Wicus Luwes. Nigeriese Nommers

174 miljoen inwoners in Nigerië
500+ etniese groepe in Nigerië
Nigerië is verdeel in 32 state
$500 – Nigerië se BBP(Bruto Binnelandse Produk) steek Suid-Afrika in 2014 as 26ste grootste ekonomie in die wêreld verby


15 April 2014 – 276 meisies uit ‘n Chibok skoolkoshuis ontvoer
53 het feitlik dadelik ontsnap
29 Mei 2014 – 4 ontsnap
Chibok is in Nigerië se Borno staat en het 66,105 inwoners volgens die 2006 sensus.

 

die fluitspeler van boko haram

die fluitspeler van boko haram
speel met agtergrondsang van geweer en bom
sy deuntjie op maat van
‘laat die kindertjies na my toe kom’

o dirigent o musikant
o Abraham se bloedverwant
o moet hul nie verhinder nie
o bring hul veilig terug

die fluitspeler met masjiengeweer
en ‘n oorbekende refrein
neem die dogters dieper dat
hul in die rotswand en ruigtes verdwyn

in ‘n skoolbank lê verlate
boeke oor wiskunde en huisvlyt
‘n pennesak en uitveer
‘n kind se droom en ‘n blokfluit

Aanvalle deur Boko Haram in 2014 en die mense wat gesterf het
12 Februarie 2014 – Konduga – 39
12 Februarie 2014 – Wajirko – 4
16 Februarie 2014 – Izge Rana, Christen dorpie in Borno -90
19 Februarie 2014 – Bama – 60
25 Februarie 2014 – Buni Yadi – 59
1 Maart 2014 – Maiduguri – 51
1 Maart 2014 – Mainok – 39
10 April 2014 –    Kala Balge – 60
10 April 2014 –    Dikwa –    8
14 April 2014 –    Abuja – 88
1 Mei 2014 – May 2014 Abuja bom-aanval -19
5 Mei 2014 -Gamboru Ngala – 300
18 Mei 2014 – Kano – 4
20 Mei 2014 – Jos – 118
21 Mei 2014 – Chikongudo – 25
25 Mei 2014 – Yobe Staat,Borno Staat – 54
27 Mei 2014 – Borno Staat – 48
29 Mei 2014 – Verskeie dorpies – 35
Die wat beseer is, is nie by hierdie lys ingesluit nie

Bronne
http://en.wikipedia.org/wiki/2014_Chibok_kidnapping
http://en.wikipedia.org/wiki/Chibok
http://en.wikipedia.org/wiki/Timeline_of_Boko_Haram_attacks_in_Nigeria

Fotos
http://blogs.cfr.org/campbell/2014/05/01/kidnapped-girls-galvanize-nigerian-public/
http://mashable.com/2014/05/07/michelle-obama-nigeria-bring-back-our-girls/
http://voices.halabol.com/2014/05/05/bring-back-our-girls
http://www.cnn.com/2014/05/09/world/africa/nigeria-abducted-girls-questions/

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Wicus Luwes. Nigeriese Nommers”

  1. Syfers, Wicus, syfers. Nie “nommers” nie.

  2. Wicus Luwes :

    N-klank was maar poging tot alliterasie aangesien die blad oor digkuns gaan. Stem egter wel met saam. In Engels het ek gedink aan Nigeria in Numbers.

  3. Die verleiding van klank – ek ken dit! Aaklige anglisismes inkluis.

  4. Maria Snyman :

    Daniel, dalk wou Wicus intuïtief op Nigerië se nommer druk (vra om iets te doen) – of nog beter (leer ek nou in Prinsloo se Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (2012:320)) – op hulle nommer sit! Laasgenoemde beteken om iemand te berispe. Hy suggereer dalk dat daar ‘n hele paar dinge is wat aandag verdien … Om met ‘n masjiengeweer fluit te speel klink immers na ‘n aaklige idee…

  5. Leon Retief :

    Wicus, ek het ‘n ongemaklike vermoede dat fundamentalistiese Islam ‘n groter gevaar is as klimaatsverandering…

  6. Wicus Luwes :

    Ja, as elkeen eerder fokus op dinge wat hul saambind. Uyghur aanvalle is ook nogal skrikwekkend in Sjina.

  7. Leon Retief :

    Makliker gesê as gedaan Wicus. Newwermaaind mense wat kultureel nie homogeen is nie, as mens kyk na wit Afrikaners wat darem oor die algemeen politiek regsgesind en gereformeerd is – hulle sukkel maar steeds, soos al die jare en jare al, om gemeenskaplike raakpunte te vind. Trekkers en die wat in die Kaap agtergebly het, hensoppers en joiners, NGK, Doppers, Hervormde kerk, NP, HNP, Konserwatiewe party, noem dit maar. Verder is die respons van kultureel homogene mense op iemand wat die kudde verlaat, wel, mens kan maar net wys na Breyten en Beyers Naude, om net twee voorbeelde te noem. Ek self het dit ook aan my eie bas ondervind, weliswaar tot ‘n baie, baie mindere mate. Ek onthou nog goed die opskudding toe ek, ‘n goeie Afrikaanse boykie wat grootgeword het in die Vrystaatse dorpie Wepener, waar my pa eers diaken en toe ouderling was en my ma aan die ACVV en OVV behoort het (onthou enigeen nog daai organisasies?) gaan staan en trou met ‘n Engelssprekende Roomse gevaar – en nogal in die Sacred Heart Cathedral! Dit was asof ek ‘n ketter was – darem nie in my eie familie nie, maar ek weet my ouers het dit met moeite aanvaar. Okei, dit was in die 1970’s, maar hoeveel het dinge vandag in SA verander? Nie te veel nie na my mening. In die laat 1980’s het ‘n eintlik baie aangename Afrikaanse vrou in my teenwoordigheid gesê (sy het nie geweet ek is ‘n heiden nie) dat sy liewer sal wil hê dat haar kind met ‘n swart man trou as met ’n ateïs of agnostikus. Ons jongste dogter Lenore het in matriek ‘n swart kêrel gehad – ek meen, daai laaitie was so swart dat as jy hom snags iewers sou raakloop en hy smaail nie sal jy nie weet hy is daar nie. So gaan stap sy eendag hand aan hand met hom in die Tygervallei inkopiesentrum in Bellville (die Kaapse ekwivalent van Pretoria)– sy het nie van beter geweet nie, het maar gedink almal het soos sy grootgeword – en sy het die afkeurende gedrag van die ander mense opgelet. Trouens, iemand het my vrou Lesli gebel en gevra of sy weet wat Lenore doen. Lesli se antwoord “so what?” het die persoon nogal ontstel.
    My punt is: mense, of so lyk dit vir my, is meer geneig om verskille raak te sien as ooreenkomste. Helaas… East is east and west is west.
    Ek voel ek moet dit byvoeg: my heidenskap/Pastafarianisme is nie te wyte aan die respons van my tuisdorp teen my huwelik met Lesli nie – ek het in matriek al besluit godsdiens is na my mening ‘n kindersiekte. Ek is seker maar nie uitverkies nie, dankie tog . En Lesli het geweet sy trou met ‘n heiden en ek het geweet ek trou met ‘n katoliek.
    Hmmm… so van hensoppers gepraat, dit herhinner my aan ‘n baie mooi en waar storie. Ek was so drie of vier jaar besig met my mediese studies toe ons die oogheelkunde-module behandel. Een van my lektore was dr. Marais, ‘n baie ou omie wat reeds in die laat 1940’s as baie jong oogarts begin praktiseer het. Ek vergeet nou die dorpe wat ter sprake was, maak nie saak nie, sê maar Wepener en Dewetsdorp. So, toe dr. Marais pas in sy praktyk begin het kom ‘n stokhoring-ou omie hom sien, iemand wat as penkop in die Boere-oorlog baklei het. Die omie kom dr. Marais se spreekkamer binne, gaan staan in die deur. Lig sy kierie en wys dit na dr. Marais. Nou vertel my dr. Marais, vra die omie, van watter Marais’ is jy nou? Wepener se perdediewe of Dewetsdorp se hensoppers? En dit versinnebeeld vir my heelwat van waaroor mense verskil instede van om hul ooreenkomste raak te sien…

  •