National Geographic het laat in 2013 die program Forever Young: The Fountain of Youth uitgesaai. Ene Yogi Zen deel hierin sy wonderkuur vir ’n ewige jeug – naamlik die drink van jou eie urine. Hierdie geheim verkoop hy ook in besonderhede tydens werksessies vir liggelowiges wat hy in sy “sentrum” in Amerika stelselmatig oorreed om die stap te neem om hulle eie “welriekende” uitskeidings af te sluk. So, vertel hy, kan ’n mens die aftakeling van die liggaam systap. Hy sê egter nie of hierdie kuur die dood ’n ewigheid lank van jou deur gaan weghou nie. Self lyk hy vir my maar bra nes enige ander kêrel in sy laat veertigs wat genoeg oefen en wegbly van Coke en wyn.
Dit is seker Yogi Zen se goeie reg om die tekens van die tyd te wil regdokter op ’n manier wat hy goeddink. En as jy, nou ja, nie kan lont ruik met so ’n gladdebek-bedrieër wat hom ook glo gereeld van kop tot tone met urine insmeer nie, is dit seker ook jou reg om jou dollars so te mors.
Maar op ’n meer ernstige noot: Die mens wil maar nie sy sterflikheid aanvaar nie. Deur die eeue heen is verhale bevolk met mitiese figure wat die verganklikheid op die een of ander wyse te bowe gekom het, wat die “ware” geheim van die fontein van die ewige jeug ontdek het. En dis nie asof sulke stories abrup tot ’n einde gekom het met die aanbreek van die moderne tyd nie. Inteendeel, die onsterflikes is meer populêr as ooit vantevore, wil dit lyk. Maar terwyl pre-tieners nie kan wag vir die volgende reeks van Vampire Diaries nie, voel al wat middeljarige is waarskynlik lus om na ’n kuur van enige aard te gryp om die nagevolge van ’n jeug onder die Afrika-son te probeer omkeer. Sulke tye mag jy wel heel geneë wees om jou ore uit te leen aan die een of ander kwaksalwer wat jou wil kom vertel urine is ambrosyn.
Die graaf van St.Germain is een van dié mitiese onsterflikes wat selfs tot vandag toe in internetlegendes voortleef. Daar is heelparty aardige webwerwe waarop hy in astrale kleure omhul as ’n soort poster boy van die ewige lewe uitgebeeld word, en kennelik is daar steeds aanhangers van die teorie dat hy werklik die rype ouderdom van 4 000 gehaal het, soos hy glo self volgens sekere verdagte bronne beweer het. Ander bronne stel hom voor as ’n Rosekruiser met ’n kennis van verborgene, en die karakter Aglié in Umberto Eco se bitter ingewikkelde Foucault’s Pendulum (1988) laat deurskemer dat hy St. Germain is, met ’n indrukwekkende arsenaal van kennis oor die okkulte.
Mites oor St. Germain, weliswaar ’n egte historiese figuur uit die agtiende eeu, is volop. Daar word beweer dat hy ’n alchemis was wat die geheime van transmutasie ontsluit het; dít het hy ryklik gedemonstreer in die kosbare juwele waarmee sy uitrustings glo versier was. Glo sou hy ’n man van vele talente wees: ’n digter, ’n komponis en ’n poliglot. Lodewyk XV, wie se vertroueling hy was, het hom volgens ander bronne selfs op geheime diplomatiese sendings gestuur.
Maar die grootste bron van fluisteringe oor hom was dat hy deur sy kennis van die chemie die elikser van die ewige lewe ontdek het. Deur al sy wedervaringe en herverskynings deur die tweede helfte van die agtiende eeu het hy glo glad nie verouder nie en het nooit ouer as vroeg-middeljarig gelyk nie – soos hy uitgebeeld is op die enigste portret wat daar van hom bestaan.

Die werklike gegewens rondom die lewe van die graaf van St. Germain is redelik skraal en word verswelg deur die mites. Die eerste keer dat hy egter as historiese karakter gedokumenteer word, is in 1745, in ’n brief van Horace Walpole, Britse historikus en politikus, wat hom in Londen teëgekom het. Hy beskryf die “graaf” as ’n vreemde karakter wat nie sy ware naam gebruik nie en noem hom reguit “mad, and not very sensible”. Walpole is egter daarvan oortuig dat St. Germain geen edelman is nie.
In die volgende jaar word van St. Germain se musiekkomposisies in Londen opgevoer, waarna hy twaalf jaar lank van die toneel af verdwyn en dan skielik in Versailles opduik. Hy word aan die Franse hof voorgestel en vertoef daar van 1758 tot 1760. St. Germain blyk gewilde geselskap aan die hof te wees met sy uitgebreide kennis van die geskiedenis en spitsvondige praatjies. Juis in hierdie tyd laat hy skimpe val dat hy in werklikheid eeue oud is, en sorg self vir genoeg skinderstories oor hom deurdat hy nooit in die openbaar eet nie en van tyd tot tyd ’n verjongende drankie vir die dames aan die hof aanbied.
St. Germain verdwyn teen 1760 van die Franse toneel en word vir tye in België en Rusland gesien. In België probeer hy resepte vir kleurstowwe aan die owerhede verkoop, en twee jaar later probeer hy nog ’n klomp nuwe tegnieke vir die behandeling van onder meer wyn, papier en ivoor aan die Duitse regering verkwansel. Hiermee saam vertel hy ook dat hy die geheim van die transmutasie van metale bemeester het – iets wat sy geloofwaardigheid in Duitsland groot skade berokken het en liggelowiges tot vandag toe laat glo dat hy wel oor sonderlinge vermoëns beskik het.
Sy talent om mooi broodjies te bak het hy in later jare na sy herverskyning aan die Franse hof ook aangewend om toekomsvoorspellings in versvorm vir Marie Antoinette aan te bied. Madame d’Adhémar – een van die Franse koningin se hofdames – se dagboek van tussen 1760 en 1821 vertel van St. Germain se profesieë oor die komende revolusie. Die vertaling van sy erg dramatiese, woordryke voorspelling lui soos volg:
The time is fast approaching when imprudent France,
Surrounded by misfortune she might have spared herself,
Will call to mind such hell as Dante painted.
This day, O Queen! is near, no more can doubt remain,
A hydra vile and cowardly, with his enormous horns
Will carry off the altar, throne, and Themis;
In place of common sense, madness incredible
Will reign, and all be lawful to the wicked.
Yea! Falling shall we see sceptre, censer, scales,
Towers and escutcheons, even the white flag:
Henceforth will all be fraud, murders and violence,
Which we shall find instead of sweet repose.
Great streams of blood are flowing in each town;
Sobs only do I hear, and exiles see!
On all sides civil discord loudly roars,
And uttering cries on all sides virtue flees,
As from the assembly votes of death arise.
Great God! who can reply to murderous judges?
And on what brows august I see the sword descend!
What monsters treated as the peers of heroes!
Oppressors, oppressed, victors, vanquished . . .
The storm reaches you all in turn, in this common wreck,
What crimes, what evils, what appalling guilt,
Menace the subjects, as the potentates!
And more than one usurper triumphs in command,
More than one heart misled is humbled and repents.
At last, closing the abyss and born from a black tomb
There rises a young lily, more happy, and more fair.
Voltaire het hom blykbaar droogweg oor St. Germain uitgelaat: “’n Man wat alles weet en nooit sterf nie”. (Helaas is daar skynbaar tot vandag toe diegene op wie Voltaire se satiriese stekie na St. Germain se beterweterige karakter vermors is, en is dit heel moontlik dat Voltaire se opmerking die bron van die bespiegelinge oor die St. Germain se onnatuurlike lang lewe is.)
Nadat hy in die laaste deel van sy lewe ’n vertroueling van Prins Karl van Hess-Kassel was en dié se beskerming geniet het, sterf St. Germain in 1784 aan longontsteking. Hy was teen die einde van sy lewe sonder veel aardse besittings en laat geen spore van alchemistiese bedrywighede na nie. Die feit is egter dat hy ’n groot belangstelling in die kleur van materiale gehad het, en dat hierdie stokperdjie waarskynlik die mites oor transmutasie gevoed het.
Wat vir my uit die mites rondom St. Germain duidelik raak, is dat talle mense bykans desperaat gryp na enige “bewys” van ewige jeug of ’n ewige lewe. Sommige glo weer dat jy jouself bloot moet jonk dink; dat jy bloot die verbygaan van die tyd moet ontken. Ter ondersteuning van hierdie hipotese vertel ’n verdagte St.Germain-webwerf die storie van die Britse vrou wat op 74 geen teken van veroudering getoon het nie, omdat sy na ’n liefdesteleurstelling in haar jeug in haar gees in die verlede gebly het. Dus: as jy nie oortuig is van die gang van die tyd nie, sal jy onaangeraak daardeur bly.
Veel meer oortuigend is die gedagte dat die mens mettertyd sal leer om die liggaamlike gevolge van tyd deur tegnologie te beheer, soos prof. Anton van Niekerk in ’n Forum-artikel in Die Burger van 12 November 2013 skryf. Dit moet sekerlik wonderlik wees om jou kwynende organe stelselmatig met nuwes te kan vervang en jou moeë vel met ’n nuut gekweekte laag te kan vervang. Maar waaroor ek ook wonder, is hoe ’n mens emosioneel daar uitsien na ’n leeftyd van ’n paar honderd jaar, indien tegnologie dit moontlik maak? Sien jy hoegnaamd nog kans vir die daaglikse eise, en dalk veral die eise wat ’n snel veranderende wêreld aan jou gaan bly stel? Of sal emosionele vermoeidheid ook verlig word wanneer jou liggaam ewig jonk bly? Met ander woorde, sal ’n jong liggaam altyd ’n jong gees huisves? Of sal die sielkundiges van die transhumanistiese era met ’n gans nuwe stel probleme opgeskeep sit wanneer die menslike lewe honderde jare lank word?
Bronne
Skinner, Dough. 2001. The Count of St-Germain. Beskikbaar: http://www.forteantimes.com/features/profiles/499/the_count_of_stgermain.html [1 Desember 2013].
The Comte de St. Germain, by Isabel Cooper-Oakley, [1912], http://www.sacred-texts.com/sro/csg/csg01.htm [1 Desember 2013].