Herinnering aan Port Elizabeth
Hier elmboog ’n sandtong see-in
om ’n dodelike opwelling teë te hou, toegang te ontsê
tot volkstuine en paleise van vrede.
By Kijkduin sien jy op ’n helder dag
‘n sandsekel swiep van skoorsteen
na skoorsteen, van Hoek van Holland s’n
tot dié van Ijmuiden.
En oorkant die waters
waar jy niks meer sien nie
skommel eilande en kontinente.
Wat onsigbaar is, kan jy soms nog hoor.
My gehoorbeentjies lê virtueel uitgespoel
aan Algoabaai, dié van Nelson,
Nelson Mandelabaai.
Daar vertel lokasies en aalwyne op die vloedvlakte
die fabrieke en soutpanne langs die riviermond
die setlaarstoring en die kruis by die hawe
die piramide en lighuis bo Die Baai
en die mylhoë seskleur en die optogmonument met die vuiste
stories
stories wat niemand kan glo nie
aan die oseaan wat hom aan niemand steur nie
terwyl hy tóg luister, sy oorskulp lê
in die waai van die land en dan
hom skielik omdraai
met gesplete tong die sout van die kaaie lek
om te proe of dit laf is en sy oordeel snags
terwyl hy omrol
deurgee aan onderstrome wat dit terugtrek
en insluk.
En olifante by Addo vang die seewind op
absorbeer gerugte en bepeins dit
verteer dit tot elemente
van die vasteland se geheue.
Die laaste keer toe ons in PE was
het ons deur Motherwell verdwaal
op pad van Addo af.
Die dolosse by New Brighton wys nie meer die pad nie.
Dit was aand en die skielike botsing
van seelug met stof en airco het die ruite taai laat aanslaan.
Op geluk en op gevoel het ons die huis gekry.
Ons het aan die slaap geval en oor ons drome
het olifantore, wyd waaierend, gewaak
terwyl hyskrane by Coega knik en staar oor die baai
waar gehoorbeentjies dryf en land
dryf en land
terwyl hulle al rollend onleesbare tekens trek
op die sand en die branders hulle getydelings
oopspoel en bedek,
oopspoel
en bedek.
Baie dankie vir die geleentheid om te kon deelneem, en vir die positiewe kommentare en beoordeling. Geluk aan al die pryswenners!
Wonderlike gedig. Ek is meegevoer…
‘n Oorrompelende gedig. Dat ‘n herinnering nou so dinamies en diskursief kan ontplooi – dis nie Sheila Cussons se vakansie-“Come to Port Elizabeth”-herinnering nie! Ek is omtrent van my stoel af gesleur deur die werking vd woorde.
Herinnering aan Port Elizabeth is vir my ‘n uitsonderlik newwiese gedig. Die digter skryf die hele PE-ervaring omtrent in dié slim klompie lyne. ‘n Mooi gedig, voorwaar.