Buiteblad
Vir Ted Hughes
Rooi in die middelstrook. ’n Digte band
papawers. Haar blomme. Haar kleur.
Haar oorwoekerende energie. Die mure,
die harte en blomme op meubels in háár rooi,
haar rokke, haar lippe, het jou wit versmoor.
Jy wou haar graag onthou in blou. Syig
die kleur van haar swangerskap. Blou
in die oog van die orkaan. Vir ’n oomblik
kon jy hoop sereniteit is moontlik.
Vroeg reeds het jy vermoed
dat die hare van vroue ’n vallende
hemel van marmer kan stuit.
Rooi blomme in ’n blou raam ingebed,
is wat die wanhoop aan liefde oor het.