Kokosneuthare uitgedun deur son en orkaan
en nou blink die dop ligroos in restaurantgloeilamp,
sy ken hoenderhaanlelle, hees gekraai,
waar hy oorkant haar die spyskaart afkeur –
karige keuse in herwinde olie gebraai.
Haar kuif ʼn kantgordyn deur menige somer geskeur,
ore ʼn plaasfoonsentrale se uitgekuierde belle,
lipstiflyne wat in mondhoekplooie verdamp.
Mý mense hierdie, sout van die aarde.
Albei kyk op as ene Abigale genotaboek aanmeld,
bestel dop en tjop well done, dressing op die kant
– morsige Afrikaans, maar tróts Afrikaans –
en as die bestelling verkeerd herhaal word, spu dit
woorde wat selfs die dronk digter by die tafel langsaan
nie in sý notaboek vir latere verwysing kan pen nie.
Mý mense hierdie, gal van die aarde.
Staal jouself vanaand, Abigale Tsohle –
die wette en die union het sy tjank getrap,
sy knaters met ʼn politieke vicegrip gegryp
en nou lê die geskiedenis swaar
op spyskaart en keuse en daai pen
wat mondhoekspoeg tot bestelling
of gedig moet meng.

Dankie Desmond. Ook as vuishou in eie maag bedoel, met al die geykte geite.
‘n Vuishou. Dankie.