PEN Afrikaans. Nuusbrief

Nuusbrief: 7 Februarie 2014

Kerneels Breytenbach
Voorsitter

1.

Woordfees 2014 word van 6 tot 16 Maart op Stellenbosch gehou. PEN Afrikaans se laaste samekoms was in Oktober verlede jaar op Potchefstroom – vir my gevoel té onlangs om nou ’n algemene jaarvergadering vir die Woordfees aan te lê.

Daarom  sal ons ’n informele byeenkoms vir ons lede aanlê by De Vette Mossel op Saterdag, 15 Maart om 3 nm. – en ek nooi graag alle lede van PEN Afrikaans wat dan in die Kaap of omstreke is, om ’n draai daar te maak.

Ons het ook verlede jaar tydens die Woordfees met groot vrug en vreugde ons verrigtinge daar afgesluit. Ons hoop om ’n wynborg aan te keer.

Ek sal bly wees as almal wat wil kom, my (kerneels1@me.com) of Amanda Lourens (alourens@sun.ac.za) net per kerende e-pos sal laat weet. Dit is nodig om ons reëlings te maak.

Die tydgleuf wat ons in gedagte het, sal dit vir belangstellendes moontlik maak om na Dana Snyman te gaan luister om 2 nm, en om 4 nm weer vir Adam Small, Wilma Stockenström, T.T. Cloete en Hennie Nortjé in die Boeketent.

Diegene wat op ’n afstand vanaf De Vette Mossel wil luister, kan dit ook doen!

Ek sal binne die volgende weke weer hieroor met ons lede skakel.

2.

Die besluit van M-Net om hul Literêre Pryse vir vanjaar op te skort het alle Suid-Afrikaanse skrywers onkant betrap. Daar is die afgelope maande in die wandelgange van daardie instansie gepraat van só ’n moontlikheid – maar diegene met lang geheues sal onthou dat dit al vantevore gebeur het, en dat daar selfs ’n slag ’n jaar oorgeslaan is ná die verstryking van die termyn van die organiseerder, John Badenhorst.

Hierdie keer is daar geen termynverstryking nie, trouens, M-Net het die afgelope twee jaar nuwe lewe in dié pryse geblaas met die verplasing van die prysoorhandigings na Johannesburg. Oudio-visueel het die prysgeleentheid in 2013 ’n dinamiese nuwe hoogtepunt bereik danksy die betrokkenheid van Haddad Viljoen.

Hettie Scholtz is nou al langer as ’n dekade sameroeper en organiseerder van die beoordelaarspanele, en die hoë aansien wat die M-Net Literêre Pryse in alle tale in Suid-Afrika geniet het, is te danke aan haar vernuftige keuses van beoordelaars en die leiding wat sy aan hulle gegee het.

Nugter beskou ís dit nog altyd ’n taamlik vreemde kombinasie, hierdie een van ’n TV-onderneming wat literêre pryse borg. M-Net kon nog altyd hul besluit baie goed motiveer (uit die staanspoor deur mnre. Koos Bekker en Gerrie de Villiers) en die feit dat die pryse in getal toegeneem het om ook die letterkundes in swart tale te stimuleer en bevorder, was nog altyd vir my ’n teken dat die M-Net Literêre Pryse doelgerig en behoorlik oop in alle rigtings is.

As mens jou nugtere blik verder werp, moet jy ook daarvan kennis neem dat daar tans onder die groter dak van daardie onderneming twee stelle kanale is wat goed winsgewend is: SuperSport en Kyk-Net. ’n Mens kan net die hoop uitspreek, diplomaties gestel, dat wanneer M-Net moet besluit wat in die toekoms met die Literêre Pryse gaan gebeur, laasgenoemde feit ’n groot rol sal speel.

3.

Die registrasie van PEN Afrikaans as nie-winsgewende organisasie: Tot op datum nog geen reaksie van die Departement van Sosiale Ontwikkeling nie. Miskien moet ons ’n blad uit Philip de Vos se boekie skeur en vir ons aansoek ’n verjaarsdagkaartjie stuur.

4.

Dit dreun die afgelope maande in Suid-Afrika soos die politieke partye hulle gereed maak vir ’n algemene verkiesing. Vir skrywers is dit ’n goue geleentheid om stemming te maak vir ’n saak wat alle skrywers en lesers raak, naamlik die bobelasting wat tans op boeke gehef word.

Daar het die afgelope week twee berigte in Beeld verskyn wat ek graag hier volledig wil aanhaal. Albei is geskryf deur Rudolf Stehle, en gee ’n baie goeie agtergrond van die problematiek wat geskep word deur die voortgesette heffing van hierdie bobelasting.

Die lees van hierdie berigte sal hopelik ons lede help om argumenterend die strydbyl op te neem. Hoekom dit vir skrywers belangrik is? Ons verdien geen tantième op die belasting-komponent van die prys wat iemand vir ’n boek betaal nie. Daardie belastingheffing plaas boeke vir sommige lede van die leserspubliek finaal buite hul bereik. Ons wil dat ons boeke deur soveel mense as moontlik gelees word.

 

Berig van 31 Januarie 2014:

Die Italiaanse regering het verlede maand aangekondig hy beplan om ’n belastingkorting van 19% in te stel op gedrukte boeke, berig die Italiaanse nuusdiens AGI. Italiaanse lesers kan volgens dié plan tot ’n maksimum bedrag van sowat R25 000 terugeis van hul jaarlikse boekaankope.

Italië handhaaf reeds ’n BTW-koers van slegs 4% op alle boeke, ver onder die algemene BTW-koers van 22%, in ’n poging om die lees van boeke aan te moedig.
Ander Europese lande wat ook geruime tyd reeds verlaagde BTW op boeke hef, sluit in Duitsland (7%), Frankryk (7%), Brittanje (0%), Swede (6%) en Nederland (6%).

Hier ter plaatse is die tesourie nie bereid om ’n produk soos boeke vir BTW-vrystelling uit te sonder nie, omdat die gevaar bestaan dat drukgroepe dan sal aandring op BTW-toegewings op ander produkte, wat die belastingstelsel in duie kan laat stort.

Daarom is die gewone BTW-heffing van 14% steeds op boeke van toepassing.

Cecil Morden, die hoofdirekteur van belasting- en ekonomiese ontleding by die nasionale tesourie, sê Suid-Afrika se BTW-stelsel is betreklik eenvoudig, alles word sover moontlik belas, die koers bly betreklik laag en daar is min uitsonderings.

Dit is in teenstelling met die BTW-stelsel wat in Europa geld. “Dié stelsel het talle uitsonderings, met die gevolg dat regerings probeer om die koerse op ander produkte te verhoog, wat die administrasie van die stelsel kompliseer,” sê Morden.

Hy wys ook daarop dat die gewone belastingkoers in Europa veel hoër is as in Suid-Afrika.

Morden sê sommige mense reken deur boeke te belas, belas die regering kennis, maar hy sê dié argument is nie baie oortuigend nie.

Hy vra waarom die tesourie ’n noodsaaklike kommoditeit soos water sou belas, maar verligting sou gee in die geval van boeke.

“Elkeen met ’n spesifieke drukgroep kan na vore kom en sê dié produk is belangriker as daardie, en wat moet die regering dan doen? As ons almal moet glo, moet ons toegewings aan almal toestaan. Dan stort die belastingstelsel in duie.”

Talle versoeke is al aan die tesourie gerig om belasting op boeke af te skaf, maar dit is afgekeur. Dít terwyl die staat se algehele belastinginkomste uit die verkope van boeke, skoolhandboeke, tydskrifte en koerante per jaar sowat R750 miljoen is.

Volgens Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers, was daar al herhaalde pogings, onder meer gefasiliteer deur die Suid-Afrikaanse Uitgewersvereniging (Pasa), om boeke plaaslik BTW-vry te maak.

Sy is ten gunste van ’n BTW-vrystelling omdat dit boeke meer bekostigbaar sal maak vir die breë publiek.

“ ’n BTW-vrystelling sou ook daartoe kon bydra om die persepsie dat boeke ’n ‘luukse’ is, te verander in ’n siening dat boeke ’n noodsaaklikheid is in enige beskawing,” sê Wessels.

’n Meningspeiling verlede jaar deur die marknavorser Pondering Panda waaraan 12 000 Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 12 en 34 deelgeneem het, toon jong Suid-Afrikaners is ywerige lesers, maar kan nie boeke bekostig nie.

Shirley Wakefield, ’n woordvoerder van Pondering Panda, het volgens Sapa gesê een maatreël wat die regering dadelik kan toepas, is om boeke van BTW vry te stel sodat dit meer bekostigbaar word vir jong mense.

Volgens Wakefield het 88% van die respondente aangedui hulle sal definitief meer boeke koop as dit goedkoper is.

Dion George, DA-LP, het in 2010 ’n veldtog gelei om die tesourie te oortuig om BTW op boeke af te skaf.

Dié voorstel het uiteindelik voor die parlement se portefeuljekomitee oor finansies gedien. Die tesourie het toe ’n voorlegging oor BTW aan die komitee gelewer waarin hy sy teenkanting teen die afskaffing van BTW op boeke uitgespreek het.

Die portefeuljekomitee het die voorstel afgekeur.

George meen die rede vir die tesourie se teenkanting is ook polities gemotiveer.

Hy sê daar is ’n drukgroep in die ANC-alliansie, veral uit Cosatu se geledere, wat ten gunste is nie net van die afskaffing van BTW op boeke nie, maar ook op klere en voedsel. “As die tesourie instem om BTW op boeke af te skaf, hoe gaan hulle dit regverdig om nie ook BTW op ander goedere af te skaf nie?”

 

Berig van 7 Februarie:

Enige belasting wat op boeke gehef word, is onteenseglik ’n belasting op kennis. Só sê Stephen Johnson, uitvoerende hoof van die uitgewer Penguin South Africa.

Johnson het gereageer op ’n berig in Beeld waarin die tesourie sy standpunt oor die hef van BTW op boeke verduidelik.

Cecil Morden, hoofdirekteur van belasting- en ekonomiese ontleding by die tesourie, het aan Beeld gesê die argument dat die hef van BTW op boeke daarop neerkom dat die regering kennis belas, nie baie oortuigend is nie. Hy het gevra waarom die tesourie ’n noodsaaklike kommoditeit soos water sou belas, maar boeke nié.

“Elkeen met ’n spesifieke drukgroep kan na vore kom en sê dié produk is belangriker as dáárdie en wat moet die regering dán doen?” het Morden gesê.

Maar Johnson verskil.

Hy sê enige belasting op lees het ’n nadelige uitwerking op die ontwikkeling van die samelewing, veral “in ’n land soos Suid-Afrika wat met soveel uitdagings te kampe het wat vererger word deur die wydverspreide onderwyskrisis, wat te veel kritieke areas van dienslewering raak”.

Hy sê die hef van BTW op boeke kortwiek entrepreneurskap, kreatiwiteit en ingeligte debatvoering en staan in die weg van kulturele diversiteit.

Johnson sê ook die geïnstitusionaliseerde sinisme wat die hef van BTW op boeke dikteer, is ’n groot bedreiging vir die groei van ’n leeskultuur.

“Slegs meer welgestelde burgers – of die staat – kan dit bekostig om boeke te koop,” sê hy.

“Dit impliseer dat minder gegoede mense van lees weerhou word. Dit lei tot die verskansing van armoede en onkunde, veral aangesien biblioteek-begrotings sedert 1994 elke jaar aansienlik besnoei word.

Hy sê dit is “oppervlakkig” en “onoortuigend” dat die regering se sterkste argumente teen die afskaffing van BTW op leesmateriaal is dat drukgroepe sal aandring op belastingverligting op ander goedere en dienste en dat BTW-uitsonderings administrasie sal bemoeilik.

“Uitsonderings geld reeds vir sekere kosse. Die gedagtes en harte van Suid-Afrikaners verdien tog ook bekostigbaarder en gesonde voeding.”

Maria van Driel, organiseerder van die Jozi Book Fair, sê die administratiewe las van ’n BTW-uitsondering vir boeke is ’n klein prys om te betaal vir die belegging in menslike kapitaal wat deur boeke moontlik gemaak word.

“Boeke is nie items wat opgebruik kan word nie en bevorder die ontwikkeling van vaardighede en produktiwiteit,” sê Van Driel.

“Ná byna 20 jaar van demokrasie, die nalatenskap van apartheid, die huidige onderwyskrisis en wydverspreide sosiale ongelykheid, waarom gebruik die tesourie dié patetiese verskoning om nie boeke bekostigbaar en toeganklik vir die meerderheid te maak nie?”

Die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (Pasa) het by monde van sy woordvoerder, Mpuka Radinku, gesê hy verwelkom die tesourie se besluit om buitelandse e-boekhandelaars te belas (sien berig hierby) omdat dit die speelveld gelyk maak.

Hy meen egter die tesourie het die kans verspeel om BTW op alle boeke af te skaf en dit só bekostigbaarder te maak en tot ’n leeskultuur by te dra.

 

 

Kerneels Breytenbach
Voorsitter

Copyright © 2014 PEN Afrikaans, All rights reserved.
Hierdie lys is opgestel uit PEN Afrikaans se oorspronklike ledelys.

PEN Afrikaans

Posbus 838

Somerset-Wes, Wes-Kaap 7129

South Africa

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •