vir B – 1999
eendag
‘n lou sementstoep in verskiet
ek teen jou knie geleun
ligter geleef oplaas ouer
jy wyser as die laaste strale lig
die lou suidwind wat deur die boorde spoel
vat jy my saam
wys my die kind
sy voete in ‘n watervoor
sy hande in die klipgritgrond
tong wat ‘n helikoptergrasspriet proe
sy ingekeerde oë reeds attent
om deur die bindweefsel se skag
‘n weg- en verder wêreld te betrag
geskool om tussen mure en ‘n traliehek
die diep witweet te jag, te ademsnak oorkant
onder die oppervlak te proe te soen te streel te haat
te wens te voel te dink
die hart se pols
te bloei
teen letters
van die wet
‘n man se voel
te ink
terwyl die kind
woordloos alleen
op stom droë agtermiddae
met doringvoete oor die werf heen hink
© Christine Barkhuizen le Roux / 2014