Naskrif vir Jozi
Die nadors van goud kolokwint in jou lewer
jou moer tot ’n allemintige doolhof geskag
roer die moeras van jou maagvelle
suigelinge aan die tepel van jou verdorde soog.
Die asemnood van jou longe fluit
onhoorbaar hoog maar drup
suurwater inkontinent
ongemerk in die drinkwater krip.
Langs die diefwering van jou ribbekas
sprei woonbuurtes in rye kneukels
van verwaarloosde wanhoop wat wegsug
in die rioolpoele van ’n vingernaelfyt.
In die laatnag verdonker
jou bedsere in onbegaanbare sones
van etter wat trosse rotte roep
om nagmaal van jou nekrose te hou.
Maar elke oggend forseer jou are oop
as dagloners suurstof na jou vergrote hart dra
en die monoksied hulle heen en weer, heen en weer
deur die osmose van jou sirkulasie skiet.
Agter my elektriese grag en kasteelmuur
vertel ek vir my gesin
die lewe van ’n sprokie
onder granaatbome op grasvlaktes langs koel spruite.
Dis hom daai, Jozi met die verstopte are en arithmia van die hart…en klonte goud wat sy longe kwets…. en ironies “vertel ek vir my gesin die lewe van ‘n sprokie..”