Google is ʼn bietjie soos boomklim. Voetjie op hierdie tak, voetjie op daardie tak. Effe regs, effe hoër, dan weer effe links. Binnekort sit jy op ‘n onbeplande plek met ʼn uitsig. Meestal weet jy nie mooi hoe jy daar gekom het nie. Of hoe om weer af te klim nie. Dan maar laat los en spring. Quit. Escape. Soiets.
Daar is ook maar verskillende maniere van laat los. Soms besef mens mos so vreeslik konkreet dat jy jou mees Suidelike gedigte skryf in ʼn moontlik sterwende taal. Partykeer dink ek so. Die bekende wete dat ek onbelangrik is en niks het om te verloor nie, I may as well lose face, laat my, vreemd aan my aard, iets impulsief doen. Soms.
So beland ek laasmaand by Lawrence Ferlinghetti. A Coney Island of the mind. Nie dat ek dit nog nooit gelees het nie, maar intussen het ek mos baie ouer geword. En Ferlinghetti is 95, daar in San Francisco. Ek was nog nooit in San Francisco nie. Die kanse lyk ook maar skraal tot zero. Nogtans, in April, resoneer woorde uit die ou gedigte hard en duidelik.
Pity the nation whose people are sheep
And whose shepherds mislead them
Pity the nation whose leaders are liars
Whose sages are silence
(uit: Pity the Nation)
en ook:
And which side are you on
sang the birds
Oh which side are you on
in the Third World War
the war against the Third World?
(uit: Song of the Third World Birds)
Maar die gedig wat my toe ʼn vertalingsbevlieging gee, is “In Goya’s greatest scenes we seem to see”. Alhoewel ek die artikels oor vertaling hier op Versindaba (en elders) getrou volg, en ernstig bedink, is ek nie ‘n gesoute of sistematiese vertaler nie. Dit is nie eers iets waaraan ek my toewy nie – dis letterlik altyd bevliegings vir spesifieke gedigte. Dan vertaal ek blitsig en hersien stadig. So was dit met bogenoemde Goya-vers. Hoor hom terwyl ek in spitverkeer sit, laat dit insink, wonder, wonder oor nuanses en klanke, oor direktheid en oor interpretasie. Vertaal ek vry of streng direk? Waar grens dit te veel aan omdigting? (Tussendeur verskyn De Waal Venter se blog (https://versindaba.co.za/2014/06/02/de-waal-venter-vertaal-herskep/) en dit bevestig vir my sekere dinge wat ek dink (dankie, De Waal!). Ek onthou ook gedagtes en notas van Daniel Hugo en Henning Pieterse. Verder probeer ek luister wat die gedig fluister. Uiteindelik is daar ʼn weergawe wat begin bevredig, hoewel dit nie volmaak is nie.
Dis toé dat ek uit die boom val. Eers lees ek die (Afrikaanse) vertaling hardop en neem dit op met ʼn klein diktafoontjie. Toe stuur ek beide die teks en die klankgreep vir Lawrence Ferlinghetti by ‘n e-adres. Ek vertel hom ‘n klein bietjie van hoe ek waar te werk gegaan het, wat my idee was met bv “mal haantjie”. Hoe ek sy alliterasies probeer behou het, selfs tydens interpretasie. Hoekom “slagvere” aansluit by “cocks” en geweerhane. Hoekom slag ‘n geweldadige woord is.
Wat dink hy daarvan? Ek weet nie. Maar ek weet daar is ʼn Afrikaanse gedig/vertaling in City Lights Books. In San Francisco. (Al was ek nog nie daar nie, het ek darem ʼn T-shirt (glimlag). Hierso gekry http://www.citylights.com/ferlinghetti/ )
Hier is Ferlinghetti se oorspronklike vers:
In Goya’s greatest scenes we seem to see
In Goya’s greatest scenes we seem to see
the people of the world
exactly at the moment when
they first attained the title of
‘suffering humanity’
They writhe upon the page
in a veritable rage
of adversity
Heaped up
groaning with babies and bayonets
under cement skies
in an abstract landscape of blasted trees
bent statues bats wings and beaks
slippery gibbets
cadavers and carnivorous cocks
and all the final hollering monsters
of the
‘imagination of disaster’
they are so bloody real
it is as if they really still existed
And they do
Only the landscape is changed
They still are ranged along the roads
plagued by legionnaires
false windmills and demented roosters
They are the same people
only further from home
on freeways fifty lanes wide
on a concrete continent
spaced with bland billboards
illustrating imbecile illusions of happiness
The scene shows fewer tumbrils
but more strung-out citizens
in painted cars
and they have strange license plates
and engines
that devour America
(Lawrence Ferlinghetti)
So lyk my vertaling:
In Goya se grootste tonele sien ons skynbaar
In Goya se grootstetonele sien ons skynbaar
die mense van die wêreld
presies wanneer hulle vir die eerste keer
vir die titel ‘ lydende mensdom’
kwalifiseer
Hulle worstel op die bladsy
wanhopigverwoed
in onweerlegbare beproewing
Opgehoop
kreunend by babas en bajonette
onder betonhemele
in ʼn abstrakte landskap met gebarste bome
gebuigde beelde vlermuise vlerke en snawels
gladde galge
kadawers en slagvere
en die laaste gillende gedrogte
van die
‘verbeelding van rampspoed’
hulle is so vervloeks werklik
asof hulle regtig leef
En werklik hulle leef
Slegs die landskap het verander
Hulle swerf nog op die paaie
verpes deur vegters
gewaande windmeulens en mal haantjies
Dis dieselfde mense
net verder van die huis af
op breë vyftiglaan-snelweë
op ʼn sement kontinent
uitgemeet in afgesaagde advertensieborde
wat imbesiele illusies van geluk illustreer
Die toneel toon minder lykskarre
maar meer bevange burgers
in geverfde vuurwaens
en hulle het vreemde nommerplate
en enjins
wat Amerika verteer
Ek wonder nog steeds oor enkele woorde. Reël 19, byvoorbeeld. Moet ek sê: hulle is so verdomp werklik of is vervloeks goed genoeg? Is leggionnaires ridders of soldate of vegters, in die konteks van die gedig, die tydsverplasing en my taal? Het ek die balans behou tussen vryvertaling en nie te ver afwyk van die oorspronklike nie? Is werklik ʼn beter woord as eg? Ek dink nog daaroor.
Maar terwyl ek toe nou in die Google-boom rondklouter op Goya-takke, probeer ek sommer Andrei Voznesensky se gedig ook:
I am Goya
I am Goya
of the bare field, by the enemy’s beak gouged
till the craters of my eyes gape
I am grief
I am the tongue
of war, the embers of cities
on the snows of the year 1941
I am hunger
I am the gullet
of a woman hanged whose body like a bell
tolled over a blank square
I am Goya
O grapes of wrath!
I have hurled westward
the ashes of the uninvited guest!
and hammered stars into the unforgetting sky – like nails
I am Goya
(Andrei Voznesensky)
My vertaling:
Ek is Goya
Ek is Goya
van die verlate vlakte, deur vyandsnawels gepik
totdat my oogkaste oopkrater
Ek is smart
Ek is die tong
van oorlog, die sintels van stede
in 1941 se sneeu
Ek is hongersnood
Ek is die gorrelpyp
van ʼn gehangde vrou wie se lyk
beier soos ‘n klok oor die oop plein
Ek is Goya
O vrugte van vergelding!
Weswaarts werp ek
die ongenooide gas se as!
en kap sterre soos spykers in
die hemel se lang geheue
Ek is Goya
Ek sukkel nog met die vrou se lyk wat “beier” en “gehangde” voel ook nie heeltemal reg nie. Geen van die alternatiewe werk nog vir my nie.
Ek dink ek hou nogal van “vrugte van vergelding”
Daarna het ek my eie Goya gedig ook geskryf. Maar ek weet nog nie hoe ek daaroor voel nie. Daai vruggie sit nog aan die tak vas.
Inderdaad, Hilda, hy is/was een van die Beats. daar is lekker videojies en ander klankgrepe beskikbaar, waar Ferlinghetti voorlees ook. Ek dink jy sal geniet. Dankie ook vir die bevestiging van “oogkaste oopkrater”, ek is nou bly ek het dit so vertaal.
Dankie, Engela, ek is bly jy hou van “oogkaste oopkrater”, veral, want ek het baie lank nagedink oor die werkwoordfunksie daarso. Dankie vir die lees, ook.
Dankie, René! Ek gaan “wanhopigverwoed” aanneem. So mooi. Mal ook oor “oogkaste oopkrater”. Ek het nie geweet van Ferlinghetti nie. Ek sien hy was verantwoordelik vir die publikasie van Ginsberg se Howl.
Pragtige vertaalwerk, Rene – hou veral van “uitgemeet in afgesaagde advertensieborde….”, “totdat my oogkaste oopkrater”, en die sterre
wat soos “spykers in die hemel se lang geheue ” gekap word. Het ook
jou boomklim-beeld geniet! Dankie!
En hier breek jy vandag hierdie besondere dag vir my oop in gebarste bome – êRENS in vannag het ék geskryf: Ek is ‘n hemelling. Jou slotreëls dus vir my die klank van Neruda:
“en kap sterre soos spykers in
die hemel se lang geheue
Ek is Goya”
Subliem.