Die ontslape Poppemeester van donker woorde
Vir I.D. du Plessis
Die nag pronk met haar rooimaanhals,
wat stil in skerwe sak deur die teaterdak.
Onder op die verhoog, dans vorms sonder gees
op maat van ‘n sombere requiem.
Hier dans verskeurde sinne in sirkels, lankal nie meer volmaak,
terwyl daar bokant die gordyn, ‘n onheilspellende gestalte aan toutjies trek.
Die sinne val en buig en spook in ‘n geraamte van ‘n gedig. Toutjies breek,
die geraamte ruk uitmekaar en woorde val kletterend neer.
Ritmies dans bloedbevlekte woorde, masjienagtig, op
Rietfontein se verhoog in eer van hul afgestorwe Meester,
terwyl ‘n donker skaduwee oor en om die toneel
hang en buig soos verdroogde peerboomtakke in die wind.
Die koue en skril gil van ‘n nagwolf ego
deur die ewige en sombere middernag,
in die bloedgedoopte Leidam waar
die duister sag lê, wemelend en krullend opsoek na eienaar.
Stukkend kruip die woorde na die enkele graf;
stukkend kruip die woorde deur die swart grond
terug, na die afgestorwe Meester wat lê en wag,
met sy geraamtehand wat uitreik om hul te omhels.
Hier, waar hy nou rus.
Rus
in vrede
Poppemeester
