Plekgedig 1: Melanie Grobler. Pringlebaai
Pringlebaai
Dis Sondagaand en ek meet die somer
aan die kwaak van paddas by die waterpoele
die rammel van eenbeen boodskappers
van weerlig deur die kranse
terwyl die winter se meetsnoere kom
in die hoogte van die stapel hout
by my voordeur
die kners van vuur in die kaggel
winter in die kusdorp het ’n skerpheid
wat in die nag geskets word
in die ysprikke van sterre bo ’n enkel boom
net soms word dit getemper
deur die onheilspellende roep van die uil
vroeg soggens as die dorpie
aan die laaste speen van slaap suig
kan mens die kras taal van die vreemde hadidas
deur die dak hoor skeur
want in die somer het hul ook gewei
op die wal van die rivier
waar slange lê en blaas.