Slaweposboom
(Sideroxylon inerme* – Witmelkhout)
Vir D.J.O. : 1914 – 1985
Halfpad tussen Bartolo en Wolraad se strande,
Op Dirk der Duisende se Frans-se-kraal -se-erf
Koepel ʼn Melkhout hoeveel der jare oud?
Die broeis bantam kloek-soek op die werf
na los pitte in die sand.
Seekant se witperde hol,
Noordwes vandag, môre Sedoos se geneuk.
Danger Point-teen-die-hang
se vuurlig tol en tol
skuiwend oor duin, bamboes, makriel en alikreuk.
ʼn Klokboei iewers ruk lui-lui aan sy stang…
Perk-amen die wit waar
Dirk der Duisende –
onder stam-gewelf,
soos al die jare sy taks
uit kokers van vele reise –
berigte vir buitepos en grens bestem
soos bloedwei
finaal aflaat.
Binne wrongel,
buite weerloos
boom.
*
(*Sideroxylon is uit Grieks: sider + xylon = ‘yster’ + ‘hout’, die binnehout is baie hard;
inerme is Latyns vir ongewapen. Die boom is doringloos.)
