Die woud is stil – Maya Angelou (4-04-1928 – 28-05-2014)
I
In boeie gebore, trappel die kouvoël
op grafte van drome; sy lied verdoof
as die noot in sy krop verstik.
Met geloof ferm en ʼn wil ongekend,
kyk hy óp vir klank wat wyd en ver moet trek;
deur blareruising kom die tyding:
Wees onbevrees, jou vlerk is geheg en wydgespan,
geseënd sal jy wees met nagtegaalsang;
vrede, verdraagsaamheid, liefde, hierdie drie,
sal ʼn volk leer aan moedersknie.
Wys die kind die vetwurm by eerste lig,
leer die man hoe om ʼn vis te vang;
want aan jou, vróú, word harmonie toevertrou.
Jou lied sal wieg op die stert van die wind,
gedy, met strome langs gly, in riviere vertak,
draai waar oseane dein in die son se glimmering.
II
Wanneer ʼn groot boom val, sal sipresse buig,
jong lote sal met die grasse wuif;
mens staan omgeef van ‘n stilte, sereen,
geanker in die spoor wat jou voet uitgetrap het.
En waar jou songloed oor ons baai, pryk
jou naam teen die hemelboog uitgekerf.
Jy, draer van droom en hoop, het ons geleer:
ná elke nag breek daar ‘n nuwe dag
en bome sal vredebloeisels bot.
Mens, hef op jou stem
sing!
sing vry!
want ons wéét:
sy was hier,
en ons kan wees, die béste wees —
en bome sal vrede bot.
III
Wanneer groot bome¹ val – en die tromgeroffel
wegsterf oor die swart oseaan,
sal jou gees herrys
en ons sal in die stonde van ‘n oogknip sien
hoe hy jou hand by die grootklip vat:
die heelal word sprokkelster
– elke-spasie-magneties-flonkerend –
voor die wolke weer sluier trek.
Die rotse sal op ver heuwels bewe,
van Quno, Afrika, tot Missouri, VSA;
in elke uithoek van die planeet
en oor die see sal berusting heers.
Op die aandwind kom ʼn fluistering:
die klip is gekap —
die nagtegaal het gesing —
hul taak is gedaan.
Gedaan.
¹ Mandela & Angelou
