Saterdag het dit hier by ons in die voorstede gehael en gister het dit gereën toe ons die pad vat na Melville. In Johannesburg beteken sulke weer deesdae meermale dat die krag af is. Die dooie verkeersligte dwarsoor die stad was dus ʼn vroeë aanduiding dat warm koffie ons nie eintlik gaan inwag in Sewendestraat nie. Ons was ʼn kleinerige, maar baie waarderende groepie wat opgedaag het vir die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys aan Hennie Nortje. Glase sjerrie en witwyn moes instaan vir die koffie (ons laat ons nie afskrik nie) en die nat straat, sluiers mis oor die jakarandas, die kinders met turkoois sambreeltjies en rooi skoene, die blonde dogtertjie en die reën teen die ruit het vreemd mooi gepas by die omslag van “in die skadu van soveel bome”. Immers was ons hier in ʼn woud van woorde, immers ken ons op die Hoëveld koors- en doringbome.
Henning Pieterse het in gesprek met Hennie Nortje, die debuutdigter se pad verken na pryswennende bundel. Invloede, voorliefdes en ontvlugting het ter sprake gekom (name soos Boerneef en Opperman is genoem) en ʼn hele aantal gedigte is deur beide Henning en Hennie voorgelees. Dit was ʼn rustige, gemaklike gesprek met intelligente verkenning van die dokter-digterskap. Ek het agterna gesels met mense uit die gehoor (een dame van 75-jaar het my verseker dat sy die geleentheid “vir niks sal mis nie”) en almal was dit eens dat die bundel verrykende leesstof is. Welgedaan en nogmaals geluk, Hennie Nortje, dit was lekker om jou te ontmoet en te hoor praat!
Volgende aan die beurt was vier manne wat as digters van die omgewing deel was van die daglange, derde Melville Poetry Festival. Christo (JC, Johannes van Jerusalem) van Staden het bekoor met sy reeks verse oor die sanguiniese element en Charl-Pierre Naudé het splinternuwe verse uit sy pen voorgelees. Die Nuwe Stemme 5-digter, Izak du Plessis was volgende, met Jo Prins wat ewe beskeie ʼn drietal of so gedigte lees om die sessie af te sluit.
Ons hang nog bietjie rond en maak geselsies, drink nog ʼn wyntjie en dit is net na een toe ek uitstap op die sypaadjie, miskien boekwinkel toe, so tussen sessies deur. En daar gaan al die verkeersligte in Melville aan. Aaa, net betyds vir lekker warm oggendkoffie!
Respyt van die gewone stadsgejaag, hierdie nat Sondag, maar iewers in die week, wanneer die son weer skyn, sal die gedig ons herinner:
Koorsboom
(Acacia xanthophloea)
Eens was jy
akasia van die laagtes
waar trekkers tot die dood toe
die gevreesde koors kon kry.
Nou staan jy
as sierboom van die voorstad
en pendel ons morsdoodmoeg
in koorsagtigheid verby.
(Hennie Nortje)
Enige iemand wat nie so ‘n geleentheid kan bywoon nie, vind beide troos en blydskap in so ‘n skrywe: dankie Rene!
Ag, ek dink jy sal so ‘n Melville fees geniet, Carina! Dit is taamlik organies, ons dryf so van venue tot venue, dis ‘n bontspul van ouderdomme en tale en dis heerlik. Ek geniet die rustige geskakeerdheid in Hennie Nortje se bundel; die skielike wendinge.
Dankie, Everline, ek het ook besluit om Boerneef weer te gaan opdiep – sodra ek Hennie Nortje herlees het (en ek is ook nog nie klaar met Adonis nie!)
Die sfeerbeskrywing van Johannesburg en die poësiefees daar is so goed, René, dat ek hoop om eendag ook deel daarvan te kan wees. Skielik wil-wil die verlang deurslaan. Geluk aan Hennie Nortje met hierdie toekenning. Ek het nog nie die bundel gelees nie, maar “Koorsboom” beïndruk my.
Dankie vir die inloer by die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys aan Hennie Nortjé en so ‘n klompie verdere mooi indrukke. Melville in die reën. Ek was nog altyd mal oor Boerneef en skielik is hy weer baie op die voorgrond. Bly daaroor. Sal graag Hennie se bundel aanskaf.