Ek het jou belowe
Vir Len S. Louw (1951 – 2013)
Met my laaste besoek was jy bitter.
Oor die lewe maar verál oor die dood.
Oor sommiges se stil vertrek,
ʼn verskietende ster bo Khorixas.
Maar dié soos jy moet ly, vir maande, selfs jare
aan die windkant van die Namib-duine wag.
En bang. Nie vir die dood of selfs die pyn,
maar om soos ʼn gemsbok in ʼn draadstrik
sonder waardigheid te gaan.
En ek het jou belowe …
Na ‘n oproep laat een Vrydagaand,
my gehaas, astraal langs jou bed kom staan.
Ooglede halfgestrykte seile, wange ingesonke,
baardstoppels nes wintergras in Damaraland,
lippe droog en gekraak soos die klei by Sossusvlei.
Ek het gegroet.
Jy, gewoon net ophou asemhaal.
*Len S. Louw het as digter in 2010 gedebuteer nadat hy reeds met ‘n
terminale toestand gediagnoseer was. Hy is oorlede op 26 Januarie 2013.