Joan Hambidge. Behind the view (Charl JF Cilliers)

Behind the view – Charl JF Cilliers

[2014, Malgas Publishers; Isbn 978 0 620 60894 7]

I

Kort op die hakke van Johann de Lange se Weerlig van die ongeloof en Hennie Aucamp se Skulp verskyn Charl JF Cilliers se bundel Behind the view, ‘n selfpublikasie. Ondertussen is daar ook die vertalings en herdigtings van Daniel Hugo van Omar Khayyam se Rubaiyat. Aldrie Afrikaanse bundels het by Protea verskyn.

AP Grové se Woord en wonder (Nasou, 1984, 128) betrek Opperman se siening oor hierdie digvorm. Opperman noem dit klein stukkies dinamiek van die gees. As kort gedig, voer hy verder aan, staan dit onder beheer van kritiese werksaamheid en as gevolg hiervan kry ons ‘n sentensieuse en epigrammatiese trekkie met ‘n spaarse gebruik van die woord. In wese, besluit hy, is die kwatryn eintlik waarneming en kommentaar.

Vir my is daar ‘n handvol – sowat 28 kwatryne – wat werklik uitstekend is. Die wat my persoonlik geval het, is veral gedigte wat handel oor die skryfproses.

Die vraag is – en ek het dit al vantevore gevra – waarom moet so ‘n uitstekende digter sy eie gedigte publiseer?

Dis ‘n pragtige bundel en dit is ‘n skande dat die Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde hom nie na waarde skat nie.

II

Daar bestaan vele handleidings oor die kwatryn se spesifieke aard. In The anatomy of poetry wat in 1953 by Routledge & Kegan Paul verskyn het, verwys Marjorie Boulton soos volg na hierdie digvorm:

“any metre with lines rhyming in sets of four. The possible rhyme schemes are obviously: abab, abcb, aaaa, abba, aaab, aaba.” (144)

Sy onderskei ook verder tussen die volgende soorte:

(a) “common measure”: hier het elke reël agt en ses sillabes met die rymskema abab of abcb. Coleridge se “The Ancient Mariner” is hiervan ‘n voorbeeld;

(b) “long measure”: hier vind ons agt sillabes in elke reël met die rymskema ababa of abcb. Verskeie ballades en Tennyson se “In Memoriam” is bekende voorbeelde;

(c) “short measure”: kwatryne met 6.6.8 en ses sillabes met die rymskema abab of abcb;

(d) “the ‘Omar Khayyam’-quatrain”: hier vind ons die jambiese pentameter met die rymskema aaba;

(e) “the ‘Gondibert'” oftewel ‘Elegiese’ stansa waarvan Gray se “Elegy” ‘n voorbeeld is.

Ottone M. Riccio in The Intimate Art of Writing Poetry, wat in 1980 by Prentice-Hall verskyn het, sien dit so: die verskil tussen die “hymnal stanza” en “envelope stanza” (66, 67). Hy wys ook op die gewildheid van die jambiese pentameter.

So het ek indertyd geskryf oor De Lange se kwatrynbundel:

Weerlig van die ongeloof word tereg opgedra aan die semantikus Henning Snyman wat met sy essays oor die digkuns (soos Teodoliet, Mirakel en muse) verhelderende bydraes gelewer het. Die eiesoortige werking van die digterlike beeld en die fyn balans tussen abstraksie en konkrete vergestalting met die uitwys van hoe litotes, satire en die metafoor o.a. funksioneer, bly standaardwerke in die letterkunde. Die bundel bevat ‘n kunswerk van Judith Mason: Die oog van die storm wat die titel goed verduidelik. (Op Litnet se nuusbrief destyds is die digterlike oog saam met die kunswerk geplaas.) Die digterlike beeld moet immers gesien kan word.

III

Dikwels lewer die gedigte in Behind the view kommentaar op die skryfproses en is dit meditatief in aanbod. Dit is ‘n moeilike vorm om te beheer, omdat elke woord op sy plek moet wees.

Die digter werk met ryme en halfryme. Hy gee ook aandag aan metrum en ritme. Die gedigte is selfrefleksief, selfs meditatief, oor die aard van die kwatryn.

Poetry

Poetry, as we all know,

can only change the status quo

inasmuch as words can hope to show

more deeply what our hearts already know. (79)

Where do longings go?

Where do longings go

when what was longed for grows

too faint: image without sound,

ache without a wound? (81)

Quatrain

I started writing this quatrain

and now only three lines remain –

the damn thing’s going down the drain

because I know the last rhyme is inane. (80)

Dit is net ‘n behendige digter wat so selfrefleksief kan speel met die vorm van die kwatryn. Opperman het eweneens in sy gedigte gespeel met die konvensies van vorm. Hoe dit jou inperk, maar terselfdertyd nuwe moontlikhede laat ontdek.

Wild fig

Is the quatrian to small

for the wild fig tree?

Will it grow so broad and tall

more words would be necessary? (45)

Uiteraard is dit dan wat dikwels in die gemoed van die leser gebeur. Die gedig mag klein in omvang wees, maar die interpretasie-moontlikhede is oneindig. Is hier ook ‘n toespeling op die wilde vy van die Bybel? Is daar ‘n verwysing na die onmoontlikheid om iets groots in ‘n klein gedig te verpak? Sou ‘n mens al die interpretasies wou aktiveer, sou die gedig nie meer ‘n kwatryn wil wees nie!

Die digter het kennis geneem van die moderne wêreld en sy bedreigings soos in hierdie gedig:

Modern sounds

Everything now is a sound-bite.

Rhythms have disappeared.

There’s little sense in a flash of light,

no symphony in a single chord.  (23)

Die digter is telkemale bewus van die ónmoontlikheid van besegging en dat woorde die digter in die steek mag laat:

Words

Words in which we live

in so many guises

trying so often unsuccessfully to give

tongue to something that surprises.  (22)

Behind the view is pragtig uitgegee – met ‘n blom op die voorblad.  Charl JF Cilliers is nie alleen ‘n uitstekende vertaler nie, maar ook ‘n digter om van kennis te neem. Oor die digter se Collected poems het Henning Snyman indertyd geskryf. Dit staan opgeteken op die agterblad: “Die eenvoud van die bundel kan misleidend wees, want hierdie eenvoud van woord en struktuur word gelaai met van die allermooiste metafisiese verse in die Suid-Afrikaanse letterkunde”. Hierdie wyse woorde is ook op die jongste bundel van toepassing.

Bestel van die digter: franban@mweb.co.za

(Hierdie resensie is voorgelees vir FineMusicRadio-  prof. Joan Hambidge)

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •