Vir Aardklop 2014 het Evette Weyers ʼn uitstalling van beeldhouwerke saamgestel met die tema “Letterlik en figuurlik”. Die meeste van die werke op uitstalling het op een of ander wyse aangesluit by taal, letterkunde en veral by die poësie. Baie van die werke was letterlike uitbeeldings van Afrikaanse idiome of segswyses, soos “die beste voetjie voor sit”. “Kaalvoet oor die Drakensberge” is ʼn beeld van voete met Voortrekkerkappies op en die “Drakensberge” in die agtergrond waarop ʼn verhaal oor Afrikaans geskryf is. Een van die interessantste beelde op die uitstalling was ʼn speelse konseptuele beeld oor transformasie, “Recycling of a Cycle”. Weyers beskryf dié beeld soos volg:
“My eerste poging in 1986 het plat geval oor die die saadjies nie goed gespruit het nie. Ek het my ou fiets op ʼn beeld-staander gemonteer, asof dit ʼn beeld was. Met vriende het ons die fiets losweg met klei bedek en met saadjies besprinkel wat daagliks natgemaak moes word, sodat die sade uitspruit. My idee was dat die fiets ʼn kunswerk word, en die kunswerk dan ʼn maaltyd word wat ons, formeel geplaas om die beeld, saam sou eet.”
Hierdie keer het die saadjies wel ontkiem (in my kombuis) en die beeld het inderdaad ʼn maaltyd geword. Drie van ons het dié beeldmaaltyd geëet. Evette skryf verder:
“Kuns het te doen met metafore en soms met die transformasie daarvan. Tydens die ysige winter in die Eerste Wêreldoorlog, het die beroemde skilder, George Braque, die eerste keer gesien hoe ’n mens ʼn water-emmer vol gate steek en vol brandende kole pak om dit te transformeer in ʼn verwarmer, en sodoende te oorleef in die koue. Dit het hom terdeë laat besef hoe vorm, funksie en betekenis kan transformeer. Hy het hierdie beginsel in sy briljante kubistiese skilderye toegepas.”
Nog ʼn beeld wat my al vantevore getref het weens sy wyd uitkringende assosiasies en intertekste, is Die Klank van ʼn stukkende gedig, gebaseer op ʼn gedig van Breyten Breytenbach, stukkende gedig uit sy eerste bundel Die ysterkoei moet sweet. Dit is ʼn bekende feit dat Evette Weyers besondere inspirasie uit Breytenbach se poësie put en dikwels deur middel van haar beeldhouwerk met hom in gesprek tree. Sy beweer: “Sy verbysterende kreatiwiteit lig my op tot hoog bokant myself.” Die feit dat Weyers uitgebreid oor haar kuns skryf, dra natuurlik daartoe by dat die breër publiek insig verkry in haar werkwyse en verdig op teoretiese vlak die intertekstuele weefsel van spesifieke werke. Dit is byvoorbeeld algemeen bekend dat haar man, Marius Weyers, die stukkende gedig op ʼn kleiblad geskryf het (omdat sy beweer haar eie handskrif is te onleesbaar). Toe die klei droog was, het sy die kleiblad gebreek, en dit word toe letterlik ʼn stukkende gedig. Daarna het sy gaatjies gesteek in elke skerf en dit aan ʼn spiraal opgehang as roer-beeld. Die skerwe stamp klingelend teen mekaar as die wind waai. Sy skryf: “Bo-op die spiraal het ek ʼn vereenvoudigde figuur van Breyten geplaas, as ʼn Boeddha, met sy 16e September pampoen in sy skoot; hy is net so kaal gestroop soos hy in die gedig is.”
Om die Breyten-figuur bo-aan die beeld akkuraat te kan interpreteer, moet die kyker egter ook kennis dra van die invloed van Zen-Boeddhistiese denke op Breytenbach se werk. Ook kennis van die interteks “16 September 2001” uit die bundel Die windvanger verruim die betekenis van die gedig. 16 September is natuurlik Breyten se verjaarsdag wat dikwels in sy werk gedokumenteer word. Die gedig waarna hierbo verwys is, begin só:
ʼn Man het vir hom ʼn pampoen gekoop op die Union Square
Market in New York City vir sy verjaardag die sestiende
September ʼn geboorteglips moet herdenk en gevier word daar
is nie meer baie oor nie en die wêreld word koud om ons.
In die nag kon die man nie slaap nie, “Hy het opgestaan en buite op die balkon / op sy hurke by die pampoen gaan sit” en met hom begin gesels. Toe die pampoen egter begin huil, gooi hy hom af
En polisie en
soldate het gekom met ʼn geloei uit die doderyk en met maskers en
masjiengewere en skynwerpers en die man soos ʼn vlieg vasgespeld
teen die muur van die balkon.
Die man begin hom verdedig, en die gedig sluit dan met die woorde:
Dis maar net ʼn storie en kyk hoe
stukkend lê die woorde nou! Wat sal ek tog hê om te onthou van
my verjaardag die sestiende september in New York City?
Met die geklingel van die stukkende gedig in my ore, onthou ek egter ook nog kommentaar wat Evette oor ʼn ander beeldhouwerk, “Gebruiksaanwysings” (ook na aanleiding van ʼn Breytenbach-gedig) geskryf het. Hierdie kommentaar kan ewe goed op die beeldhouwerk “die klank van ʼn stukkende gedig” (asook op baie ander van haar beeldhouwerke) van toepassing gemaak word. Eers die gedig:
Gebruiksaanwysings
eers kom die wind
die voël die vis die boom
die kind (die wind)
en ʼn begin van woorde
wat kleuterkleure aan geheue bind
met ʼn lint van klanke
die sterwe kom uit die lyf
soos getye tyd gestoot
deur ʼn larwe lewe van sterre en sinne
gestring aan wat om die oog
se einders knetter en brand
die verstrengelde voël, die vaste vis,
die ketter, die kindse kind
die asem weemoed
die hand ʼn blinde hond
snoep-snoet teen die bederfenis
van soet wind
En dan Weyers se kommentaar:
“Breyten is soos ’n rukwind wat deur jou huis en haard waai, deur jou oerwoude en landerye, deur die vergete boorde van jou verbeelding. Die betekenis vir my lê in die vrugte wat losgeruk is, dakplate wat soms afgewaai het, alles wat oopgekloof is en die klokke wat hy laat beier het. Die eggo’s van assosiasie, wat wyer en wyer uitkring deur jou lewe. Dit is reeds die persoonlike intimiteit van ’n gedig. Om ʼn logiese betekenis te moet skep is ’n heel ander reis, met sy eie openbaringe. Kortliks, die gedig begin as asem, lewe. Met linte van sterre en sinne string Breyten die heelal se ontstaan aan lewensiklusse van larwe tot mens, van sein en bewussyn tot kwyn en verdwyn. Vir my ruik die “soet wind” aan die einde van die gedig na katjiepiering, want so ruik die dood, volgens ʼn vriend wat op die grens geveg het. Maar steeds bly die grootste betowering van ʼn gedig vir my dat dit so evokatief is.
“Breyten is kreatief só aansteeklik. In antwoord op sy Lappaseit-doekboeke het kunstenaars hulle sluise oopgetrek, hulle riviere laat vloei en musiek gemaak om dit te vier. Die gedigte is getoonset en op CD vasgelê. Party van ons het beelde van die gedigte gemaak. Die toneelstuk Wemeltong, op die KKNK, was manjifiek. Dit gebruik bloot die teks van Breyten se doekboeke as ʼn toneelstuk, met die doekboeke self as deel van die stuk.
“Ons as lesers, toeskouers en toehoorders moes iets mooi skep om ons balans te behou te midde van soveel kreatiewe uitmuntendheid. Ons moes iets skep om ons aan die aarde te anker, anders sou ons wegwaai met die volgende orkaan van ʼn gedig.”
Besonder veelseggend is dat die beeldhouer dit as haar opdrag beskou om in gesprek te tree, te antwoord op die kunswerk van ʼn ander digter. Dat sy spontaan reageer op ander kunswerke wat haar ontroer. Hierdie is ʼn Ars Poetica, ʼn verhaal oor die werking van die muses.
ʼn Beeld wat baie Aardklopgangers aangegryp het, is die pragtige “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval”. Volgens die beeldhouer het sy weer eens haar inspirasie vir dié beeld geput uit ʼn bundel van Breyten Breytenbach, hierdie keer uit nege landskappe van ons tye bemaak aan ʼn beminde. Die laaste afdeling van hierdie bundel heet die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval. Dit bevat gedigte oor afskeid, verganklikheid, verval en die dood. Enkele strofes teen die einde van die afdeling uit die gedig die titel is: ʼn belydende woord uit die dood het my opgeval as deel van ʼn moontlike huiwerige interpretasie van die betrokke beeld:
woorde? landskap? wysie?
dis maar net ʼn netvlies refleksies
soos flitsende spieëls vir kommunikasie
met die ander land, kyk, die goud
is son wat gebeen het in die aarde
maar ruite is sonbriewe waarin jy
die verblindendste betekenisse kan lees
(…)
ek sê nog: die ewigheid
is om aan te hou vervel deur ʼn landskap
van oase na fontein langs trajekte
van klank, ʼn lied is ʼn roete,
(hierdie is my lied)
die land loop by my oë uit,
die meetsnoere het so mooi vir my geval[.]
In die laaste afdeling van die bogenoemde bundel word die dood as landskap uitgebeeld. Dikwels is die landskap egter ook die liggaam, want dit is juis die liggaam wat aan sterf onderworpe is. In Psalm 16:6 (Ou Vertaling), waar die woorde “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja my erfenis is vir my mooi” oorspronklik verskyn, word inderdaad na ʼn land(skap) verwys. Die woord wat vertaal word met “meetsnoere” is die Hebreeuse woord “chebel” wat gebruik is vir ‘n maatlyn met knope daarin aangebring om lengte te meet soos wat ‘n gebou of ‘n kleinerige stuk grond gemeet sou word. In Weyers se beeld is die landskap die liggaam soos dit dikwels ook in die letterkunde as metafoor gebruik word. Die digter Dawid (die Psalmdigter) word by haar ʼn losstaande beeld wat oor die vrouebeeld hang en wat verplaas kan word, al na gelang van welke deel van die liggaam hy wil beskou. Om die vrou is die “meetsnoere” – die pragtige snoer met knope gedrapeer wat ons nog al koffiedrinkend in ʼn kafeetjie in Stellenbosch geknoop het voordat die beeld die eerste keer op uitstalling gegaan het …
Met hierdie blog het ek probeer aantoon hoe ryk die intertekstuele netwerk rondom moderne kunswerke kan word, veral weens moderne media wat dit moontlik maak dat so baie stemme gehoor kan word, so baie kommentaar verreken word en so baie tekste binne sekondes opgespoor kan word.
Marlies., Wat ‘n heerlike verassing. So ‘n uitgebreide blog! DANKIE.
Baie dankie Joan en Francis vir julle bydraes!
mooi loop
Dis ‘n mooi verslag, Marlies, oor Evette se werk en werkswyse.
Ek stem met jou saam, Joan! Haar beelde voeg ook ‘n nuwe dimensie toe tot Breyten se gedigte. Ek het al ‘n foto gesien van die “Man wat val” – besondere interpretasie van jou gedig sou ek sê. Ek kon myself hierdie keer nie keer om tog maar 2 nuwe werke van haar aan te skaf nie: die “See-Boeddha” en “Koraspeler” – beide magiese beelde met ongelooflike auras!
Evette Weyers is ‘n besondere “vertaler” van die digkuns. In my besit is haar kunswerk van my gedig “Foto: man wat val”.
Sy verstaan Breytenbach se gedigte en “vertaal” dit puik.
Ek is ‘n groot bewonderaar van haar werk.
Baie dankie, Marlies – werklik insiggewend en opwindend!