Louis Esterhuizen. Komrij se huis in Portugal nou ‘n herberg vir digters

 

Na maande waartydens ek deur werksdruk en ander vreugdes onderwater gesleep is, kan ek uiteindelik darem weer kop optel en na die berge kyk. Uiteraard het bepaalde dinge agterweë gebly en is daar berigte en/of gebeurlikhede wat ek so soort van agterna sal moet byhaal; soos die berig oor Gerrit Komrij, wat verlede jaar op 5 Junie oorlede is, se huis in Portugal, “Villa Pouca”, wat voortaan as gastehuis vir die digkuns tot die beskikking van digters – of iemand wat met die digkuns gemoeid is – gestel gaan word.

Luidens die berig wat ‘n aantal weke gelede in Knack.be verskyn het, die volgende: “Komrij was bij leven en welzijn, zoals bekend, een groot promotor van de poëzie. Hij schreef niet alleen zelf gedichten maar financierde ook allerlei poëtische initiatieven: van het uitbrengen van een dichtersreeks voor debutanten (‘De Sandwichreeks’) tot het steunen  van een poëzietijdschrift (‘Awater’) en de jaarlijkse Turing Nationale Gedichtenwedstrijd, waar iedereen die een dichtregel op papier wil zetten aan kan meedoen. Uiteraard dat Komrij ook via zijn legendarische poëziebloemlezingen de dichtkunst alle eer aan deed.

Daarom besloot Charles Hofman, partner van Komrij, in  samenspraak met Suzanne Holtzer van De Bezige Bij om Huize Komrij als dichterscentrum om te functioneren. Op die manier  wordt de herinnering aan Komrij, het poëziebeest, levendig gehouden. Hofman en Holtzer vertelden Haerynck dat de subsidie-aanvragen al de deur uit zijn om dit initiatief alle kans op slagen  te geven […] Charles Hofman heeft een heel duidelijke en betrokken visie op hoe het moet worden. Hij wil niet alleen de geest en het werk van Komrij levend houden – de literaire nalatenschap is daar ook te bekijken – maar vooral ruimte bieden aan anderen die betekenis willen geven aan de poëzie.”

Nou ja, toe. Wat ‘n fantastiese gebaar …

Hieronder volg ‘n toepaslike Komrij-gedig soos dit deur Daniel Hugo vertaal is.

*

Tussendeur

 

Soos jy op die televisieskerm

Somtyds ‘n man sien wat, te midde van

‘n Karnaval of ‘n groep wat kerm,

Reguit by jou kamer inkyk, om dan

 

Vol oorgawe – hy bly mos ongesien –

Net vir ‘n oomblik te wuif. Die ellende

Of die vermaak rondom hom merk hy nie.

Wuif hy vir sy mense, vir ‘n bekende?

 

So wuif ek ook vir jou in dié gedig.

Baie vlugtig, tussen die reëls deur.

Hier’s nie ‘n skerm nie, jy’s naby my.

 

Ek wuif. Dit is regstreeks aan jou gerig.

Ek voel dit, grinnikend van oor tot oor:

G’n niemand het my gesien nie, net jy.

 

(c) Gerrit Komrij (Uit: Die elektriese gelaaide hand, 2005: Protea Boekhuis)

Vertaal deur: Daniel Hugo

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •