Bellville
Bellville, jy was my dorp-stad,
En ek halfmak, halfwild in jou strate.
Ek onthou jou wanneer die son ondergaan,
Wanneer die mis tussen die woonstelblokke hang
En die lug na hondekos ruik,
‘n Sirene heelnag raas
En advertensieborde langs die strate pryk.
Ek dink aan jou op aande wat nou oud smaak
(Ek is deesdae deurgebring soos ‘n leë halfjack)
En ek smag na die nagte se gestoei in jou teerboesem,
Jy met jou kafees vol warm pasteie en koue Coke
Oorkant jou kantoorgeboue waar die ligte altyd brand
En tussendeur die lang, reguit bane van Voortrekkerweg
(‘n Geskil word teen 150 kilometer per uur besleg).
Ek onthou mans wat hard praat
(“Ek het dit nie hier nie, maar ek het dit hier!”)
En paaiende vriendinne
(“Ja, jy het. Jy is ‘n slim man, Renier”).
Vroue glimlag wys wanneer hulle oogkontak vermy
En jong ouens sweer onseker: ek sal jou kry.
Jong mense vertel mekaar: “Die Kaap is my kruis,
Om veiligheidsredes kuier ek naby die huis.”
Onder in Durbanweg leun ‘n kroeg oud
Tussen ‘n meubelwinkel en ‘n tote.
Wanneer die musiek stil word
En ek uitgaan, is die naglug koel
En die hemel diep soos ‘n bierpoel.
O Bellville!
Kom na my soos die klank van pistoolskote
Soos die drif van ‘n rondreisende evangelis.
Besoek my soos ‘n skuldinvorderaar.
Soen my met jou skurwelipkus!
O Bellville!
Neem my na jou beeldskone sielkundiges,
Skryf ‘n pil voor vir verveling en doodsverlangens,
Hoor my lewensverhaal aan,
Presenteer my aan die Allerhoogste
En smoor die proponent se gape.
En wanneer jy my lei, lei my na jou vlak watertafel
Onder die monumente aan jou Afrikaner-ondernemers.
Bring my na die Twaalfdemylsteen.
Laat my aansit by die tafel van my mededingers
Wat as die maats van my jeug vermom is
En laat my my gesig, ongeskend, in hulle s’n sien.
