In my vorige blog het ek begin met ‘n bespreking van skrywers se kommentaar op die skryfhandeling, na aanleiding van Antjie Krog se gedig “skryfode” uit die bundel kleur kom nooit alleen nie (2000) (Waar tussen hakies slegs na ‘n getal verwys word, word ‘n bladsy uit dié teks bedoel). Ek sit hierdie bepreking voort deur te fokus op die vind van digterlike inspirasie.
Die ondergrondse ruimte wat op ‘n metaforiese vlak die geheime ruimte van ondergrondse verset, opstand of ondermyning simboliseer, word in die letterkunde dikwels deur die kelder verteenwoordig. Dit is ‘n ruimte wat ryk is aan metaforiese betekenisse en dikwels deur metafore van donkerte uitgedruk word (Turner, 1969:95). Krog skryf oor dié ruimte:
ek verlaat die daglig
die sleur van gefabriseerde stemme
en gaan ondergronds
ek reis soos ‘n gedagte
dis stil hier
en volkome afgesluit
veilig privaat
ek tas die wande af
ek gryp in die ongegronde donker grondelings rond
om my stem te vind
om die geluid van die gedig te hoor
die reël wat sag oopspat van êrens (66).
Aguirre (2004:18) wys op die verskynsel in die letterkunde waar liminale sones “a condition rather than a location” is. Die feit dat die sprekende ek “reis soos ‘n gedagte”, laat vermoed dat ook vir haar die ondergrondse ruimte waarin sy haar terugtrek, nie soseer ‘n fisiese as ‘n metafisiese ruimte is nie.
Die digteres kies die “ondergrondse” ruimte spesifiek om digterlike inspirasie te kry, “om die geluid van die gedig te hoor / die reël wat sag oopspat van êrens”. Die belangrikheid van die klankmatige aspek van die gedig word eerstens uitgehef deur die klankmatige verband tussen die woorde “geluid” en “gedig” en tweedens deur die klanknabootsing in “sag oopspat”. Deur die klem op die klink van die gedig te laat val, word ook die orale letterkunde gesuggereer wat veral in Afrika ‘n belangrike vertelwyse is. Die klankmatige aspek van ‘n gedig dui vir Julia Kristeva egter ook op die vroulike aspek van skryf – écriture féminine.
Die ruimte wat “volkome afgesluit” is van die daaglikse sleur, die stil donker ruimte is vir die digteres bevorderlik om haar “stem te vind”. In die bogesiteerde fragment word deur assonansie van die o-klank semantiese verbande gelê tussen woorde wat die ondergrondse ruimte oproep: “Ondergronds” – “volkome (afgesluit)” – “(ek gryp in die) ongegronde donker grondelings rond”.
Die “hoor” van die gedig is egter ook in dié ruimte nie onproblematies nie. Die innerlike stryd van die digteres is implisiet teenwoordig in die suggestie van blindheid (“ek tas die wande af …”). Die blinde daad word verder gesuggereer deur die woord “ongegronde”. Letterlik kan dié woord egter ook bodemloos beteken en dan suggereer dit die onnaspeurbaarheid en die onkenbaarheid van die donker waaruit sy sin probeer maak. Die woord “grondelings” is weer eens ‘n woord wat verskeie betekenisse genereer, soos byvoorbeeld “grond-langs” wat kan dui op die feit dat die digteres nugter (met voete op die grond) soek na inhoude vir haar gedig. Dit kan egter ook die betekenis hê van op die bodem en dan kan dit verwys na die afsaksel, die sediment wat van die bodem loskom deur daarin te krap. Ook hierdie betekenis hou ‘n belangrike implikasie in vir die wyse waarop die digteres in haar ondergrondse sone skryf. Ten slotte is die grondwoord grond natuurlik ook die medium waarin groei plaasvind en ook hierin lê ‘n verruimende betekenis vir die gedig opgesluit.
Eksplisiet word die stryd in die bogesiteerde fragment verwoord deur die opmerking “en die skryf, die neerskryf, vind plaas in selfgeveg” waar die parallelisme (“en die skryf, die neerskryf …”) die problematiese skryfhandeling onderstreep. Stryd word ook geïmpliseer deur die onbegrip van die “man wat [sy] liefhet” wanneer hy verklaar: “die ruimte wat nie is nie / is nié …” asook deur die digteres se reaksie op dié stelling: “dit problematiseer die neerskryf / en ek baklei met myself tot die dood toe”. Hierdie “geveg” wat klankmatig weergegee word deur ‘n opeenhoping van plofklanke in die betrokke sitaat, eggo dwarsdeur die gedig in frases soos “soms word ek moeg van naamgee / van die worstelende selfgeveg” (70).
Bachelard (1964:23) verbind die ondergrondse ruimte met spesifieke aktiwiteite: “There, secrets are pondered, projects are prepared. And, underneath the earth, action gets under the way” (Bachelard, 1964:21-22). Ook vir die digteres van “skryfode” is die ondergrondse ruimte dié ruimte waarin sy haar versoeningsprojek kan bedink en van waar af sy dit as’t ware kan lanseer. Dit is die ruimte waarin sy kreatief met die taal omgaan en deur taal tot insig kom aangaande die probleme waarmee sy worstel, om stem te gee aan ‘n nuwe bedeling van vrede en versoening tussen alle mense van hierdie land. Die worsteling met die woord is duidelik die hoofmotief in hierdie gedig en blyk reeds uit die motto:
Writing is a fraught activity for everyone, of course, male or female, but women writers seem to have to take stronger measures, make more peculiar psychic arrangements than men … Janet Malcolm: The Silent Woman (66).
Die stryd met die beminde word in hierdie gedig, soos ook elders in die bundel, die metafoor vir die verskillende strydende partye van hierdie land, en – gesien in die lig van die laaste afdeling van die bundel – van die hele Afrika. Maar die minnaars staan ook vir die digteres se bemoeienis met die representasievermoë van die woord en vir haar bemoeienis met die skryfproses as sodanig.
Insiggewend is in dié verband Julia Kristeva se kommentaar op Dostoyevsky se Crime and Punishment. Sy lê veral klem op die helende aspek van skryf:
… suffering is overcome through forgiveness, but forgiveness is fundamentally a symbolic affair, and thus potentially an affair of writing … Kristeva … suggests that we should see much more than the imaginary rebirth of characters in these novels, and recognise that Dostoyevsky’s writing has analytic effects – first of all, for the reader, but most importantly for Dostoyevsky himself (Lechte, 1990:191-192).
Die afsondering in die liminale sone is beslis ook op sigself gerig, soos duidelik blyk uit die sitaat aan die begin van hierdie blog en ook uit die veelvuldige gebruik van die persoonlike voornaamwoorde “ek” en “my” dwarsdeur die gedig. Die stryd met die geliefde wat in die “ek-en-jy”-modus geskryf word, getuig van persoonlike betrokkenheid by die “ondergrondse” aktiwiteite, maar ook die spreker se persoonlike wroeging vind duidelik gestalte in frases soos:
ek het alles te verloor
ek gee niks op nie (68)
waarin die parallelisme deur herhaling die emosionele geladenheid van die uiting beklemtoon.
Die innerlike stryd met die netelige rasse- en kulturele kwessies van hierdie kontinent, weerklink dwarsdeur die bundel. Die sprekende ek se visie van versoening tussen strydende partye stuit egter keer op keer op die realiteit wanneer meerledighede na vore tree wat gekonfronteer moet word. Ten spyte van háár bereidwilligheid om versoen te raak en te vergewe, loop sy haar telkemale vas teen rasse-vooroordele van haar medelandgenote:
sal ek altyd wit wees
maak nie saak waarvoor ek staan
by wie ek skaar wat ek doen
wie my ondersteun nie?
(Uit: “ná grond-invasions in Zimbabwe” p.45).
Die reis, wat onderliggend is aan die bundel kleur kom nooit alleen nie, en ook ‘n belangrike komponent van “skryfode” vorm – “ek reis soos ‘n gedagte” (66) – is dus, benewens die verskuiwing na die liminale sone, vir die spreker ook ‘n persoonlike reis in haar eie psige in om tot versoening te kom met die problematiek van hierdie land, ten einde vir ander die weg te kan aandui.
Eers wanneer die spreker tot versoening met haarself gekom het, is dit, aldus Kristeva, ook moontlik om met die leser in interaksie te tree: “Writing produces forgiveness; for it opens up suffering to the self and thus to the other as well” (Lechte, 1990:192).
In “skryfode” word die versoening geïmpliseer deur momente soos:
ons raak mekaar aan met nuderwetse teerheid
ons wil duur om die aarde dop te hou
en taal te sny om die moment te betrag
die gemeenskap van ons bloed en ons hart (74).
Weer eens vind versoening tussen die minnaars primêr plaas op die vlak van die taal. Luister na verhale van “verwondes” is in die bundel kleur kom nooit alleen nie ‘n bevrydende handeling waarin die potensiaal van versoening opgesluit lê. Ook bostaande sitaat blyk dat “die gemeenskap van ons bloed en ons hart” deur middel van taal “betrag” en bepeins kan word.
Volgens Bachelard is die kelder een van die plekke waar mense se lot met mekaar verbind word en selfs ‘n ruimte waar die lot van mense geweef word. Hy illustreer hierdie stelling aan die hand van Henri Bosco se Antiquaires:
It is in a basement such as this that the antique dealers … claim to link people’s fates. Henri Bosco’s cellar, with its four subdivisions, is a loom on which fates are woven (1964:22).
Ook die digteres van “skryfode” is doelbewus besig om in haar liminale ondergrondse sone die lot van verskillende kulturele en rassegroeperinge binne hierdie land aan mekaar te probeer “weef”, soos byvoorbeeld in die gedig “ai tog!” en die weefhandeling waarmee die digteres haar wil identifiseer. Dit is vanuit die kelder dat die digteres met die ander wil kontak maak:
alles tonnel te diep
ek soek op die wind ‘n stem na jou toe (69).
Dat kontak wel gemaak is, woorde gevind is waarmee die ander bereik kon word, word teen die einde van “skryfode” duidelik. Die veelseggende slot van die gedig impliseer herstel en herlewing van weefsel wat reeds besig is om te ontbind:
raak my aan
vannag
my ontbindende wang met jou vingerpuntspriet (74).
Die metafoor “vingerpuntspriet” impliseer enersyds die pen (waar spriet die betekenis van grashalm het), maar dui andersyds ook op nuwe lewe wat (deur middel van die skryfhandeling) tot stand kom, wanneer spriet verwys na nuwe groei by ‘n plant. Verder kan spriet ook die voelspriet of antenna van ‘n insek aandui. Hierdie betekenis van die woord dui dan daarop dat die sprekende ek besonder sensitief is in die liminale sone waar sy haar bevind. Die attribuut “vannag”, met sy implikasie van donker, roep die “ondergrondse” ruimte op, dus die ruimte waar poësie bedink en geskryf word, die ruimte waar groei en heling kan plaasvind.
Dat nuwe verhoudinge wel tot stand gekom het as gevolg van die digteres se verkeer in die ondergrondse sone, word gesuggereer deur die versoening van die twee minnaars aan die einde van die gedig:
en nou kan ek sê
(in my uitgevegte taal):
hiér slaap jy vannag! (73)
Bronne:
AGUIRRE, Manuel. 2004. Austin’s Cat, and Other Observations Towards a Theory of Thresholds. In: Bredendick, Nancy. 2004. Mapping the Threshold: Essays in Liminal Analysis. Madrid: The Gateway Press.
BACHELARD, Gaston, 1964: The Poetics of Space. Boston: Beacon Press
KROG, Antjie. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.
LECHTE, John. 1990. Julia Kristeva. London: Routledge.
TURNER, Victor W. 1969. The ritual process. Structure and anti-structure. London: Routledge & Kegan Paul.
Evette, Bachelard sluit (dink ek) beslis aan by die Nornen-mitologie, maar heel waarskynlik ook by die Penelope-verhaal uit die Odussea waar sy Odusseus se doodskleed bedags weef en dit dan weer snags lostorring. Hierdie is vir my ‘n pragtige metafoor vir die kreatiewe proses en veral die vloeibaarheid daarvan, die ongedaan maak van die reeds gemaakte. Ook die verskillende prosesse wat in die dag en die nag voltrek word – sluit by AK se gedig aan. Dankie vir jou lekker saamgesels!!
Sal graag met Yvette Weyers en Marius Weyers persoonlik wou kontak maak, was as aspirant agtergrond ekstra tydens die verfilming van Amalia by die Pecanwood Gholflandgoed waar Marius Weyers, Dawid Minnaar ens. was. Wou nader kennis gemaak het maar was skaam en skrikkerig en onseker dat die akteurs nie gepla wil word nie.
Is besig om fiksie verhale te skryf, wil ook graag vir tweede keer probeer die wetenskap fiksie verhaal profesioneel te doen en as moontlike wenverhaal instuur. Enige leidrade en raad is welkom.
Bachelard beslis. Sy gebruik van die noodlot wat geweef word (in die Noorse mitologie weef 3 Nornen die mense se noodlot) en die digter weef ‘n beter bestel vir die mense van ons land in haar bundel.
… en Bachelard. Die solder en die kelder is plekke met besondere lading en simboliek. Breyten se kwepers sluit op ‘n manier aan by ‘n Bruidsbed vit Tant Nonnie, waarin die kwepers ook o.a. met herinnering verbind word.
Marlies. Is dit nie heerlik dat Breyten sy gedig, Die self as ‘n solder vandag op Versindaba geplaas het. Dit weergalm teen die kranse van ons gesprek oor bo en ondergronds, ekstase en meditasie. “ek moet myself te buite gaan’ van die skryfode en die opklim na die solder en ‘onderduiking’ in die reuke van sensuele herinneringe, en Breyten metamorfoses van beelde wat in die oogwenk van 3 woorde gebeur.
@ Megan: daar kom voor die einde van die jaar weer iets oor die liefde – dalk selfs oor diere.Tot dan:
The minute I heard my first love story,
I started looking for you, not knowing
how blind that was.
Lovers don’t finally meet somewhere,
they’re in each other all along.
(Essential Rumi – Coleman Barks)
@ Evette: Ek sien die liminale ruimte tot ‘n mate soos ‘n “out-of-body”-ervaring – iets soos baie diep meditasie waarin chronologie en liniêre tyd opgelos is … as jy regtig baie diep in meditasie kan ingaan, beleef jy dikwels baie helder insigte en is begrip van ingewikkelde konsepte oombliklik – mens sou dit seker met die woord “kreatiwiteit” kon beskryf, hoewel dit nie gewone kreatiewe denke is nie, meer iets soos ‘n openbaring.
jy moet probeer om oor diere of liefde te skryf
dit is ongelooflike pragtige gedig en dit is te diep ek hou van hom maar dit is emosineel
Marlies, Dankie vir jou in diepte ontginning van hierdie manjifieke gedig. My mees geliefde gedig van Antjie Krog. Jou bespreking het my laat besef dat daar geen kronologiese volgorde of analitiese afstand ondergronds is nie.
Marius gaan in sy eie tonnel in as hy die hart en siel van sy karakters soek.
‘Ek moet eers in die stom hart van die beeld in delf. Dit is ‘n blinde ontginnings proses. Ek boor deur soliede klip in die donker aarde in.’ Buite hoor en sien . So het ek dit beleef en neergeskryf en ook later in my boek geplaas. Nou, met jou blog, sien ek die ooreenkomste.
Ek glo dat ons almal as kunstenaars en skrywers daardie ekstatse beleef as jou verbeelding eers momentum opbou en voel ons vlieg. SIEN DIE ONEINDIGE MOONTLIKHEDE IN ELKE DING RAAK EN ALLES WORD ‘N POTENSIëLE BEELD.
DAAR ONS MEKAAR SO MIS IN DIE KUBER RUIMTE,
MY VONKPOS ADRES IS emoyeni@sonicmail.CO.ZA.
NOGMAALS DANKIE!!
evette
Persoonlik gebruik ek lankal nie meer die term “digteres” nie, omdat dit seksisties klink. Miskien is ek by die diep kant ingegooi tussen die Nederlandse digters?
Een van daardie vrae wat ‘n mens moeilik kan beantwoord, Joan!Oor die algemeen hou ek ook graag by die algemene term “digter”, maar die dinge wat Antjie doen, is so eie aan die vrou dat die term “digter” (wat maar onlangs eers “geslagloos” geword het)en vir baie steeds manlik is,my dalk laat besluit het om die vroulike term te gebruik. Seker maar my Duits moedertaalinvloed – moet ook bely hierdie stukke is al redelik oud …
Marlies, Hoekom digteres? Is dit nie maar digters nie? Digteres snuif vir my Opperman se “vroulike aanvulling”. Digters of vroulike digters dan. Digteres klink so na ‘n amper-digter. En dit is Krog nie.
Lekker stuk.