vir M
onthou jy die linoleum tapyt
die middagslape warm in ouma se ouhuis
die gang die kamers weerskant uitgewyk
die ouma-oupa slaapkamer die dubbelbed
onthou jy die wegsluip in die hitte
om so ‘n Sondagmiddag te ontwyk
en oupa in sy onderbroek opsoek
na kleinkinders se wegsteekplek
onthou jy druifsap in die korrels ryp
die Boland met sy ondergrond
vieruur se koffie tee en koekies
die soet vergoed vir sy vergryp
*
talodomide
kan jy op tagtig Ma nog uit
daardie skouers stug en stomp
mutasies van ‘n moeder
geërf met gene en verledes
arms hande vingers laat spruit
sal jy my op jou skoot kan tel
soos nooit tevore ooit
my kan laat drink tot barstens toe
uit ‘n geslote en verborge bron
voordat ‘n laaste skade vel
of moet ek hierdie lang verlang
uit God se wil uit wrik
met ‘n gebrekkige gebed
sodat ek nog ‘n óns kan red
– die donker dring en ek is bang
© Christine Le Roux / 2014
Talodomide – goeie genugtig! Via die gedig leer ek nou daarvan op Wikipedia! Die lewe en sy vreeslike verrassings darem!