Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
7 June 201316 August 2013

Marlies Taljard: Weer “skryfode”

In my vorige drie blogs het ek geskryf oor die liminale handelinge wat met die gedig “skryfode” van Antjie Krog in verband gebring kan word. Hierdie blog het ten doel om ʼn oorsig en samevatting van die voorafgaande stukke te bied.

Die gedig “skryfode” is een van die gedigte in die bundel Kleur kom nooit alleen nie wat baie sterk fokus op versoening. In wese is hierdie ‘n epiese gedig met ‘n verhaallyn wat in die handelingspatroon sterk ooreenkoms vertoon met geykte narratiewe vorme soos die heldeverhaal, die sprokie en die mite. Soos die hoofkarakters in dié verhale, steek ook die sprekende ek in die gedig ‘n grens oor na ‘n liminale sone met die doel om sekere insigte daar te verkry en bepaalde handeling daar uit te voer alvorens sy met haar nuutverworwe insig en vaardighede na die gemeenskap en na haar vervreemde minnaar terugkeer om vrede te bewerkstellig.

Die stryd wat die spreker in die liminale sone voer, is hoofsaaklik ‘n stryd met die minnaar met wie sy in gedurige konflik leef en wat in die konteks van die bundel ‘n metafoor is vir die land en sy inwoners – en trouens ook andersom. Die stryd is ‘n meerledige stryd met die woord, ‘n twyfel aan die representasievermoë van taal. Dit is duidelik dat die spreker, vanweë haar digtersamp, versoening deur die woord wil bewerkstellig. Die skryfproses is daarop gemik om van terapeutiese waarde vir die leser te wees en om die mense van hierdie land met mekaar te versoen, maar dit is duidelik dat ook die sprekende ek deur die skryfhandeling tot versoening kom met haarself en haar situasie. Die transformerende krag van die liminale “ondergrondse” sone waarheen sy haar psigies terugtrek, stel haar in staat om communitas-handelinge uit te voer wanneer sy terugkeer na die gemeenskap en haar verlore minnaar wat gerig is op nuwe, vreedsame naasbestaan en die doel het om voorheen strydende partye en sisteme met mekaar te versoen deur middel van die woord en die digkuns.

Soos wat verkeer in die liminale sone deelnemers aan inisiasierites in staat stel om na herintegrasie in ‘n nuwe verhouding te staan ten opsigte van die gemeenskap waaruit hulle hulleself onttrek het, lyk dit asof haar afsondering “ondergronds” ook die digter van “skryfode” in staat gestel het om in die verhouding met haar minnaar nuwe insigte te verkry – waar die verhouding met die minnaar natuurlik steeds metafories is vir die gekompliseerde Suid-Afrikaanse rasse- en geslagskwessie en/of andersom. Soos die held in die sprokie die grens oorsteek en in die liminale gebied sekere toetse moet slaag alvorens hy die “prys” kan verower wat gekoppel is aan die suksesvolle afhandeling van die gestelde take of eise, so moes die sprekende ek van “skryfode” sekere psigiese en fisiese struikelblokke oorkom in die weg na versoening met die minnaar/ander/Ander. Soos verwonding vir die klassieke held deel was van sy verblyf in die liminale gebied, het ook die digter van “skryfode” nie sonder ‘n verbete stryd tot insig gekom nie en het ook sy letsels van haar “gevegte” oorgehou wat haar merk as ‘n “nuwe” mens wat met nuwe insigte die grens terug na die gemeenskap waaruit sy haar onttrek het, oorsteek.

Dit lyk dus asof ons in die geval van “skryfode” met ‘n tipiese heldeverhaal en nie met ‘n tragedie nie, te make het, aangesien die beproewinge in die liminale sone klaarblyklik ‘n positiewe uitwerking op die sprekende ek van die gedig gehad het (Estés, 2003:451). Dat daar wel ook herintegrasie by die gemeenskap plaasgevind het, kan afgelei word uit die waarneming: “ons raak mekaar aan met nuderwetse teerheid” (74) (my kursivering -MT). Die verbanning na die liminale sone het dus uiteindelik positiewe verandering teweeg gebring wat op nuwe verhoudinge in die gemeenskap dui. Benewens die reëls wat in vorige blogs aangehaal is, suggereer die voorlaaste gedig van die bundel ook dat ‘n weg van versoening gevind is en eindig met die reëls:

ek weet waarheen ek op pad is

tot hiertoe en verder huis (103).

 

Die frase “tot hiertoe” suggereer dat die reis voortgaan, maar dat vrede en versoening nie ten alle koste aanvaar kan word nie, dat sekere grense nie oorgesteek kan word nie. Tot dié besef het die geveg in die liminale sone die sprekende ek ook gelei.

 

Geraadpleegde bronne

ESTÉS, Clarissa Pinkola, 2003: Die Wolfsfrau: Die Kraft der weiblichen Urinstinkte. Aus dem Amerikanischen übertragen von Mascha Rabben (Titel der Originalausgabe: Women who run with Wolves). München: Wilhelm Heyne Verlag.

KROG, Antjie. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Marlies Taljard. Binne die kreatiewe sone
Hannalie Taute. Bloubaard: vir Vadersdag →

2e gedagtes oor “Marlies Taljard: Weer “skryfode””

  1. Marlies Taljard says:
    20 June 2013 at 08:20

    Baie dankie vir jou lees en insiggewende kommentaar, Evette! Dit bewys net weer dat ‘n groot digter haar nie in kompartemente laat druk nie. Daar is altyd nog fasette wat belig kan word, nog invalshoeke van waaruit geredeneer kan word.

    Reply
  2. Evette Weyers says:
    20 June 2013 at 00:11

    Marlies, heerlik om weer van jou te hoor rondom hierdie pragtige gedig. Jou beskrywing van die epiese natuur daarvan en die heldindade. Het my laat dink aan haar aangrypende en ook epiese “Ontnugter tot poësie.” skryfstuk. Geen soeke na versoening hier nie:

    Ek neem die volle wapenrusting van die gedig op, sodat ek staande kan bly teen die liste van vervlakking en dwaasheid in hierdie dae van weeklaagery en onheil. Die hele stuk met al die gedigte, o.a. pragtige Zoeloe gedigte, is absoluut manjifiek. Sy styg so hoog bo ‘vervlakking’ uit en was deur verskeie mense gesien as ‘n morele kompas in ons land.

    En haar triomfantlike einde waar poësie die alomvattende matriks is waarbinne ons voel, dink, vewoord verbeeld, besluite neem en tot aksie oorgaan.:
    Poësie verwissel nog altyd triomfantlik van gedaante na gelang van getye, modes en node, maar sy is onvernietigbaar. Lank nadat ek en u verby gegaan het, lank nadat die beskawings en tale waaraan ons deel was tot niet gegaan het, sal poësie voortgaan. Want die woord wat in die begin was, was natuurlik die skeppende word, die woord van oorlewing.”
    Antjie Krogg

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d