Pablo Picasso. Moeder en Kind.
Vir Liam
jy’s ’n klein
pienk planeet
met ’n ses-en-dertig
grade Celsius son,
waar jy vandaan kom
is dit altyd mooiweer
is dit altyd warm
jou ouers wentel
om jou
in hul eie bang bane.
jou stil ma
met haar vars keisersnit-wond.
jou pa
met sy grysgroen oë,
wie sy trane moet verloën.
Liam, dis mooiweer
en warm ook hier –
maar jou borskassie
is ’n maankind
wat na die klein en ver planeet
verlang
waar elke teug liquid sunshine is
jy, klein planeet
met voedingsbuis
waarin moedersmelk konstant drup
ook suurstof het jy
en ’n hartmonitor
(maar ’n planeet moet
vry tussen sy sterre
kan beweeg)
op die agste dag
van jou aardse hospitaalhotel
besluit jy oplaas:
hierdie wêreld was nooit my woning nie.
dus: reis Liam
reis deur sterre
na jou planeet waar daar vosse
en rose en stiltes is
jou ouers laat jy agter,
al wentelend om hul eie
leë aardbol.
maar jy,
jy weet van beter.
jy sal altyd hul eie klein
planeet bly.
Gister ontvang ek en my man die boodskap dat vriende van ons se premature baba na agt dae aan septisemie oorlede is. Ons is geweldig bedroef, omdat ons die outjie gaan sien het in die intensiewe sorg. Daar was groot hoop vir hom. Hy sou twee maande daar moes vertoef, totdat hy die negemaand-baken oorsteek. Nooit het hy sy oë oopgemaak tydens ons besoek nie. Net die borskassie wat op en af dein, met rukke en stote, tot die groot bekommernis van sy ouers. Nie sy ma óf pa word toegelaat om die brose mannetjie op te tel en teen hulle te sus nie. Wat my laat wonder het of die hospitaalsisteem iewers iets mis.
Besoektyd was oor. Ons het hom agtergelaat in die oorverhitte saal. Dit het my laat dink aan die Suid-Afrikaanse Zenmeester en menseregte-advokaat, Anthony Osler, se woorde: “Sometimes, this life feels just too hard”.
Om ’n kind te verloor, is ’n ander soort dood. Rückert skryf sy roerende “Kindertotenlieder” in 1833 en 1834 nadat hy twee kinders aan skarlakenkoors afstaan. Mahler komponeer vyf van hierdie as Lieder nadat hy, ironies genoeg, sy dogter, Maria, ook aan skarlakenkoors verloor.
Totius is een van die eerste Afrikaanse digters wat oor hierdie onderwerp skryf nadat sy dogter deur weerlig getref is (“O die pyn-gedagte”): “Ja, lieflingskind, / een straal het jou skone liggaam verskroei”.
In die hedendaagse konteks skryf Susan Smith eweneens ’n roerende vers – “by die dood van ’n kind” – wat sy aan die ouers opdra (laaste twee strofes):
het jy versigtig langs haar ingekruip
en die oorgeblewe stukkie kind van jou
wat weer klein en lig geword het
vas teen jou lyf getrek
en toe
– soos kleintyd –
die storieboek sorgsaam oopgevou
en haar blindweg die nuwe landskap
ingelees
Hier word die sterwende kind, in teenstelling met die premature baba, wel vasgehou en dan “ingelees” in die sterwenslandskap.
Alhoewel Antjie Krog se “by jou vertrek” nie oor die fisiese dood van ’n kind handel nie, skryf sy oor die hartverskeurende ervaring van ’n kleinkind wat finaal Israel toe vertrek saam met haar Israeli-moeder (laaste drie strofes):
in jou voorgeskiedenis
skeur ’n
mens klere en werp
as
op die hoof. ek bloei
uit my
milt
’n Paar jaar gelede maak ’n ander premature baba hoofopslae in Bloemfonteinse koerante: sy word op ’n stortingsterrein ontdek; haar lewe klou aan ’n nerf-fyn draadjie. Niemand weet wie die ma is nie en die baba word vir maande in intensiewe sorg gehou. Daarna het die berigte opgedroog. Sou sy nog leef, en indien wel, sou sy beskadig wees, haar eerste oomblikke op aarde iets wat sy altyd gaan aanvoel? Deur watter dale van skaduwees sou die ma nie moes kruip om haar dogter-kind, naelstring en al, in ’n vullisblik te smyt nie? Ek was erg ontroer deur hierdie storie en sluit af met ’n gedig wat ek oor hierdie anonieme baba geskryf het.
broeikas
sy skuil in die buik van ’n broeikas
ontblote goudvis in ’n tenk,
dun hospitaalpypies vislyn oor haar.
naamloos vir nou.
want haar eerste housewarming
was ’n ingeduikte vullisdrom
haar bestemming die stortings-
terrein (langs suid-park begraafplaas)
waar brandende bande nou al vir weke
aangrensende buurte se kele verkool
sy is gemus in pienk
(gehekel deur ’n kinderlose volunteer-tannie)
hier waar sy lê onder ’n karos van plastiekbuisies:
gemasjien teen die sterwensoomblik.
tog spin die broeikas baarmoedersproke.
dae op daardie godverlate vlakte van ontbinding.
miere wat haar halssnoer in swart pêrels. aan haar naelstring
begin knaag. die son het haar met ’n laaste ave maria ingesalf
toe die moeder haar
hande afvee
aan haar bloedskandelike rok.
Bronne:
Brink, A. ed. 2008. Groot Verseboek, Deel 1 en 3. Kaapstad: Tafelberg.
Krog, A. 2006. Verweerskrif. Roggebaai: Umuzi.
Osler, A. 2008. Stoep Zen: A Zen Life in South Africa. Aucklandpark: Jacana.
Smith, S. 2012. In die Afwesigheid van Sin. Pretoria: Protea.
Dis ‘n ongelooflike roerende vers, Joan. Dankie vir dit.
Klassieke vers:
Child burial Paula Meehan
Your coffin looked unreal,
fancy as a wedding cake.
I chose your grave clothes with care,
your favourite stripey shirt,
your blue cotton trousers.
They smelt of woodsmoke, of October,
your own smell was there too.
I chose a gansy of handspun wool,
warm and fleecy for you. It is
so cold down in the dark.
No light can reach you and teach you
the paths of the wild birds,
the names of the flowers,
the fishes, the creatures.
Ignorant you must remain
of the sun and its work,
my lamb, my calf, my eaglet,
my cub, my kid, my nestling,
my suckling, my colt. I would spin
time back, take you again
within my womb, your amniotic lair,
and further spin you back
through nine waxing months
to the split seeding moment
you chose to be made flesh
word within me.
I’d cancel the love feast
the hot night of your making.
I would travel alone
to a quiet mossy place,
you would spill from me into the earth
drop by bright red drop.
Dankie, Fanie vir die interessante inligting. Ek gaan beslis die gedig opsoek.
Vir inligting: Ek het Johann en Rika geken as sterk vormend in die skeppende taal van n dogter in lewe. Bloeityd is op 20 Mei 1994 deur hulle aan my oorhandig met die boodskap “Op so’n bloeiwyse wil ons dankie sê vir en begrip uitspreek met die blomme uit die pen van Mardene-wat u aan ons toevertrou en met ons gedeel het” Dit sou later die grondslag wees vir beurse en die RAU/ Mardene Marais toekennings vir skeppende Afrikaans. Rika Cilliers het in Vlier (Tafelberg, 1989) n gedig “Mardene” (bladsy 42)ingesluit.
Terloops die dood van n kind het in hierdie geval behalwe die trauma ook die stigting van Cordis Trust vir deernisprojekte, die bevordering van skeppende Afrikaans en geestelike groei tot gevolg gehad omdat n navolgenswaardige voorbeeld gestel is.
Baie dankie Joan, ek was nie bewus van hierdie bloemlesing nie. Ek sal dit baie graag onder oê wil kry.
Daar is ook ‘n bloemlesing van Rika Cilliers en Johann Johl. Dit heet Bloeityd (Tafelberg, 1993). Dit bevat van die mooiste verse oor kinders – o.a. die gedig van I.L. de Villiers oor ‘n kind wat nie wil sterf nie.
Jy raak hier aan ‘n belangrike onderwerp.
Beide Cilliers en Johl is nie meer met ons nie.