DE AAR
dis die ou-ou huise
wat my roep en naderlok
pikswart donderwolke
wat skielik op die horison verskyn
vlammende sonsondergange
en die geur van aandblom en jasmyn
dis die talle windpompe
met strak blink gesigte
wat beur en kreun
soos in geboorte-nood
en net ‘n dun straaltjie water
baar vir lewensbrood
dis die ou-ou doringbome
en rooibessie-pepertakke
wat wieg in dieselfde wind
jare se geheime stories
onder lower gefluister
voorletters in stamme gegrif
dis augustus se rooistofstorms
wat tolbosse straat-af rol
sand onder deure inwaai
rooi stof deur ondig rame
op vensterbanke laat neersif
en die son soos nag verdonker
ek ken die kerkklok se lui
onthou die skerp fluit van die oranje-snel
verlang na die huis
aan die rand van die dorp
waar die bossie-veld begin
en gaan elke keer terug
om die verlange te stil
Ek kan in my gedagtes sien hoe lyk die dorp. Dis roerend mooi
Sak met die kommentare, Sarels! Klink soos ‘n Noctem-bende aan ‘t balle poets! A nee a!
Pragtige beskrywende gedig!
Onbeskryflik mooi!
Dit is werklik onbeskryflik mooi! Deur die gedig te lees word jy weggevoer na ‘n ander stukkie van ons mooie land!!
Dit is iets spesiaal. Iemand wat die dorpie al besoek het of daar woon, sal dit nie beter kan beskryf het nie. Pragtig is nie die woord nie. Ons volgende Louise Leipoldt.
Pragtig