Wicus Luwes. Kleure in ‘n fonetiese verfblik

Dis moeilik om die woord ‘inspirasie’ te verduidelik in ‘n kort sin. Verklarings oor die woord lewer Latyns-verwante terme soos inspirare, inspiro, incito op. Dit word weer verklaar met terme soos ‘om asem te haal’, ‘om in te neem’, of die ‘stimulerende effek op die intellek, emosie of kreatiwiteit’. Ek wonder of ‘n mens inspirasie deur middel van ‘n kleur kan verduidelik. Groen is die kleur van groei en jaloesie. Geel is die kleur van lafhartigheid. Miskien kort daar ‘n nuwe kleur om inspirasie te verteenwoordig. Coenie de Villiers sluit die TV-program, Pasella, dikwels af met die woorde: “Maak ‘n verskil!” ‘n Predikant by ‘n vorige gemeente waar ek was, het die Sondag-diens menigte male afgesluit met: “Gaan wees ‘n seën vir ander.”

Die muses van ouds bly oor ‘n mens se skouer loer in die hedendaagse kreatiewe proses. Die mitologiese muses was blykbaar nie net betrokke by die oordra van kreatiwiteit nie, maar ook by die oordra van kennis. Die oordra van kennis kan dus as deel van die kreatiewe proses gesien word of ten minste verwant daaraan. Dit het my laat wonder oor die rol van onderwysers in my eie skryfwerk en die blootstelling aan skryfwerk. Wie sal die rol van Robin Williams in Dead Poets Society kan vergeet en die manier waarop hy digkuns vir sy studente laat lewe het. Hy word ‘Captain, My Captain’ vir sy studente.

Ek het ‘n paar vrae aan Joey Basson van die Richardsbaai Hoërskool gestel. Haar vakgebied is Afrikaans en sy inspireer op ‘n heel besonderse manier – deur die skep van nuwe woorde. Sy het ‘n leidende rol gespeel by die samestelling van die Wilde Woordeboek I & II. Geen taal is ooit volledig of afgehandel nie en daar is voortdurend veranderinge en nuutskeppings nodig om by te hou met die verandering in ons omgewing en ook met nuwe tegnologie.

Die vraag is hoe hierdie nuutskeppings in die poësie gebruik kan word en iemand soos sy kan praat uit haar ondervinding met tieners en die huidige kurrikulum en ook uit haar betrokkenheid by die Wilde Woordeboek.

My vrae aan Joey Basson oor poësie:

Vraag: Watter woorde of tendense val u as Taal-onderwyser veral op met betrekking tot die hedendaagse digkuns?

Antwoord: Daar is meer stylfigure en simboliek. Meer dimensionele emosies word uitgebeeld en fokus dikwels op vraagstukke van die land. Voorbeelde hiervan is ‘Die huis luister’ van Daniël Hugo en ‘Die Straatkind’ van Linda Roos.

 Vraag: Is daar plekke waar ‘nuutskeppings’ vandag nog neergeskryf word?

Antwoord: Nuutskeppings word dikwels oor en in die media gebruik, bv. RSG en tydskrifte. Leerders gebruik dit ook graag in opstelle en toesprake. Woorde uit die Wilde Woordeboek wat veral gewild is, is blinddate – moljol, tantrum – vloermoer, long drop – plonsput, backseat driver – skouervlieg, ens.

 Vraag: Het u ‘n gunsteling gedig of gedigte?

Antwoord: Die drie-en-twintigste gedig van Breyten Breytenbach.

 

drie-en-twintigste gedig

deur Breyten Breytenbach uit ‘Voetskrif’

 

jou brief is wonderlik, nog groter en ligter

as die gedagte aan ‘n blom wanneer die droom

tuingrond is,

             jou brief gaan oop iets ontvou

en van buite kom daar lug kom daar woorde

kom ruimte,

 

ek het in groen weivelde geslaap

ek het op die rand van die dal van doodskaduwee

in die laaste nagwaak

gelê en luister hoe die veroordeeldes

deur gange in die grond gelei word,

         hoe hulle sing,

 

met die asems in die monde

soos inwoners wat op vertrek staan

omdat die stad brand, hoe hulle sing

met die asems soos boeie,

hoe hulle sing,

hulle wat van die donker in die lig gaan spring

hulle wat gepos gaan word na ‘n bestemminglose adres,

en ek het die onheil gevrees

 

die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders

is leeg, ek het as op my hoof,

my beker is leeg,

 

en ek het na jou brief gevlug en gelees

van die lemoenboompie oortrek van wit bloeisels

wat oopgaan met die son,

ek kon dit ruik op die balkon

ek kan jou ruik

 

nog heerliker en ligter as die gedagte aan ‘n blom

in hierdie donker nag,

 

ek sal aan jou woorde aan die lug hang,

gee dat ek in jou brief mag woon

in lengte van dae

 

envoi,

jou brief is wonderlik, nog groter en ligter

as die gedagte aan ‘n blom wanneer die droom

tuingrond is,

    jou brief gaan oop iets ontvou

en van buite kom daar lug kom daar woorde

kom onthou

 

Ek luister na RSG as ek werk toe ry en hoor weekliks vars woorde soos wat dit voorgehou word deur Dr Willem Botha van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Die WAT kry ook die Afrikaans-sprekende betrokke by die taal deur die ‘borg ‘n woord’- projek en samel so geld in vir die voortbestaan van die woordeboek. Woorde soos sitbok, sikofant of popel word afgestof om aan ‘n hedendaagse gehoor bekend gestel te word.

Woorde is die verfblik wat vir ons neergesit word en elke woord gee ‘n ekstra kleur-skakering waaruit ons kan kies. Dit is belangrik dat ons die nuwe kleure raaksien, want as ‘n mens terugdink aan ‘n era is daar dikwels kleure betrokke – dink maar aan die neonkleure van die tagtigs of die bruin, oranje en groen van die sewentigs. Net so speel die woorde van ‘n era ‘n rol om ‘n gevoel van ‘n era te skep. Om te sien hoe die woord-verfblik in die toekoms gebruik gaan word, moet ‘n mens sekerlik kyk na die werk van jong digters. Watter nuwe woorde gebruik word of watter woorde nuutgemaak word.

 

Jakkalsfontein

deur Hendrik van Niekerk uit ‘Nuwe Stemme 5’

 

ek het uitgeklim

toe my pa omdraai

om die foon wat hy vergeet het

by die mense te kry

 

en ek sit nou hier

in son en wind

en dink dat ek

nou in my onmiddellike omgewing

die intelligentste is

 

unprovoked en woes

moer ek klippe om

op soek na spinnekop of skerpioen

iets wat praat of pik of byt

iets met wanbeheer as beleid

 

en toe hoor ek ’n slang sjjj . . .

en op ’n afstand

verder as wat my stem kan dra,

’n lam iets sê

hy sê awê!

 

Watter kleur is ‘n vloermoer of ‘n sitbok of ‘n sikofant? Digters sien woorde raak wat ander nie altyd raaksien nie of gebruik dit op maniere wat mens opnuut na ‘n oorbekende woord laat kyk. Hoe het jou onderwysers kleur gegee aan jou woorde? Hoe het die kleure van die woorde deur die jare verander? Ek wonder al meer of daar ‘n enkele kleur aan inspirasie gekoppel kan word. Miskien is elke kleur bedoel om te inspireer. Miskien het elke woord die potensiaal om ‘n fonetiese inspirasie te ontsluit.

 

Painting is silent poetry, and poetry is painting that speaks.

– Plutarch

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Wicus Luwes. Kleure in ‘n fonetiese verfblik”

  1. Renée du Toit :

    die kleur van inspirasie, nou net, hier, is liggroen soos ‘n sagte fyn varing wat uit geelbruin dennetapyt net so effens en lig deur die wind geroer word

  2. Ek dink die soektog na nuwe woorde was van die vroegste ontstaan van Afrikaans aan die gang. Miskien het ‘n beesboer wat weggebreek het uit die Kompanjie se kloue eendag vir sy vrou gesê: “Ken jy die Hollandse naam van hierdie bok?” Sy het net haar kop geskud: “Nee … dis net ‘n wilde ding.” Ja, bevestig die boer: “‘n Wildebeest … ons noem hom maar sommer so.”

    En Afrikaans het nog nooit opgehou om te verander en homself te hernu nie. Mens kan duidelik sien hoe die geaardheid van ‘n taal verander oor ‘n tydperk van drie, twee, selfs een dekade.

    In 1950 is van Uys Krige se vertalings in “Vir die luit en kitaar” gepubliseer. Hier is die eerste strofe van “Elévation” van Charles Baudelaire uit “Les fleurs du mal” en Krige se vertaling.

    Élévation

    Au-dessus des étangs, au-dessus des vallées,
    Des montagnes, des bois, des nuages, des mers,
    Par delà le soleil, par delà les éthers,
    Par delà les confins des sphères étoilées,

    (Baudelaire)

    Élévation

    Hoog bo die berge en bosse, seë en die wolke,
    hoog bo die groen valleie en al die mere,
    verby die son, verby die grysblou eterkolke,
    verby die verste grense van die sterresfere …

    (Krige)

    Ek het ook die strofe vertaal (daar is geen poging om die Franse gedig se ritme of rympatroon weer te gee nie). In moderne Afrikaans sal die leser nie tuis voel met “eter” en “sfere” nie. Ek het dus ‘n poging aangewend om die strofe ‘n hedendaagse gevoel te gee deur ander woordkeuses te maak as Krige.

    Hoogte

    Ver bo die mere, ver bo die valleie,
    die berge, die bosse, die wolke die see,
    verby die son, verby die buitenste ruimte
    verby die bane van die verste sterre …

    (De Waal Venter)

    Wat nuutgeskepte woorde betref: ‘n digter behoort goed te besin voor hy of sy nuutskeppinge soos, sê nou maar, “vloermoer” in ‘n gedig gebruik. Daar is talle voorbeelde van nuutskeppinge wat mettertyd in die stof byt. ‘n Gedig met so ‘n woord daarin kan dan lomp voorkom. Dink aan die vermaledyde (‘n woord uit die verlede!) “knormoer” vir “aansitter”.

  3. Wicus Luwes :

    Dankie vir die kommentaar Renee du Toit en De Waal Venter. Die soek van woorde is bitter belangrik by vertaling. Hoe mense in n bepaalde era praat beinvloed dan ook die vertaling. Ek moet se dat ek eenvoudige en onopgesmukte woorde verkies en aktief daarna soek wanneer ek skryf. Doodgewone woorde kan ook n probleem raak – ek dink nou maar aan woorde soos ‘koning’. Wat beteken die term vir die jeug? Die rol van n koning is vervang deur n president, maar die betekenis of definisie het bietjie verander.

  •