Kaapstad storm
winde wiel om die berg en
oor die kolk spat wolke weg
die see is ‘n gat in die nag
en iets wat gebore wil word
van geweld sonder vorm
sonder naam
beur teen die rotse uit
en gly terug
probeer en gly terug
op Seinheuwel hurk Adamastor
en sien weer die seile van Dias
Da Gama trek om die punt
hy wat moes terugstaan voor
die son en wag en kyk
hoe die bleek kinders uit water
en hulle van die bruin aarde
elemente apart en tog verbind
modder word
waaruit niks wil groei nie
maar ook hierdie seisoen moet sy kring voltooi
hy draai van die ligte weg
en trap af in die mis
met sterre wat stert agterna
