Wicus Luwes. Stoomaangedrewe woorde

Let the poets cry themselves to sleep, and all their tearful words will turn back into steam.
– Conor Oberst

 

Steampunk Sally deur Chaz Kemp
(Bron: http://www.steampunktribune.com/2011/04/mr-chaz-kemp-superlative-steampunk-art.html)

Die internet is stoomaangedrewe. Danksy die amper-maar-nog-so-ver Medupi-kragstasie sal dit nog so wees vir ‘n wyle. Alles werk met krag – alles van rekenaars, tot die krag wat ons eers raaksien as dit nie meer daar is nie. Die stoomenjin & -turbine is ‘n baken in die ontwikkeling van die mensdom wat die wêreld van vervoer en energie en industrialisasie aangewakker het. Net soos met die internet kon die mens van die agtiende en negentiende eeu nie die wêreld indink voor die ontwikkeling van die stoomenjin nie.

 

Die romantiek rondom stoom is miskien verlore vir die meeste mense van die afgelope generasie, maar daar duik hier en daar moderne inkarnasies van stoom-aanhangers op. ‘n Mens dink aan toere wat nog kort ritte met stoomlokomotiewe aanbied of restaurante wat gestrande dekoratiewe lokomotiewe gebruik as lok-aas op ‘n afgesnyde sylyn. Die voortsetting van die romantiek het ook die fantasie-wêreld betree. Hier dink ek aan die Steampunk-fantasie wêreld. My swaer, André, het onlangs ‘n Steampunk Halloween-partytjie bygewoon en ek het verstom gestaan toe ek die tema naspoor op die internet. Steampunk bied ‘n alternatiewe realiteit of tydsverloop wat baie meer van stoom gebruik maak. Dink ‘n mens aan Babbage se stoom-aangedrewe rekenaar, lyk dit nie so vergesog nie. Wat vir my interessant was, is die vervlegtheid met verskillende vorms van kuns wat die Steampunk-wêreld aan ons wêreld koppel. Daar is die Art Nouveau, Art Deco en algemene mode items, maar daar is ook die Steampunk literêre sy.

 

Prent: Alphonse Mucha se Zodiac kry ‘n Steampunk opkikker-sessie deur Nana Leonti
(Bron: http://nanaleonti.deviantart.com/art/Steampunk-Nouveau-213688527)

Alhoewel die rat-simbool duidelik ‘n manier is om dit uit te ken, moet dit miskien gesien word in konteks van die Masjien: die rat in konteks van die Masjien; stoom in konteks van die Masjien.

“Hy het ‘n sleutelposisie in die Groot Masjien.”
– Uit Hoofstuk 6 van Etienne le Roux se Sewe Dae by die Silbersteins
“Jock loop voor tot in ‘n kamertjie wat van kant tot kant met koperpype bevleg is. Hy trek die deurtjie agter hom toe en ‘n kliniese stilte heers in die vertrekkie. Hy kyk na Henry, beduie vir hom iets met sy vinger, en draai meteens ‘n kraan oop. ‘n Helse stoomgesuis vul die vertrek sodat alle ander geluide uitgewis word.”
– Uit Hoofstuk 3 van Etienne le Roux se Sewe Dae by die Silbersteins

Die Masjien is so groot tema dat ek my maar vir eers bepaal by Rudyard Kipling se meer konkrete kykie na ‘n masjien:

The Secret of the Machines
– Rudyard Kipling
(MODERN MACHINERY)

We were taken from the ore-bed and the mine,
We were melted in the furnace and the pit—
We were cast and wrought and hammered to design,
We were cut and filed and tooled and gauged to fit.
Some water, coal, and oil is all we ask,
And a thousandth of an inch to give us play:
And now, if you will set us to our task,
We will serve you four and twenty hours a day!

We can pull and haul and push and lift and drive,
We can print and plough and weave and heat and light,
We can run and race and swim and fly and dive,
We can see and hear and count and read and write!

Would you call a friend from half across the world?
If you’ll let us have his name and town and state,
You shall see and hear your crackling question hurled
Across the arch of heaven while you wait.
Has he answered? Does he need you at his side?
You can start this very evening if you choose,
And take the Western Ocean in the stride
Of seventy thousand horses and some screws!

The boat-express is waiting your command!
You will find the Mauretania at the quay,
Till her captain turns the lever ’neath his hand,
And the monstrous nine-decked city goes to sea.

Do you wish to make the mountains bare their head
And lay their new-cut forests at your feet?
Do you want to turn a river in its bed,
Or plant a barren wilderness with wheat?
Shall we pipe aloft and bring you water down
From the never-failing cisterns of the snows,
To work the mills and tramways in your town,
And irrigate your orchards as it flows?

It is easy! Give us dynamite and drills!
Watch the iron-shouldered rocks lie down and quake
As the thirsty desert-level floods and fills,
And the valley we have dammed becomes a lake.

But remember, please, the Law by which we live,
We are not built to comprehend a lie,
We can neither love nor pity nor forgive.
If you make a slip in handling us you die!
We are greater than the Peoples or the Kings—
Be humble, as you crawl beneath our rods!-
Our touch can alter all created things,
We are everything on earth—except The Gods!

Though our smoke may hide the Heavens from your eyes,
It will vanish and the stars will shine again,
Because, for all our power and weight and size,
We are nothing more than children of your brain!

 

Die probleem met stoom is dat dit soos ‘n tussenfase voel – dit het die krag om enjins en turbines te laat werk, maar dit voel nie soos iets wat permanent is nie. Mens wonder die heeltyd wanneer dit in water gaan verander. Stoom is tegnies gesproke onsigbaar, maar het ‘n definitiewe doel in die masjien.

“Hoe kry julle die bottels so skoon?” vra Henry.
“Dit vind in ‘n vorige kamer plaas,” sê Jock. “Wil jy dit sien?”
Hulle moet teruggaan na ‘n kamer vol stoom en chaos.
– Uit Hoofstuk 4 van Etienne le Roux se Sewe Dae by die Silbersteins

Ek wonder in die ou jaar en miskien in die nuwe jaar oor die ander komponente in die masjien – die sigbares en onsigbares.

Terwyl ek op ‘n reis saam met Breyten Breytenbach gaan, dink ek aan die dinge waarna ek gekyk het, maar nie gesien het nie. Ek dink aan die stoom van ‘n eenvoudige ketel en die stoom wat my gesig van my badkamer-spieël verberg.

treinreis deur die Karoo; notas

onderweg na ‘n Noorde
word die voorland oopgevlek
deur die polsende snaar van ‘n spoorlyn

die wêreld is reeds geknou en gekartel in lig
nog voor die son daar is
dit is geel en dit is grys

peusel-peusel aan die niks
wei die swartkopskape
en wanneer hulle kouekloutjies kyk na die grootswarttrein
wat nie stof maak nie
is die koutjie in die kies
en dan weer in die ander kies

op ‘n klipharde gruispad
loop ‘n klipbruin kind
om net hier en dan grond te vat
asof die heilige aarde flonker
van koue

die wêreld is sonder troos of somberheid
dis ligblou en blou soos bleiklig
dis die sterwende oë
wat te veel waargeneem het

Kruidfontein
Leeu-Gamka
ander stasies en sidings
blomperronnetjies gekneusde kaktusplante
treinmense met grys asems sonder tyding
of taal

net die stoomsis en stampbons van lokomotief en waens
hart en longe

of soms ‘n opgeskoter opslagbossie wat wit is
en doringbome penorent
‘n voël skynbaar sonder vlerke
skiet in die gesigsveld
swart soos ‘n klip in die lug gewerp
hoër hoër as na benede tuimel

op verre bergtoppe spikkels en spatsels sneeu
of dalk net ‘n kleedjie van wolke
die son is helder ys
‘n brommer gril sy goue vlerke onder ys

en in die hartjie van die veld
knetter ‘n misterieuse vuurtjie vlamalleen
teen die aand se stillê en gesuiwerde koue
word die lig al hoe skoner
totdat die oranje en die blou fakkels geskei is

die son gaan nie onder
want die aarde is te plat
maar kwyn weg aan afstand

die heuwels met die donker mantels
begin saamry
vlieënde maanhare onder hemelsvlerk, my allerliefste

ek wou wat ek nou van weet as vrees
en die eensaamheid waarmee ek die reis korter maak
in jou kon verberg

(Bron: Voetskrif deur Breyten Breytenbach)

Wat is die eenheid waarin stoomkrag gemeet word? Party meet dit in Watt, maar hoe meet ‘n mens chaos? Is dit in die hoeveelheid grense wat afgebreek word? Die stoom wat borrel uit die pot op die stoof of die stoom wat verrys uit die vulkane wat die druk van ons aarde verlig. As die druk nie verlig word nie, skiet die vulkaan haarself tot niet in een enorme uitbarsting. Alles gaan steeds oor perspektief. Die kok draai die plaat laer en wil net die regte hoeveelheid stoom kry om die kos gaar te maak; die ingenieur kanaliseer die stoom om ‘n enjin aan te dryf. Wat doen die skrywer met stoom? Hoeveel stoom is nodig om die gedig in sy doel te laat slaag? Hoeveel chaos is nodig om die deksel te laat beweeg of die enjin aan die beweeg te kry? Die krag van die internet en die krag van stoom ontmoet plek-plek – hetsy in orde of in chaos.

A Long Dress
deur Gertrude Stein

That is the current that makes machinery,
that makes it crackle,
what is the current that present a long line and a
necessary waist.
What is this current.
What is the wind, what is it.

Where is the serene length,
it is there and a dark place is not a dark place,
only a white and red are black, only a yellow and green are blue,
a pink is scarlet, a bow is every color. A line distinguishes
it.
A line just distinguishes it.

(Bron: http://www.poemhunter.com/poem/a-long-dress/)

Wat is ‘n stoomaangedrewe gedig? Is dit die rou produk wat sinmaak in die slotreël of die gedig wat brand by aanraking? Miskien is dit ‘n kragtige gedig of ‘n gedig met onderliggende chaos. Krag is nutteloos sonder rigting. Die stoomtrein is op ‘n spoor, die elektrisiteit wat die stoom-turbines opwek druk elektrisiteit in die koperdrade af. Die stoom in die koperpype van die Silbersteins distilleer en konsentreer die wyn in die are van ‘n goed geoliede masjien.

sh
shh
tikke pakke
tikke pakke
allesagtermekaardeurgestoot
sh
shh

skoorsteenwatdiedrukverlig
skoorsteenwat die druk
ver lig
shh
sh

sonder stoom
staan alles stil
sonder stoom is treinspore net metaal

Wanneer die twee basiese elemente van water en vuur bymekaarkom, is die gevolg stoom. Dit kan die rou gedig in voedsel vir die gees omskep. Die verkeerde kombinasie van vuur en water kan die kos verbrand. Ek hoop jou eksperimente met die kombinasies hierdie jaar is voedsel vir die siel – jou eie siel en later ook die siel van ander mense.

Bookmark and Share

16 Kommentare op “Wicus Luwes. Stoomaangedrewe woorde”

  1. Joan Hambidge :

    Dit is Etienne Leroux (skrywersnaam).

  2. Wicus Luwes :

    Baie dankie vir die regstelling. As die eerste oog nie die foute optel nie sal die tweede of Derde Oog dit wel sien. 🙂

  3. Wicus Luwes :

    Ek sou graag meer wou lees oor ‘n stoom- of masjien-tema in Afrikaanse digkuns. Laat asb weet as jul aan voorbeelde hieroor kan dink.

  4. Joan Hambidge :

    Totius se “Die ligtende trein”:

    In die eensame veld
    staan ‘n tentjie klein,
    en daarnaas in die skeemring
    skuif die ligtende trein;
    ek sien in die tentjie,
    deur die oop gordyn,
    ‘n tafel met bordjies
    en glasies fyn,
    wat sag in die lig
    van die kersie skyn,
    en ek dag: “Was ek net
    in die tentjie klein,
    ek sou tog so gelukkig syn.”

    Naas die eensame tent
    staan ‘n meisie klein,
    in stomme bewond’ring
    van die ligtende trein;
    sy sien my geniet
    my glansende wyn
    en kost’like maal
    by elektriese skyn;
    en ek raai die gedagte
    van die meisie klein:
    “Ag, was ek maar net
    in die vrolike trein,
    ek sou tog o so gelukkig syn”.

    Kyk ook https://versindaba.co.za/2011/10/31/andries-bezuidenhout-die-ligtende-trein/

  5. Leon Retief :

    Babbage se “difference engine” waarvan die eerste model eers in 2002 (dink ek) gebou is was nie stoomaagedrewe nie. Mens moet ‘n slinger met jou hand drawing om dit te laat werk.

  6. Leon Retief :

    Askies, my spellchecker. Ek bedoel met jou hand draai.

  7. Wicus Luwes :

    Hier is twee skakels wat meer vertel oor die stoomaangedrewe rekenaar waaroor ek geskryf het:
    “Boffins step closer to steam-powered Babbage computer” –
    http://www.theregister.co.uk/2011/09/21/babbage_notes_digitised/

    “The Analytical Engine features many essential principles found in the modern digital computer and its conception marks the transition from mechanized arithmetic to fully-fledged general purpose computation. Had the Engine been built, it would have dwarfed even the vast Difference Engine and cranking it by hand would have been beyond the strongest operator. ‘Calculating by steam’ would have been more than a figure of speech. It is on the Analytical Engine that Babbage’s standing as ‘the first computer pioneer’ largely rests.”
    http://www.computerhistory.org/babbage/history/

    Gaan Google gerus: “babbage steam computer” of “analytical engin”
    – Sover as wat ek kan sien is dit een van die dinge wat ingenieurs graag wil bou, maar nog nie regkry nie.

    Gaan Google ook: “babbage steampunk”
    – dit gaan hier oor alternatiewe geskiedenis met die Steampunk-wêreld wat Babbage se onvoltooide enjin in hul realiteit klaarmaak.

  8. Leon Retief :

    Ek moes dit miskien duideliker gestel het dat ek spesifiek na die “difference engine” verwys het wat handaangedrewe is. Indien jy nie reeds met die video bekend is nie, hier is dit:
    http://www.youtube.com/watch?v=0anIyVGeWOI

    Die “analytical engine”,indien dit wel voltooi sal word, sal stoomaangedrewe wees. Die hele ding van steampunk was vir my nuut en interessant, dankie.

  9. Wysneus :

    Party van ons kry die woorde; party kry syfers. Bitter min kry albei.

    Ek het eers steampunk verstaan as ‘n verbeelde wêreld sonder getemde (or dalk sonder tembare) elektro-magnetisme. Dus geen elektrisiteit of elektronika nie. Die kompaktheid van meganiese rekenaars is, kom ons sê, sub-optimaal.

    Maar werkbare nie-elektroniese rekenaars of inligting-verwerkers is tog moontlik. Jou brein is ‘n biologiese rekenaar (oraait, Leon, dit is elektries). DNA/RNA rekenaars is dalk die toekoms. http://med.stanford.edu/ism/2013/march/bil-gates.html

    Sulke biologiese rekenaars is onversoenbaar met ‘n Steampunk-wêreld. Hoekom? Dalk is Steampunk tegnologiese romantiek, ‘n wêreld met mens-skaal masjiene, waar ons kan verstaan hoe de hel die goed werk.

    Stoomgedrewe digkuns sou dan verstaanbare woorde in verstaanbare vorme gebruik om verstaanbare dinge te bedink/sing. On-ironies.

    Chaos, terloops, is meetbaar (termodinamies: entropie). ‘n Stoomenjin werk deur die heelal se terminale geneigdheid na chaos. Jy skep orde deur ‘n drukverskil oor die suier/turbine te veroorsaak. Die heelal doen haar bes om die chaos te herstel en (sonder dat sy dit weet) beweeg sy in die proses die suier/turbine soos jy dit wou hê.

    Dis hoekom die eerste drie dae van die skepping bo-natuurlike skeiding in ‘n vormlose wêreld behels.

  10. Wicus Luwes :

    Dankie vir die interessante kommentaar. Goeie skakel van Stanford. Dalk verstaanbare woorde vir onverstaanbare dinge, maar wie weet. Die romantiese komponent van ‘n verbeelde wêreld is miskien kritiek vir enige ontwerp – jy moet die ontwerp klaar in jou gedagtes kan voorstel voordat jy dit tot uitvoering bring. Ek is bevrees my DNA sal net gebruik kan word om Pacman of Tetris te kan speel!

  11. Wysneus :

    Ja, jy’s reg.

    Dit wys jou hoe katpoot die oorweldigend alomteenwoordige, wetenskaplik-materialistiese, faux-rasionalistiese, post-humanistiese denk-matriks van ons tyd is dat selfs ek (ek!) in ‘n swak oomblik sou dink dat die romantiese verstaanbaar moet wees. Dus eerder: die gebruik van verstaanbare woorde in herkenbare vorme om die ondeurpylbaarheid van die oënskylik verstaanbare te verwoord.

    Dieselfde is toevallig waar van die oënskynlik verstaanbare stoomenjin. Richard Feynman begin sy uitstekende fisika lesreeks deur te sê dat alles in die heelal verduidelik kan word deur die gewriemel (“jiggling”) van partikels. Maar hoekom, Dr. F, wriemel hulle? Hy sê nie.

  12. Leon Retief :

    Wysneus, ek dink darem nie dat Feynman oor die wriemelende partikels gepraat het in die dieselfde sin as wat Laplace dit destyds gedoen het nie. Daai partikels het begin wriemel tydens die oerknal en Newton se eerste en derde wette het verseker dat hulle bly wriemel. Mens kan natuurlik tereg vra waarom Newton se wette sê wat hulle sê en ook allerhande vrae oor die oerknal vra. Moenie aan my deur kom klop daaroor nie… Ek dink ook mens moet onderskei tussen entropie wat, effens oorvereenvoudig, die vermoë beteken om werk te doen (of nie te doen nie) en chaosteorie, (let wel: chaosteorie) dalk moes jy die woord wanorde gebruik het om dit van chaosteorie te differensieer. Dit wil nou sê as ek jou reg verstaan wat moontlik nie die geval is nie. Ek probeer nie nitpiek nie hoor .
    Die materialisme van ons tydsgewrig kan ewe veel toegeskryf word aan die ekonomiese toestande waarin ons leef of geleef het, advertensiewese en so meer en natuurlik is daar ‘n irriterende groepie mense wat “scientism” (ek weet nie wat die Afrikaans is nie) propageer maar hulle is in die minderheid. Mens sal bitter min wetenskaplikes kry wat nie ook die misterie van musiek, letterkunde, kuns en sowaar selfs romantiek ervaar nie. En ek sê dit as ‘n materialis. Ek dink Feynman druk dit goed uit, heel moontlik is jy bekend met hierdie kort video:http://www.youtube.com/watch?v=zSZNsIFID28

  13. Buiteblaf Breytenbach :

    Leon Retief – ek verstaan die Afrikaans vir “scientism” is “wetenskak”.

  14. Leon Retief :

    @ Breyten: ja! goeie woord! Wetenskaklikes?

  15. Buiteblaf Breytenbach :

    ‘n Vrugbare terrein, Leon. Want daar is ook nog Wetenskoekoes. Gelukkig darem ook Wetenskeppers en Wetensketters… (En sommeer nog Gewetensmouse ook.) Groete!

  16. Leon Retief :

    Breyten, daar is en sal altyd wetensketters wees en dis soos dit hoort. Howard Arp (as ek nou sy voornaam reg onthou en ek koop nie sy sienswyses nie), die geoloë waarvan ek in ‘n vorige inskrywing gepraat het (hulle was reg), die onlangse ENCODE en “duon” fiasko’s in molekulêre biologie en so aan. Die natuurwetenskappe benodig sulke mense, al is dit nou net om bestaande teorieë te verfyn of self omver te werp. En ja, wetenskapkoekoes, soos ek vergeet nou wie wat onlangs geskryf het dat mense van varke afstam!

    Die ding is: in die natuurwetenskappe moet mens ten minste ‘n model kan voorstel wat so naastenby met die waargenome werklikheid ooreenstem, wat repliseerbaar en vervalsbaar is. Is daar ketters in letterkunde? Ek weet nie.

    Ek sal later terugkom na jou ander skrywe, nou eers tyd vir ‘n paar glase wyn, middagete en ‘n lekker slapie.

  •