Wicus Luwes. Die man met twee horlosies

Foto: Salvador Dali – La persistencia de la memoria (1931) of Die volharding van herinnering

 

Tektoniek

(deur Izak du Plessis – Nuwe Stemme 5)

 

Eendag/aanstons, wie sal weet,

sal ek ook net ’n oomblik wees;

’n herinnering

met ’n gepreserveerde glimlag,

vasgeraam & opgehang

in ons huis se gang.

 

Agter my sal berge lê.

Soos ’n verskuiwingslyn in jou hartkors

sal my glimlag

die portretglas kraak.

Ek sal net ’n foto wees,

eendag/aanstons, wie sal weet?

 



Met my leke-kennis sien ek twee dinge raak in die gedig: Die tema van tyd en die tema van geologiese verskuiwingslyne wat uiting gee aan onderliggende spanning in die huis en die wêreld as geheel. Daar is dus twee (of meer) interpretasies van hierdie gedig.

Die tema van tyd is van toepassing op enige skryfwerk. Dit gee ons ‘n manier om die konkrete uit ander hoeke te besigtig. Dit verteenwoordig die vierde dimensie – die verwysingspunt. Ons leer ons kinders daarvan deur oor toue te spring. Die verlede, die hede, die toekoms. Enige skrywer probeer om sy werke so te stel dat iets wat uit die verlede of toekoms aangebied word, steeds aanklank in die hede sal vind. Ons probeer dink wat in die toekoms op ons wag en ons kyk met heimwee terug na ons verlede – hoe goed of sleg dit ookal was.

Vir die wat nie met ‘n koppie vol teeblare in die kar wil rondry nie, is daar ‘n sekere Duitse motor se ‘Head-up Display’. Die motor-vervaardiger se ‘Head-Up Display’ en ‘Side View’ tegnologie maak dit sedert 2003 moontlik om rondom hoeke te sien. Twee of meer kamera’s wat fokus op dieselfde punt uit twee verskillende hoeke, maak dit moontlik om die bestuurder te waarsku en sodoende ‘n veiliger rit te gee.

Foto-bron: http://www.bmw.co.uk/en/new-vehicles/1/convertible/2011/safety.html

Die mens wou nog altyd weet wat in die toekoms gebeur. Ander weer, wil in die verlede rondkrap op soek na vergeelde foto’s of om uit te vind wat fout gegaan het tydens ‘n vliegtuigramp. Die brandweer-eksperts volg die pad wat ‘n vuur geloop het om die oorsprong te kry. Maar terug na die hede.

Gedigte was nog altyd gemaklik met tyd. Dit laat tyd stilstaan en is by geleentheid tydloos. Ek volg met opgewondenheid die plekgedig-kompetisie en die tye en plekke waarheen die gedigte ons neem. Tyd en ritme is deel van die digkuns. Tyd is ‘n vaste wetenskap met sekondewysers en millisekondes wat ons dag afmeet, maar dit word bloot ‘n konsep in die digkuns.

“Everything that can be counted does not necessarily count; everything that counts cannot necessarily be counted.”

– Albert Einstein of William Bruce Cameron (hang af waar jy ‘copy’ en ‘paste’. Dit word ook ‘n bron wat vervaag deur tyd wat verbygaan.)

Een film wat ek gekyk het ter uitbreiding van my film-kennis, was die Poolse ‘The Hour-Glass Sanatorium’. Wat ek die meeste daarvan gehou het, was dat ek dit nie met die eerste kyk volkome verstaan het nie. Tyd word so relatief in die storielyn, dat jy eers wonder of die hoofkarakter se Pa reeds gesterf het, en of die hoofkarakter dalk self gesterf het. Die bewys dat iemand lewe of reeds gesterf het, raak so verstrengel, dat jy later twyfel oor die bestaan daarvan en of dit werklik van belang is om die storie te verstaan.

Die film is gebaseer op die werke van Bruno Schultz, wat gesterf het aan die hand van ‘n Nazi-offisier in die Tweede Wêreldoorlog. Die blote feit dat sy werke na sy dood ‘n nuwe medium betree en weer lewe gekry het, is reeds interessant met betrekking tot die plooibaarheid van tyd. Die stelling dat Bruno Schultz aan die hand van ‘n Nazi-offisier gesterf het, raak belangrik in die konteks van die ‘holocaust denialist’-beweging. Daar is mense wat sedert 1961 beweer dat die Nazi-uitwissing van Jode nooit gebeur het nie. Dit word normaalweg vanuit ‘n anti-semitiese perspektief gesien, maar dit word interessant (of arrogant) aan die lig van so baie geskrewe dokumente en foto’s wat dit eintlik staaf.

Segal se wet lui:

“‘n Mens met een horlosie weet altyd hoe laat dit is. ‘n Mens met twee horlosies is nooit seker nie.”

Dit word algemeen aanvaar dat die ouderdom van dinosaurus fosiele deur lood-datering gemeet  moet word, maar dan is daar ook die mense wat die ouderdom deur koolstof-datering meet. Dit bring mee dat dinosaurusse moontlik miljoene jare oud is of slegs ‘n paar duisend jaar.

As die lood-datering verkeerd is, kan dit die ewolusieleer se tydlyn deurmekaarkrap, maar as die koolstof-datering verkeerd is, krap dit weer die tydlyn deurmekaar vir die skeppingsverhaal-aanhangers. Die man met twee horlosies wonder dus hoe laat dit is.

In ons eie land se konteks kan die gebeure tydens die Grensoorlog by Cuito Cuanavale deur verskillende invalshoeke gesien word. Die konsep van tyd het ook hier ‘n rol te speel en wie werklik gewen het, word nou sommer in twyfel getrek. Die man met die twee horlosies in Segal se wet, tik nou al benoud op die glas en wonder of die wysers vorentoe of agtertoe beweeg.

Die bestaan van die stad Atlantis kom seker in elke moderne persoon se lys van dinge wat hul laat twyfel voor. Alhoewel daar geskrewe verwysings daarna is en heel waarskynlik as ‘n feit deur antieke mense gesien is, sal dit seker altyd in twyfel getrek kan word soos wat die sand van die uurglas verder opvul.

Die kamera van die verlede en die kamera van die hede bly egter ‘n manier om rondom hoeke te sien. Die gedigte wat ek nooit volkome verstaan nie of wat meer as een interpretasie kan hê, bly maar my gunstelinge. Ek verkeer somtyds onder die illusie dat ek die digkuns verstaan, maar party dinge verstaan ek beter of anders soos wat ek ouer word. Op party plekke van die tydslyn het Atlantis nog nie onder die see verdwyn nie; die troepe by Cuito Cuanavale staan nog gereed om aan te val en Elvis staan nog in sy donkerbril en wyepyp-broek en wag vir die aankondiger om sy naam te roep.

Net die tyd sal leer wat die toekoms inhou of wat reeds in die verlede gebeur het. Miskien moet ons die man met die twee horlosies vra en as hy ons ‘n dubbelsinnige antwoord gee, moet ons dit so aanvaar. Die moontlikheid bestaan dat alle antwoorde reg is in die dimensie van tyd.

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Wicus Luwes. Die man met twee horlosies”

  1. Anita :

    Wicus ek het jou skryfsel hier baie geniet – dit stem tot nadenke! Wie is jou geliefkoosde digters?

  2. Wicus :

    Dit wissel met die tyd en projekte waarmee ek besig is. Miskien Gert Vlok Nel, Joan Hambidge?

  3. Leon Retief :

    Miskien vit ek nou maar ek dink mens moet liewer sê dat die Beemer se kopligte die bestuurder in staat stel om rondom draaie te sien en nie hoeke nie – lig, behalwe as dit deur ‘n veseloptiese kabel gelei word (wat nie hier die geval is nie) kan nie om hoeke beweeg nie. Dis ‘n tegnologie wat al dekades gelede deur ek dink Citroën bekend gestel is maar het so ver ek weet tot onlangs in onbruik verval.
    Wanneer mens twee horlosies het en een is verkeerd, en jy weet dis verkeerd, het jy nie twyfel oor hoe laat dit is nie en dis presies die geval met die dinousouriëroorblyfsels waarvan die ouderdom kwansuis met 14C gemeet is. Die oorblyfsels is op ‘n oneerlike wyse deur jong-aarde kreasioniste verkry en die materiaal was nie geskik vir hierdie dateringsmetodes nie. Trouens, enigeen wat die ouderdom van sulke fossiele met hierdie metode wil meet moet sy kop laat lees. Dit het hulle nie verhoed om die hele bedrogspul as die waarheid te verkoop nie. Daar is geheel en al geen sprake daarvan dat dinosouriërs slegs ‘n paar duisend jaar oud is nie. Maar teen hierdie tyd weet ons nou al dat kreasioniste nie altyd te noukeurig met die waarheid omgaan nie – dis per slot van rekening al manier waarop hulle hul belaglike aansprake kan ondersteun.

  4. Wicus :

    Ek wil nie teveel wegbeweeg van die tyd-tema nie.
    1) As kind het ek baie van doolhoof-speletjies gehou. Jy moet met jou potlood op die papier van begin tot einde ‘n lyn trek. Die doel is dus om aan die een kant in te kom en aan die ander kant uit te gaan. Dit het baie gebeur dat ek vasgehak het op ‘n plek. Ek het dan sommer ‘n lyn begin trek van die einde na die begin toe om te kyk of ek dit nie so kan oplos nie. Ek is bevrees dat baie mense hierdie benadering volg: Jy begin by ‘n antwoord en probeer iets kry om dit te staaf.
    2) Stem saam met u stelling oor die ‘om hoeke sien’. Ek wou eers die diffraksie van lig (die buiging van lig rondom ‘n objek) by die tyd-tema inbring, maar ek het gevoel die motor-tegnologie kan dit dalk beter illustreer.
    3) Interessant genoeg is dit wel moontlik om dinosaurus-bene met koolstof-datering te dateer en dit is wat ek wil beklemtoon. Dit is moontlik. Twee tydlyne is dus moontlik. Of hul nou moedswillig is om dit te doen al dan nie. Alhoewel daar nie veronderstel is om koolstof oor te wees nie, agv die halflewe daarvan, is daar genoeg om ‘n tydlyn te skep deur koolstof-datering. Beide Christen-wetenskaplikes (bv. Mary Schweitzer) en nie-Christen wetenskaplikes verkies lood-datering. ‘n Paar dinge waaroor ek dink: wie ontken die teorie? Waarom ontken die persoon die teorie? Hoe het die oorspronklike ontdekkers van die teorie daaroor gevoel? Watter moontlikhede hou die toekoms in vir beide teorië? Hoe is die doolhof-speletjie van my kinderdae hierop van toepassing?
    4) Vir jare is daar debatte gevoer oor of lig ‘partikels’ OF ‘golwe’ is. Wetenskaplikes het mekaar verkleineer en gediskrediteer en eers in die afgelope vyftig jaar is daar ooreengekom dat dit beide kan wees. Dit is een van die groot paradokse van ons tyd, maar niemand het nog ‘n beter oplossing gekry nie. Die vraag is dus of die lig verander het deur die jare of bloot ons siening oor lig.
    5) Wat dink u gaan die verloop van tyd doen met Cuito Cuanavale in die lig van die stelling: ‘geskiedenis word geskryf deur die oorwinnaars’?

  5. Leon Retief :

    @ Wicus: jy skryf: “ Interessant genoeg is dit wel moontlik om dinosaurus-bene met koolstof-datering te dateer en dit is wat ek wil beklemtoon. Dit is moontlik.”
    Gee asseblief relevante verwysings in erkende wetenskaplike joernale wat jou stelling ondersteun – en ek praat nie van die ICR se sogenaamde “wetenskaplike” geskriffies nie. 14C se halfleeftyd is sodanig dat dinosouriërfossiele nie daarmee dateer kan word nie.
    Wicus: “Twee tydlyne is dus moontlik. Of hul nou moedswillig is om dit te doen al dan nie”
    Snert. Daar is geheel en al geen sprake van twee tydlyne nie. Dis absolute nonsens. En soos ek alreeds genoem het, die bliksems lieg onbeskaamd – dis skynbaar orraait om leuens te versprei ter wille van jou godsdiens. Wanneer mens egter kyk na die “wetenskap” agter die betrokke stellings neem dit nie lank om vas te stel dat dit geheel en al geen fondament in die werklikheid het nie. Ek kan jou meer vertel oor die plein kommin oneerlikheid van die betrokke kreasioniste in hierdie verband as jy wil weet.
    Wicus: “Alhoewel daar nie veronderstel is om koolstof oor te wees nie, agv die halflewe daarvan, is daar genoeg om ‘n tydlyn te skep deur koolstof-datering. “
    Bedoel jy dat daar genoeg 14C oor is om ‘n tydlyn te skep (mbt dinosouriër-fossiele)? Het jy enige bewyse daarvoor? Waar is dit gepubliseer? Gee asseblief verwysings.
    Wicus: “Beide Christen-wetenskaplikes (bv. Mary Schweitzer) en nie-Christen wetenskaplikes verkies lood-datering”
    Ek het geen idee of Mary Schweitzer ‘n Christen wetenskaplike is of nie – toe ek so paar jaar gelede met haar korrespondeer het oor haar ontdekkings het ek haar nie gevra nie want dit was heeltemal irrelevant. Haar bevindings bevestig totaal en al nie dat dinos net ‘n paar duisend jaar oud is nie en as jy dit aan haar sou noem sal sy jou in vlamme afskiet.
    Wicus ‘n Paar dinge waaroor ek dink: wie ontken die teorie? Waarom ontken die persoon die teorie? Hoe het die oorspronklike ontdekkers van die teorie daaroor gevoel? Watter moontlikhede hou die toekoms in vir beide teorië?
    Ek het nie ‘n koeken klue van watter teorie jy praat nie.
    Wicus: Hoe is die doolhof-speletjie van my kinderdae hierop van toepassing?
    In goeie Afrikaans, en verskoon my taal: fiekerol.

    Wicus: Vir jare is daar debatte gevoer oor of lig ‘partikels’ OF ‘golwe’ is. Wetenskaplikes het mekaar verkleineer en gediskrediteer en eers in die afgelope vyftig jaar is daar ooreengekom dat dit beide kan wees. Dit is een van die groot paradokse van ons tyd, maar niemand het nog ‘n beter oplossing gekry nie. Die vraag is dus of die lig verander het deur die jare of bloot ons siening oor lig.
    Jirre Wicus. Dis soos die wetenskap vorder en verander. Ons besef nou dat lig, en alle ander elektromagnetiese fenomene beide eienskappe kan besit. Die menslike brein vind dit moeilik om dit te begryp – so what?

    Wicus: Wat dink u gaan die verloop van tyd doen met Cuito Cuanavale in die lig van die stelling: ‘geskiedenis word geskryf deur die oorwinnaars’?
    Ek was nie daar nie, het geen opinie daaroor nie en weet nie waarom jy dit vra nie.

  6. Marlise :

    @Leon & Wicus: ek weet sweet-blou-all van die wetenskappe af, maar hierdie ‘wette’ van die natuur maak nogal sin vir my!:

     Law of Logical Argument – Anything is possible if you don’t know what you are talking about.
     Law of Gravity – Any tool, nut, bolt, screw, when dropped, will roll to the least accessible corner.

     Law of Random Numbers – If you dial a wrong number, you never get a busy signal and someone always answers.

     Variation Law – If you change lines (or traffic lanes), the one you were in will always move faster than the one you are in now.
    Law of the Bath – When the body is fully immersed in water, the telephone rings.

     Law of Close Encounters – The probability of meeting someone you know increases dramatically when you are with someone you don’t want to be seen with.

     Law of Biomechanics – The severity of the itch is inversely proportional to the reach.

     The Coffee Law – As soon as you sit down to a cup of hot coffee, your boss will ask you to do something which will last until the coffee is cold.

     Wilson’s Law of Commercial Marketing Strategy – As soon as you find a product that you really like, they will stop making it.

     Doctors’ Law – If you don’t feel well, make an appointment to go to the doctor, by the time you get there you’ll feel better.. But don’t make an appointment, and you’ll stay sick. This has been proven over and over with taking children to the pediatrician.

    🙂

  7. Leon Retief :

    @ Marlise: 🙂

  8. Wicus :

    V: Wat noem jy ‘n dinosurus met ‘n uitgebreide woordeskat?
    A: ‘n Thesaurus

    Dag 19: Ek het dit reggekry om my baas te kondisioneer om te glimlag en in sy boek te skryf elke keer as ek kwyl – Pavlov se

    hond. (Die grappie illustreer perspektief.)

    V: Wat het Cuito Cuanavale met die onderwerp te doen?
    A: Vir jare het ons geglo dat die Suid-Afrikaanse Weermag die stryd by Cuito Cuanavale gewen het. Noudat ander mense in bevel

    is van die geskiedenis-boeke wat ons kinders leer word dit anders voorgehou. ‘n Mens wonder dus of dit ‘n Gerhard Viviers-

    boksgeveg / geskiedenis-les was totdat jy die uitslag kry.

    V: Wys vir my waar in ‘n erkende geskiedenis-boek die ware verhaal van Cuito Cuanavale staan? (Die vraag illustreer die

    definisie van ‘erkende’. Ek moet sê dat ek die Suid-Afrikaanse weermag se weergawe erken, maar dit illustreer bloot my

    vooroordeel. Moet ons die geskiedenis-boek erken wat post-1994 geskryf is of die geskiedenis-boek wat pre-1994 geskryf is?

    Hoe het Jan van Riebeeck werklik gelyk?)

    V: Wat het die doolhof-speletjie met die prys van dinosaurus-bene te doen?
    A: As jy by die antwoord begin wat jy graag wil hoor, verloor die speletjie sy doel.

    V: Het erkende wetenskaplike joernale al artikels oor dinosaurus bene wat met koolstof-datering gedateer is gepubliseer?
    A: Ek neem aan ‘n mens sal moet begin soek van die middel 1940’s af toe Willard Libby sy eksperimentering begin het wat tot

    sy Nobel-prys vir Chemie gelei het. Ek neem aan dat hy beide items wat erkende datums (soos Egiptiese mummies of die Dooie

    See geskrifte) en nie-erkense datums het, gedateer het. Ek moet sê dat dit nogal insiggewend sal wees. Gelukkig word Google

    nie slegs beperk tot erkende wetenskaplike joernale nie. Google gerus: ‘carbon dating dinosaur bones’. Miskien is dit nie

    wetenskaplik nie, maar mense het dit al gedoen – met resultate. (http://www.smithsonianmag.com/science-nature/dinosaur.html

    het ‘n interessante artikel waarin Mary Schweitzer haar ontsteltenis met die oppertunisme van die kreasioniste te kenne gee

    alhoewel sy haarself as Christen beskryf. U het egter eerstehandse kennis van haar sienings en hoef nie op artikels staat te

    maak nie.)

    Paradoks ter afsluiting:
    A logician’s wife has a baby. The doctor hands the newborn to the dad.
    His wife asks: “So, is it a boy or a girl” ?
    The logician replies: “yes”.

    Die konsep van ‘reg en verkeerd’ of ‘waar en onwaar’ bly slegs ‘n teorie as jy dit nie met iets kan vergelyk nie. Ek neem aan

    dit sal ‘n slegte idee wees om Schrödinger se kat an Pavlov se hond in een boks te sit.
    Langenhoven het blykbaar gesê: ” ‘n Saak het drie kante: jou kant, my kant en die regte kant.”

  9. Leon Retief :

    Wicus, jou aan die hare bysleep van Cuito Cuanavale is ‘n doelbewuste poging tot wat die Eneglse noem ‘n red herring. Hierdie is nie geskiedenis nie, dit handel oor verifieerbare resultate. Jy skryf: “mense het dit (14C datering van dinosouriër-bene) al gedoen – met resultate.” Om hierdie “resultate” baie kortliks en onvoldoende op te som qant ek kan baie meer daaroor skryf: die betrokke bene was gekontamineer met vernis/lak (wat ook al die Afrikaanse woord is vir lacquer) wat natuurlik “moderne” 14C bevat. Hulle is gewaarsku dat dit nie geskik is vir 14C datering nie, oftewel, hulle was baie goed bewus dat dit nie geskik was nie maar het nogtans voortgegaan en dit laat dateer, natuutlik tot groot akklamasie van mede-kreasioniste. ‘n Uitstekende aanduiding van die eerlikheid van kreasioniste, waaraan ek nou al lankal gewoond is.
    Jou skakel na die Smithsonian toon duidelik dat dit nie met 14C dateer is nie en dit is inderdaad ook nie gedoen nie. Ek weet nie waarom jy skynbaar so dink nie. Trouens, die skakel toon juis hoe kreasioniste Schweitzer se bevindings vir hul eie doeleindes op sleeptou probeer neem het. Sy het inderdaad baanberekerswerk gedoen wat ‘n hele nuwe bladsy in paleobiochemie oopgemaak het.
    Kreasioniste is by uitstek die mense wat begin by ‘n antwoord en dan “bewyse” soek wat hul vooropgestelde opinies kan ondersteun. Op die ou end is leuens en die verdraaing van wetenskaplike bevindings al wat hulle kan doen.
    Jou aanhaling van Langenhoven laat my dink aan wat Einstein gesê het: “Only two things are infinite: the universe and human stupidity, and I’m not sure about the former.”

  10. Renée du Toit :

    Goeie gesprekke hierbo, maar die feit bly staan dat mens se verwysingsraamwerk jou sal lei om na konkrete feite of gebeure te kyk, wat wys presies hoe relatief mens se opvattings is, wat ek uit Wicus se eerste skrywe neem. ook natuurlik dat mens die wetenskap gebruik, en dis goed dat die wetenskap verander en verbeter. maar soms is mens se gesonde verstand nogal ok. hou aan Wicus

  •