Seamus Heaney – vertaal in Afrikaans deur Charl-Pierre Naudé
Spit
Tussen my wysvinger en my duim
sit die bonkige pen, knus soos ʼn geweer.
Van benede my venster kom die skoon rasperklank
van ʼn graaf wat insak in sagte gruisgrond:
my pa, wat spit. Ek kyk af na onder
waar sy bolyf oor die blombedding span terwyl
hy laag buig en twintig jaar vroeër orentkom,
ritmies aan die buk-buk in die aartappelgroewe
waar hy destyds aan die spit was.
Die ruwe stewel het op die nek van die graaf gedruk
en die skag is ferm met die binneknie beheer.
Hy’t die ryper loof uitgespit, die helder rand
diep ingegraaf om nuwe aartappels te strooi
vir ons om te pluk en die koel hardheid daarvan te voel.
Maggies, my pa kon ʼn graaf hanteer.
Soos sy eie pa voor hom.
My oupa het groter stroke turf in ʼn dag bewerk
as enige ou op Toner se modderige werf.
Op ʼn keer het ek melk vir hom gebring
in ʼn bottel wat haastig met papier toegekurk was.
Hy’t regop gestaan om dit te drink,
en toe, onverwyld, sy netjiese kap- en sny-
werk in die grond hervat terwyl hy kluite
oor sy skouer gooi, en dieper en dieper
afbuk vir die beste turf. Aan’t grawe.
Die koue reuk van aartappelskimmel, die smak
en suig van die grondpappery, en die gelate
afsny van lewende wortels, dit maak my geheue wakker.
Maar geen graaf besit ék
om sulke manne te kan navolg nie.
Tussen my wysvinger en my duim
sit die bonkige pen.
Daarmee sal ek spit.
Vertaling: Charl-Pierre Naudé
*
Dood van ʼn natuurvennoot
Heeljaar lank het die vlasdam in die hart
van die hoewe geëtter; swaar koppe groen vlas
was reeds vrot daar; afgetrek deur reusagtige klodders.
En daagliks het die strawwe son dit laat verwelk.
Borreltjies het delikaat geskuim terwyl brommers
ʼn sterk gaas van klank om die stank weef.
Daar was naaldekokers, en skoenlappers met kolle,
maar die beste van alles was die lou, dik slym
paddakuit wat soos geklonte water
in die skadu van die oewers gegroei het.
Elke lente by die huis het ek konfytflesse vol
van die gestippelde kwab op vensterbanke gerankskik
en op rakke by die skool, om dop te hou en gewag
vir die vetter wordende spikkels om oop te sweer
tot ratse paddavissies wat rondswem. Juffrou Walls
het vertel hoe die pappapadda ʼn brulpadda
heet en hoe hy kwaak, hoe die mammapadda
honderde eiertjies lê en dié was mos
die paddakuit. Jy kon weervoorspellings maak
deur na paddas te kyk, wat geel in die son
en bruin in die reën is.
En een warm dag toe die veld geil van die koeimis
in die gras geruik het, besluit die paddas
om die vlasdam te bestorm; deur die heg het ek
geduik om ʼn gekwaak te hoor soos nooit
tevore nie. Die lug was ruig van die baskoor.
Groot boepenspaddas het die lengte van die dam
afgekleim en was oorgehaal vir aksie op hul kluite;
die los nekvelle het gepuls soos bolseile.
Sommiges het gespring: die geflap-en-plons
was obsene dreigemente. Ander
het soos modderhandgrenate gereed gesit
en gepoep met hul stomp koppe.
Ek was naar, en moes omdraai en hardloop. Die groot
slymkonings was daar vergader vir wraak
en ek het geweet dat sou ek my hand
in die water doop, die kuit daarna sal gryp.
vertaling: Charl-Pierre Naudé
*
