Hond
Canis lupus familiaris
Die hond poseer teen die blou, blou hemel
en die haelwit wolke wat hom omraam,
maar wat kan ék uit hierdie beelde haal?
Die hond staan fier op sy hoë pote
op die uitgestrekte Karoolandskap
asof hy hom uit ydelheid laat kiek.
Dit lýk so met die eerste oogopslag,
maar dan val die gespitste ore op
en die krom agter- en reguit voorpote.
Die hond is skaars in beheer, word gelei
deur sy natuur en word so die voorwerp
vir dié wat oor hom heers: hom wil teiken.
Hy is die som vir alle antwoorde
en in die stip van sy peilende oë
sien ek huiwering en vergetelheid.
Alles om hom bly dié uur dieselfde,
bly wag asof ’n skoot nou sal afgaan,
maar vir eers word dooierus geneem.
Na ’n foto van Daniel Naudé
© Johann Lodewyk Marais – 2013