Joan Hambidge. Trompe-l’oeil
Trompe-l’oeil
Vir lank my oorgegee
aan die skyn van begrip:
die reikwydte in rykrym,
gebreekte sonnette,
kruppel kwatryne
tussen nag en dag bedryf.
Genesing en heling tydelik gevind
in ‘n caché oor die onvermoë
om te verstaan wáárom
soveel afleggings, teregstellings?
Lacan in ‘n 1964-seminaar sien
die stryd tussen Zeuxis en Parrhasius
as ‘n kwadratuur van die omtrek:
“van vierkant, driehoek, sirkel,
in enkele stippelpunt gevang” …
As alles bloot illusie, leuen of maaksel
blyk te wees, wáárom passer
elke fout en belemmering
klokslag vóór sonsopkoms
in voortslepende vermindering
en helder herinnering?
Is dit waar dat ons geheimenisse
bó die oppervlak, bodemdiep verdring?
Nou verf ek soos Parrhasius
‘n gordyn waarmee ek jou, leser,
‘n latter day-Zeuxis fnuik:
smullend aan dié geverfde korrels.
© Joan Hambidge / 2014