneens ‘n lewensbeskouing waarin die “groute”van hierdie menswees weergegee word. Pyn priem hier eentonig en opstandig, om Breytenbach aan te haal.
Woorde word met dubbelbetekenisse gelaai en die digter ontgin in “lupus”(p. 24) die twee betekenisse van die begrip – met ander betekenisse wat die leser opspoor in die voortdurende gesprek met die woordelys agterin of gesprekke met jou self.
Hy droom van mites en mitoses; van ‘n slaap waarin ‘n kinderliedjie – ons hoor hoe Mimi Coertse lamtietiedamtietie sing – die weerloosheid van die spreker nogmaals weergee.
Die opstand teen die politieke onreg is fel, maar indirek. Hy buikspreek via Allen Ginsberg se “Howl” oor presies wat die onreg vir jong soldate ingehou het: hierom gedigte van die slaaploosheid, herkennings van geskondenheid in die self en ander (“delirium”, p. 58). In klein pynprikke word die kaplyn van ‘n psige ontbloot.
In “toemaar die donker man” (p. 61) word die huidige politieke onrus en soeke na werk brandend vertel in ‘n ontmoeting met ‘n swart jeugvriend en rondom voete word ‘n hele verlede en hede saam-gedig (via Jonker, o.a.). Dit is Gibson-vintage hierdie – die gedig tref jou by nabaat op sy felste, in sy oënskynlike beheer en afstand.
Iets hiervan bespeur ‘n mens in “finnegan’s wake”(p. 68) en in “margate”(p. 90). In “forensiese poësie”(p. 84) verklaar hy sy manier-van-doen wat inspeel op ander verse se skepsis oor woorde en die prosavorm.
Maar dit is juis hierdie beheer wat ook op die lange duur dalk gevaar vir die digterskap kan inhou: die digter moet sy emosies meer ontgin en vertrou. In navolging van Wallace Stevens is daar dertien woorde teen subjektiewe nood en pyn – hier word die pyn weer eens buite gehou deur die intellektuele skrynwerker wat o.a. met Neruda en Seamus Heaney praat.
Dit is egter nie ‘n bundel met altyd maklik of toeganklike verse nie. Die gedigte is ingewikkeld en word met elke lees ‘n komplekse refleksie op die digterskap.
Dit verdien om gelees te word.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]
Tuesday, January 29, 2013
Gilbert Gibson – Oogensiklopedie (2010)
Gilbert Gibson. Oogensiklopedie. Tafelberg Uitgewers, 2010. ISBN 978 0 624 04831 2.
Resensent: Joan Hambidge
Gilbert Gibson het vanaf sy debuut met Boomplaats (2005) die aandag getrek as ‘n opwindende digter wat op ‘n slim wyse werk met intertekste. Toe kom die tweede bundel Kaplyn (2007) en hy maak van die intertekstuele spel iets verregaande en uitdagend. Hy verskaf vooraf woorde, nee eintlik spore, waarmee die leser die bundel moet benader. Daar is selfs ‘n woordelys agterin om vreemd-klinkende en mediese woorde te help verklaar in die leesaksie wat ‘n kaplyn is. (En ‘n kaplyn is ‘n boomgesleepte skoon stuk grond tussen twee vegtende lande, spesifiek met die intensie om spore wat op die kaplyn kruis op patrollie raak te sien.)
Die jongste bundel heet Oogensiklopedie. Ons vind weer ‘n woordelys wat begrippe verduidelik Griffin lei ons na Ondaatje, die seun van Michael (wat op die voorblad verkeerd gespel word).
Die verduidelikings / endnote help dus die leser om die gedig oop te maak en as’t ware vanuit die digter se bedoeling te lees. Ons het dus die inhoudsopgawe – op die voorblad soos by Loftus Marais se Staan in die algemeen nader aan vensters – en dan die gedigte met die verklarings (aangegee as “woorde”). Die oog as I /eye is alreeds ‘n gelade simbool. ‘n Mens dink hier (onder andere) aan Luis Bunuel en Salvador Dali se Un chien Andalou waar die kyker sien hoe ‘n oog deurgesny word. Hierdie surrealistiese kultusfilm is vir my ‘n persoonlike kode by die lees van hierdie bundel waar die leser as’t ware van gedig na nawoord blaai, net soos in die film bekend om sy opheffing van ‘n kontinue ervaring.
Gibson stel dus bepaalde eise aan die leser, omdat sy gedigte nie volgens konvensies werk nie. “another roadside attraction” aktiveer onder andere Tom Robbins se kultusroman uit 1971. Dit is ‘n roman bekend om die non-liniêre progressie en in die gedig word die leser gekonfronteer met ‘n bloedige einde: ‘n gesin word uitgewis en “ingelyf” by ‘n vervoerwa weens ‘n kind wat ‘n balletjie gooi. Die pa se aandag word afgetrek: hy het sy oë neergeslaan.
Al die geledinge rondom die oog word in hierdie bundel in ‘n komplekse simbool-struktuur geaktiveer: sikloop, katarak, sien / kyk, sluiter, versluier, blik, wenkbroue, wimpers, oogknip, oogvog, pupil, sig, blind (onder andere is daar ‘n gedig oor Borges) ….
Dit is ‘n digterskap waarin daar dikwels besin word oor die rol van die digkuns:
Die woord met lug ‘n droom besleg
wat die donker van winter
nes ‘n voortdurende gedig
die beste vir later verberg (89, “sikloop”, ii).
Hierom dan ‘n woord in die kantlyn wat die leser moet neem na ‘n direkte verwysing of assosiasies oopmaak in die gemoed. Derrida se en marge kom dikwels hier ter sprake (skrywe) en die spel met tekens, nawoorde, die bewuswees van die woord se signifikasie, betrek Of Grammatology. Tekens, woorde, betekenisse. En wat uiteindelik nie opgevang kan word nie. Die digter wat wag op ‘n droom (“seiko seahorse”, 81, op ‘n gedig, op “closure” / sluiting.
Die gedigte beweeg tussen hoogs emosionele verse en gedigte wat intellektueel in beheer is. ‘n Gedig wat ‘n mens altyd sal bybly is die vierde gedig uit “sikloop”:
‘n man met ‘n katarak aan die een kant
loop in die tuin sy naam is samuel,
maar hy lyk soos simon die houthakker
sy vlaktepredikasie is oor leaves of grass
soos die toesegging van ‘n plaasskool
lê sy voete die dubbele standaarde neer
sy oog loer omkors met sout
die wang ‘n goedhartige
in die tuin is azaleas versigtig versprei
nes diasporas van afrikaners in’n ander land
hy reis tot waar die beddings verval tot wit
die sterjasmyn tot waar die struike
tot niks verdwyn, en die faulkners nog woon
in die moeë middel van die mississippi:
op vrydae sit Samuel die swart
sakke uit
“Ek onthou jou dus behendig / gephotoshop teen die dood” (124) is van die ongelooflike beelde wat die digter gebruik. ‘n Baie sterk motief in hierdie bundel is die talle verwysings na die religieuse. In die slotgedig “wat die mens” (130) word daar duidelik ingespeel op die Bybelse gegewe, maar dit word hier verdraai na die moderne mens met al sy ellendes en angste. Dit is asof die digter in hierdie bundel besig is met ‘n bestekopname van sy jeug en as’t ware sy lewensfilosofie van nou probeer bepaal teen dit waarmee hy groot geword het.
Oogensiklopedie is nie ‘n maklike bundel nie. Dit gee nie sommer sy geheime prys nie en die talle kruisverwysings maak van die bundel ‘n besondere ryk tapisserie.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]